Ds. Angus Stewart
Te midde van sy vervolgings skryf Dawid Psalm 143, ‘n baie persoonlike, boetvaardige psalm. In vers 10 bid hy “Leer my om u welbehae te doen.”
In die verband beteken dit eerstens, “leer my om u welbehae te doen” in baie moeilike omstandighede. Dawid word deur sy vyande, waarskynlik Saul of Absolom met hulle manskappe, vervolg. Hy is maar ‘n treetjie van die dood, “want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond” (3). Ons weet dis moeilik om God se wil te doen in gevaarlike, spanningsvolle omstandighede. Hoeveel te meer so met Dawid wat baie meer gewelddadig aangeval is as wat die meeste van ons word!
In die tweede plek beteken Dawid se gebed, “leer my om u welbehae te doen” selfs wanneer ek tot die uiterste bedruk en gekwel is. Dawid praat van sy lewe in duisternis “soos hulle wat lankal dood is” (3). Het u al ooit so gevoel? Hy “versmag”, hy is gebroke, verbrysel, verlate, sonder troos of moed (4). Hy is geestelik dors (6) en sy gees beswyk (7): “Ek kan dit nie meer verduur nie! Ek is in die versoeking om op te gee en te sterwe!” Daarom roep hy uit, “verhoor my tog gou!” (7). “Dit is so lank sedert ek die barmhartighede van u verbond kon smaak!” “Laat my u goedertierenheid in die môre hoor” (8). Dit is so moeilik om God se wil te doen wanneer duisternis ons oorval, ons beangs en terneergedruk voel, na aan die dood en ver van God. Daarom bid Dawid, “leer my om u welbehae te doen” (10).
Derdens beteken sy smeking, “leer my om u welbehae te doen” selfs as ek deur die las van my skuld gekwel word: “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (2). Dawid ken sy eie verdorwenheid, tog het hy nie opgegee nie!
Let daarop hoe prakties hierdie gebed is. “Leer my om u welbehae te doen” is nie hier ‘n saak van diepsinnige teologiese geleerdheid nie, maar van diep, praktiese gehoorsaamheid. Dawid voel die noodsaak aan van ‘n hernude, versterkte wil, sodat hy God se gebooie kan gehoorsaam, ten spyte van sy angs in vervolging, ten spyte van sy dor, bedrukte en dooie gemoed, ten spyte van die oorweldigende bewussyn van sy verskriklike sondigheid. “Leer my om u welbehae te doen!” is sy uitroep.
Die woord “welbehae” wat hier gebruik word is vol betekenis (10). Dit omvat die gedagte van genoeë, vreugde, goedkeuring. “Leer my om u welbehae te doen sodat ek deur u gebooie te gehoorsaam u genoeë sal doen en bewus kan wees van u goedkeuring.” Is dit nie aangrypend nie? Dawid is vervolg en beangs, hy voel verlate, geteister deur skuld en byna nie in staat om langer uit te hou nie. En wat vra hy? “Leer my om u wil te doen en u te behaag!” Hy is waarlik die man na God se hart (1 Sam. 13:14). Wat ‘n voorbeeld vir ons!
Dawid rugsteun sy gebed met dié rede: “Want u is my God” (Ps. 143:10). Hy doen ‘n beroep op die verbond: “Ek is u knegvriend en u is my genadige Here”. In wese sê Dawid, “Dit is waarlik u belofte, o Here, dat u my sal leer en versterk om u wil te doen en my in staat te stel om u te dien en eer, want ek is u verbondskind”. God sal gewis sulke gebede verhoor! So moet ons dan bid, veral in ons nood!
So kom ons dan weer by die Heilige Gees: “Leer my om u welbehae te doen … laat u goeie Gees my lei.” Hierdie verwysing na die Heilige Gees is nie sonder verband met die voorafgaande nie. O nee! Dawid ken uit eie ervaring die noodsaaklikheid van die Gees om hom te inspireer om die Skrif te skrywe (2 Sam 23:1-2) en in besonder om aan hom troos en vreugde te bring (Ps. 51:12). “Ek het God se Gees nodig” – roep Dawid – “want Hy is goed, volmaak in liefde, geregtigheid, waarheid en trou.”
Dawid noem die Gees spesifiek omdat Hy die Persoon in die Heilige Drie-eenheid is met die amp om ons in die diepste kamers van ons hart aan te raak en te heel. In Hebreeus word dieselfde woord gebruik vir God se Gees (Ps. 143:10) as vir Dawid se gees (4, 7) wat nou verband hou met sy “siel” (6, 8, 11) en sy “hart” (4). God se goeie Gees bedien die Goddelike seën, troos en krag aan Dawid se vervolgde siel (3), sy versmagtende gees (4), sy verskrikte hart (4) en sy dorstige, benoude siel (6, 11). Dit is wat ons nodig het, geliefdes: dat God se Heilige Gees óns gees, óns siel en óns hart aanraak en vertroos, deur met die evangelie Jesus Christus die Gekruisigde na ons te bring en ons daardeur te verseker van die vergewing van sondes, geregtigheid en God se vaderlike sorg. Ons, Nuwe Testamentiese gelowiges, ken God se goeie Gees van Psalm 143:10 as die Gees van Christus, die ander Trooster wat Hy uitstort in sy kerk.
Dawid bid voorts, “lei my in ‘n gelyk land” (10).i Die verband met die ander gedeeltes van Psalm 143:10 moet goed verstaan word: Jehovah is ons Verbondsgod wat ons, deur sy goeie Gees in ons, leer om sy wil te doen sodat Hy ons die gelyk land inlei. Die gelyk land is hier die aardse Kanaӓn wat die hemelse Kanaӓn tipeer, die nuwe hemel en die nuwe aarde, die verheerlikte kosmos (Rom. 4:13; Heb. 11:9-16). Die vervolgingstog waarvan Psalm 143 praat, is waarskynlik een van dié wat Dawid fisies uit die beloofde land verdryf het en hom só verhoed het om Israel se heilige samekomste op die sentrale aanbiddingsplek mee te maak.
God lei die gelowige al hoe meer bewustelik die gelyk land binne, wanneer Hy ons, deur sy genade, in staat stel om in opregtheid na sy wil te wandel. Die Goddelike leiding in ons teks gebeur nie deur mistieke instellings nie, maar deur die Heilige Skrif, sodat ons sy gebooie kan hou. Net die Heilige Gees kan dit doen deur ons wil te vernuwe om God se Woord te gehoorsaam. Só word die gelowige in staat gestel om sy hemelse Vader te verheerlik deur dankbare gehoorsaamheid aan die tien gebooie, en só die broeders lief te hê en die kerk en koninkryk van Christus te dien – dit alles deur die krag van God se goeie Gees!
i Die Hebreeuse uitdrukking “mı̂yshôr mı̂yshôr” wat in die AOV met “gelyk” vertaal is, het ook die betekenis van “geregtigheid” en is dan ook in die KJV, wat deur Ds. Stewart gebruik word, só vertaal in: “land of uprightness” – N. G.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)