Ds. Angus Stewart
Wat dink jy van die kerk van Christus? “Niks om oor opgewonde te raak nie.” “Ek weet dis verkeerd maar om die waarheid te sê is dit maar ‘n bykomstigheid in my lewe.” “Ek dink ek het God in Jesus Christus lief, maar ek het maar min entoesiasme vir sy kerk.”
Psalm 87 is deel van die Godgegewe Skrif wat in besonder daarop gemik is om ons in dié verband te help. Dit sit die heerlikheid van Jehovah se kerk uiteen. Waarin bestaan dié heerlikheid? Hoe moet dié heerlikheid verstaan word? Psalm 87 roep ons op om God in sy houding teenoor sy kerk en die gelowiges van alle eeue se hoogskatting van haar, na te volg: “Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God!” (3) Jy en ek moet God se gedagtes oor sy geliefde bruidskerk Hom agterna dink. Uit ons harte moet ons dit wat God oor sy kerk sê, ook sê.
God se beoordeling van sy kerk is nie soos dié van die goddelose wêreld nie. Die Samaritane het gesê, “dat dié stad van ouds af hom teen konings versit, en dat rebellie en oproer daarin verwek is” (Esra 4:19). Die Edomiete het oor die stad van God uitgeroep, “Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!” (Psalm 137:7). Die vals kerk van Rome het die kerk van Christus, na God se Woord hervorm, genoem “n versameling ketters”.
Maar luister hoe hoog ag God sy kerk in sy Woord! “Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning!” (48:2). “Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer … “(132:13). Die kerk is die appel van God se oog, die “pilaar en grondslag van die waarheid” (I Tim. 3:15).
Die mense van God sê voortreflike dinge van die kerk. Austinus het sy beroemde boek, Die Stad van God, na Psalm 87:7 en soortgelyke verse genoem. Johannes Calvyn het die kerk as koninkryk, beskryf as die beginsel en verhewe openbaring van die bewyse van God se wonderbare mag, wysheid en geregtigheid. Volgens Calvyn kan die kerk nie na waarde geskat word sonder die maatstaf van God se Woord nie en is ons nie waardig as haar lede nie, tensy ons die kerk die hoogste ag van al die voorwerpe van ons besorgdheid. Spurgeon het geskryf dat, welke heerlike dinge die heiliges in hulle lofsprake ook al uiter, dit nie die profesieë van die profete, die liedere van die engele of die openbarings deur God self, kan oortref nie. Gelukkig is die tonge wat leer om so voortreflik besig te wees.
Om, as God se kinders, heerlike dinge van die kerk te kan sê, word ons haar heerlikheid geleer in die Skrif, wat die Psalms insluit (bv. Ps. 46; 48; 87; 122; 137). As deel van die Woord, moet die bedienaars daarvan hierdie Psalms op God’s bevel preek (II Tim. 4:2). Ook gee Hy opdrag dat ons dit sal sing (Ps. 95:2; Kol. 3:16). Die titel van Psalm 87 is ” ‘n Psalm, ‘n Lied.”
In die eerste vers van Psalm 87 staan dat God se “grondvesting op heilige berge” is. God het Jerusalem op die heilige berge gegrondves. Dit is een van die “heerlike dinge” wat oor God se kerk gesê word (3).
Jerusalem is geleë op ‘n bergreeks wat noord-suid loop, parallel met die ooskus van die Middelandse See. Meer presies is Jerusalem op vier berghoogtes geleë: Sion, Moria, Scopus en Ophel. As stadsvesting is Jerusalem hooggeleë. Dit is nie een van die wêreld se hoogste pieke nie – ‘n te hoë (en koue) ligging sou nie geskik wees vir ‘n hoofstad en pelgrimstogte nie – en selfs Hebron na die suide is hoër, maar afgesien van die suidelike toegangsweg moet ‘n mens klim om by Jerusalem te kom. Dit word veral duidelik in die pelgrimspsalms (Ps. 120-134). “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?” (121:1). “Jerusalem wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek … ” (122:3-4). As vesting op ‘n berg kan Jerusalem goed verdedig word. Die vyand moet opklim om dit te bereik – uitputtend! Dit is ook moeilik om krygstuig en voorraad op te dra. Die hoë ligging van Israel se hoofstad was haar beskerming: “Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid” (125:2). Jerusalem se mure is ook op die heuwels gebou. Net soos dit moeiliker is om ‘n hoë vesting aan te val, so is dit makliker om die vyand vanuit die hoë vesting af te weer. “Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings; let op sy skanse, wandel deur sy paleise, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel … ” (48:12-13).
As stad op die berge gegrondves is Jerusalem standvastig, vas, onwankelbaar. Berge is die beeld van onwankelbaarheid (46:2), in besonder dié van Jerusalem: “Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid” (125:1).
Die hoë berge is
net soos ‘n vaste skans
rondom Jerusalem:
geen vyand het daar kans.
So is die HEER rondom
Sy volk in ewigheid –
‘n berg wat vas bly staan
In dag van storm en stryd.
[Ps. 125:2,3 berymd]
In die Nuwe Testamentiese dae van die een, heilige apostoliese kerk van Jesus Christus, wat bestaan uit gelowige Jode en heidene, is daar by God nie vir die aardse stad Jerusalem groter liefde of guns as vir Dallas, Delhi, Dublin of Dakar nie. Jerusalem is in 70 n.C. deur die Romeine oorrompel, want die kerk het haar Joodse luiers ontgroei en katoliek, algemeen of universeel, geword. Die uur waarvan Jesus gepraat het, het gekom en “dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid … ” (Joh. 4:23) en die aardse berge van Jerusalem en Gerisim hulle betekenis verloor (20-21; vgl. Mal. 1:11).
Volgende keer kyk ons, as die Here wil, waarna die heerlike verhewendheid, weerbaarheid en onwankelbare grondves van Jerusalem se fondament in die dae van die Nuwe Testament verwys, die dae van die koninkryk van God in Jesus Christus.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)