Ds. Angus Stewart
Psalm 143, geskryf deur Dawid, soos die inleiding sê, is ‘n psalm oorvervolging. Daar word drie maal na Dawid se vyand (3) of of vyande (9, 12) verwys. Daar word nie vir ons gesê wie hulle is nie. Misken Saul en sy leër, of Dawid se opstandige seun Absolom en sy manne? Die vervolging was kwaai en dit was besig om Dawid onder te kry: “Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is. En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste” (3-4).
Psalm 143 is nie net ‘n vervolgingspsalm nie, dit is ook ‘n boetpsalm.Tradisioneel is daar sewe boetpsalms, wat almal handel oor bekering en sondebelydenis (Ps. 6; 32; 38; 51; 102; 130; en 143). In Psalm 143, die laaste van die boetpsalms, is vers 2 van besondere belang in die verband: “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” Dawid weet van homself, sy aard, lewe en weë: “Op geen wyse kan ek uit myself staande bly as God my in sy heiligheid en regverdigheid deurvors nie!” Psalm 143:2 is ook waar van alle gevalle seuns en dogters van Adam, ons inkluis, “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie” (Rom. 3:20).
Daar is ‘n verband tussen Psalm 143 as vervolgingspsalm en as ‘n boetpsalm. Dawid bely sy skuld (2) “want” die vyand vervolg hom (3). Dawid besef dat een van die redes waarom die vyande hom vervolg, is dat God hom vir sy sonde bestraf. As sy vyande met Hom kan fout vind, hoeveel te meer nie God nie? Daarom bid hy: “…gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (2).
Dit is geen verassing dat Psalm 143 as ‘n psalm in vervolging en boetpsalm ook ‘n baie persoonlike psalm is nie. Telkens praat Dawid in die psalm van “ek’ en “my”. Hy verwys in Psalm 143 nie na homself as deel van ‘n groep (“ons”) nie. Sewe maal praat Dawid van sy “siel” (3, 6, 8, 11, 12) of sy “gees”, voorafgegaan deur die voornaamwoord “my”. Ander uitdrukkings wat Dawid gebruik is “my lewe”, “my hart” en “my hande”.
In die fokuspunt van hierdie psalm in vervolging, hierdie boetpsalm, hierdie baie persoonlike psalm, lees ons van God se goeie Gees, die derde Persoon van die heilige Drie-eenheid (10). Hierin is vir ons groot lering en troos te midde van ons eie moeite en beproewinge. Daar is iets baie kosbaar te leer oor die Trooster wat die Here Jesus gestuur het om by ons te wees, en oor sy blywende teenwoordigheid in ons.
Psalm 143:10 bevestig dat “u Gees goed is”. Dit verwys nie na Dawid se gees nie, hy sê nie “my gees is goed” nie. Die Psalmis praat van God se Gees, die Gees wat besonders aan God behoort. God se Gees is goddelik, nie ‘n skepsel nie.
Wanneer Dawid sê dat God se Gees goed is, verklaar hy dat God se Gees alleen goed is (vgl. Matt. 19:17). Soos die ander twee persone in die Drie-eenehid, is die Heilige Gees die verpersoonliking van God se heerlike volmaaktheid, want Hy is ewig en onveranderlik in sy waarheid, trou, liefde, heiligheid, genade en geregtigheid. “Wat glo jy van die Heilige Gees?” vra die Heidelbergse Kategismus. Die antwoord begin met “Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God … ” (V. & A. 53). Van die Heilige Gees sê artikel 11 van die Nederlandse Geloofsbelydenis “dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is.” In die Psalms en met mekaar verbandhoudende Skrifgedeeltes, word volkomenheid en werk op verskeie wyses aan die Heilige Gees toegeskryf. Dawid skryf van die goddelike en volkome alteenwoordigheid van die Gees. Psalm 104:30 bely die werk van die Gees met betrekking tot die geskape wêreld, want die Gees vernuwe plant en dier deur sy voorsienigheid in die seisoene. So was dit ook die Gees wat aan die begin van die wêreld die skepping vervolmaak het (Gen. 1:2). Die Heilige Gees het die hele Skrif, insluitend die Psalms, geïnspireer. Dawid, “die lieflike in die sange van Israel [spreek]: Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong” (2 Sam. 23:1-2). Die Gees werk ook ons saligheid, soos wat Dawid ons in sy grootste boetpsalm leer: “Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees” (Ps. 51:12). Die Gees, wat so oorvloedig aan die belydende heiliges gegee word, bring vreugde, die vreugde van God se verlossing.
Welke sy van die goddelike Gees en sy werk word in Psalm 143, en in besonder in vers 10 bedoel? Dit is nie sy alteenwoordigheid (Ps. 139:7) of die werk van sy voorsienigheid oor plant en dier (Ps. 140:30) of sy geïnspireerde Skrif (2 Sam. 23:1-2) nie, hoewel ons Psalm natuurlik ook geïnspireer is. Psalm 143: 10 handel met ons saligheid, die saligheid wat die deel is van die kind van God, in antwoord op sy gebede en die belydenis van sy geloof. Dit is so, want Psalm 51 en Psalm 143 is albei boetpsalms, deur Dawid geskrywe. Die Nuwe Testamentiese gelowige kan dit verstaan en vir hom toeëien, want die Heilige Gees “is … ook aan my gegee sodat Hy my deur ‘n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry, my troos en ewig by my bly” (Heidelbergse Kategismus A. 53). Die Gees troos ons, sê Psalm 143:10, deur ons te leer en te lei. Daaroor, DV, ‘n volgende keer meer.
(Vertaal deurNic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)