Ds. Angus Stewart
In Lukas 14:26 leer die Here Jesus dat ons elkeen “ons eie lewe” moet “haat.” Wat beteken dit?
In die lig van kontemporêre taalgebruik moet eers gesê word wat dit nie beteken om jou eie lewe te haat nie. Dit vereis nie en moedig ook nie die volgende taal houding aan nie: “Ek haat hoe ek lyk – my hare, my gesig, my lyf!” “Ek haat my klerekas; ek het niks om aan te trek nie!” “Ek haat dit om op skool onpopulêr te wees; niemand hou van my nie; ek het nie vriende nie!” “Ek haat dit sonder ’n vriend of vriendin; niemand wil my hê nie!”
Ander kla, “My huwelik is nie reg nie. Ek is vasgevang daarin. Ek wens ek kon hom [of haar] los!” “My kinders kry my onder!” “My huis is ’n krot. Wie by sy volle verstand sou hier wil bly!” “Ek haat my werk; ek wil nie hier sit en dit vir die res van my lewe doen nie!” of “Ek haat dit om sonder werk te sit!”
Ander haat hulle swak gesondheid, hulle gebreke of hulle ouderdom.
Treurig genoeg is daar baie mense wat hulle plek in die wêreld haat. Hulle kla dat hulle nie geld het nie, geen toekoms het nie, niks het om na uit te sien nie, geen vreugde of vrede nie.
Dit is nie waarna ons Here verwys het toe Hy gesê het ons moet ons eie lewe haat nie. Wat ek hierbo beskryf het, is die selfbejammering waarin ons in ons lewe so maklik kan beland wanneer ons dink dat dinge teen ons is en, in stryd met Romeine 8:31, ons oë afneem van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, die God van alle genade.
Dit is baie gevaarlik, geliefde, want jy is besig om van geloof in die Drie-enige God en die grootheid van jou verlossing in die kruis van Christus weg te beweeg. Jy vergeet ook van ander mense en jou roeping teenoor hulle. Jy gee jou oor aan selfbejammering. Voortdurende bekommernis oor jouself en jou probleme lei vinnig daartoe dat jy heeltemal in jouself opgaan.
Dit is moeilik, indien nie onmoontlik nie, om te dink of te sê, “Ek haat my werk, ek haat my huwelik, ek haat hoe ek lyk, ek haat alles!’ sonder om God te blameer. Hy is mos die soewereine Heer oor alle dinge. Hy getuig dat “vir hulle wat God lief het, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28). Die sondige “haat” wat hierbo beskryf is egter ‘n hewige protes: “Nee, hulle doen nie! Ten minste nie vir my nie!” Maar dink wat jy sê! Jy weerspreek die heilige Woord van God!
Ek het spesiaal verduidelik wat om jou “eie lewe” te haat nie beteken nie, want om jou eie lewe soos hier bo gestel is, te haat, is kenmerkend van hulle wat aan depressie ly. Om jou lewe in hierdie sin te haat, kan tot selfmoordgedagtes lei. Want as jy A, B, C ens. haat – dit wil sê as jy jou “lewe” haat – waarom sou jy wou voortgaan om te lewe? Mense wat in hierdie gedagtes vasgevang is, begin wonder, “Waarom sou ek myself nie om die lewe bring nie?” Hierdie hele manier van dink is vleeslik, is nie van die Heilige Gees nie. Dit is wêreldse wanhoop, nie geloof in die Woord van God nie.
Wat is dit dan om jou eie lewe te haat? Om jou eie lewe te haat beteken om jou eie sondigheid en sonde te haat. Elke dissipel van Jesus Christus moet, en haat inderdaad, sy of haar oue mens van sonde, die ou natuur. Paulus klaag in Romeine 7, “ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie” (18) en “wat ek haat, dit doen ek” (15)! Christus se opdrag om jou lewe te haat sluit dus in om die oue mens, die bose bron van al jou bose gedagtes en luste en woorde en dade, en jou sondige werke te haat. God haat hulle, en jy ook!
God se kinders haat hulself as iemand wat sondig is en sonde doen. Job het bely, “Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (Job 42:6). Jesaja het uitgeroep, “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (Jesaja 6:5).
Ware Christelike dissipels haat ook hulle eiegeregtigheid. Die apostel Paulus verduidelik: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Filippense 3:7-8). Ons verafsku hierdie dinge want hulle kan ons van ons regverdiging in, en gemeenskap met, die Here Jesus beroof.
Hulle wat hulle Saligmaker volg deur hulle eie lewe te haat, verafsku en verwerp die dinge wat hulle daarvan terughou om Hom van harte te dien. As jy nie die gebruik van jou televisie kan beheer nie (en dit is baie moontlik) of as jou kinders na sondige DVD’s kyk of na goddelose musiek luister, onthou dat die plaaslike owerheid jou vullis elke week kom verwyder. Gooi dier rommel van jou af weg, want Jesus Christus is ook Here van jou vermaak.
Die vleesgeworde Seun van God gee ons die opdrag, “Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?” (Matthéüs 6:25). Matthéüs 6:19-34, in die Bergpredikasie, verduidelik meer volledig die dinge wat jou “eie lewe” in Lukas 14:26 insluit.
Die koninkryk van God neem die eerste plek voor voedsel en drank, kos en skuiling. By sy eerste versoeking is Christus deur die Satan aangepor om klippe in brode te verander. Sy gepaste reaksie was: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). By ‘n ander geleentheid het die Here gesê, “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Lukas 9:58).
As jy dan gekonfronteer word met óf hongersnood óf om Christus te verloën, of om jou huis te verloor of afvallig te word, hou vas aan die Verlosser en laat dié dinge gaan, want dissipelskap is die roeping om jou eie lewe en die dinge van die lewe te haat.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)