Ds. Angus Stewart
Kom ek gee drie Bybelse voorbeelde van mense wat hulle eie lewe gehaat het (Lukas 14:26). Eerstens is daar Saggéüs (Lukas 19:1-10). Hy het die helfte van sy goed aan die armes gegee en belowe om almal wat hy as tollenaar afgepers het te vergoed, selfs, sê hy, “as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (vs. 8). Saggéüs is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat sy eie lewe wat om geld gedraai het, gehaat het, want Christus het geleer: “Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matthéüs 6:24).
Tweedens dink ons aan die man in Johannes 9, wat van sy geboorte af blind was. Jesus het hom genees en gered. Toe hy weier om Jesus te verloën, is hy uit die sinagoge geban (vs. 34, 35). Hy was ‘n man wat, in die Bybelse sin, sy eie lewe gehaat het.
‘n Derde voorbeeld is Jason van Thessalonika, in Handelinge 17. Hy het Paulus en Silas in sy huis ontvang (vs. 7) en is daarvoor na die stadsowerhede gesleep (vs. 6-8) en gedwing om losgeld te betaal voor hy vrygelaat is (vs. 9).
Wat sou mense, in jou familie, in jou kerk, dink as jy Christus en sy Woord in jou lewe volg? As jy aan die Redder meer getrou sou wees? Baie sal nie daarvan hou nie. Hulle sal jou uitskel as ‘n ekstremis en ‘n verkrampte dweper. Vrees vir mense, om populariteit in te boet, span ‘n strik (Spreuke 29:25).
Wat sal gebeur wanneer die einde nader, wanneer, soos Jesus sê, “julle deur die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (Matthéüs 24:9)? Hoe sal jy of ek daarteen opgewasse wees om ter wille van Christus in die tronk te wees? Die apostel Johannes skryf: “En hulle het hom [die duiwel] oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie” (Openbaring 12:11). Sommige van die kinders van God is fisies gemartel; in wese is martelaarskap die deel van alle Christene.
Ons ken iets hiervan, byvoorbeeld op die gebied van opvoeding en by die werk. Ons word maklik ‘gemerk’ oor ons Bybelse beskouing op skool of op universiteit. Ons word uitgesluit van werksgeleenthede, omdat ons gemeenskap en werkgewers die vierde gebod minag. Ons Christelike standpunt mag daartoe lei dat ons nie verhoging kry nie.
Om jou eie lewe te haat, is nie net ‘n voorstel of ‘n aanbeveling nie, dit is ‘n vereiste. “As iemand na My toe kom en hy haat nie … selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26). So iemand kan die dissipel wees van ‘n mens, ‘n valse Christus of ‘n afvallige kerk, maar Christus sê hykan nie sý dissipel wees nie.
Om jou eie lewe te haat is nie net vir ampsdraers, of ouer Christene of ywerige gemeentelede nie. Dit is noodsaaklik vir alle gelowiges. Dit is ook nodig dat hulle wat nie bekeer is nie, dit sal verstaan, want hulle moet die koste bereken (vs. 28).
Die opdrag van Christus om jou eie lewe te haat, moet nagekom word, nie net in jou eie kerk nie, maar in alle kerke. ‘n Kerk wat nie die waarheid dat sy lidmate hulle eie lewe moet haat, leer en onderhou nie, is op pad om ‘n valse kerk te word. Dit is inderdaad reeds besig om ‘n valse kerk te word.
Dit is immers nie die blote woord van ‘n predikant nie. Dit is die woord van Jesus Christus self: “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26). Hy het dit boonop nie aan ‘n paar uitgekose gelowiges gefluister nie: Hy het dit aan “groot menigtes” verkondig, na wie Hy “omgedraai” het om hierdie woorde, van aangesig tot aangesig, te spreek.
Hierdie vereiste vir dissipelskap is ook nie arbitrêr nie. Daar is ‘n oortuigende rasionaal waarom iemand sy eie lewe moet haat om ‘n dissipel van Christus te wees. Hier is drie eenvoudige argumente. Eerstens is ons redding, redding van die sonde: erfsonde en werklike sonde. Om jou sonde te haat, is ‘n sekere deel daarvan om jou eie lewe te haat. Tweedens beteken redding om onder die heerskappy van Christus, die Een wat sê dat Hy geen dissipels het ander as die wat hulle eie lewe haat nie. Derdens vereis burgerskap van die koninkryk van God radikale selfverloëning, want Jesus het beveel: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Matthéüs 6:33).
Ons moet ook onthou dat Christus deur sy nederige geboorte en onderwerping aan smaad en verwerping, deur bespuug en gemartel te word, veroordeel en gekruisig te word deur sy eie mense, die Jode, én deur die wêreld van die Romeine, die heidene, ook sy eie lewe gehaat het. Die Here het dit gedoen omdat Hy ons liefgehad het “tot die einde toe” (Johannes 13:1). Hy het in ons plek gesterf, ons straf vir ons sonde gedra, “die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring” (1 Petrus 3:18). En wat is ‘n dissipel (Lukas 14:26)? ‘n Leerling. Hier, ‘n leerling van Christus, iemand wat Hom volg en Hom nadoen, die “man van smarte en bekend met krankheid” (Jesaja 53:3)!
Geliefde, jy kan dit uit jou eie praktiese ervaring om Christen te word en Christen te bly, verstaan. Hoeveel geleenthede het jy nie al gehad om na die wêreld of heidense godsdienste of afvallige kerke (wat die lewe vir jou soveel makliker sou maak) oor te gaan nie? Maar deur die genade van God het jy gesê, “Nee” – nee aan familie, vriende en vyande, nee aan jouself en jou eie lewe.
Lukas 14:26 gee die deurslaggewende kenmerk van die ware Christen: iemand wat sy eie lewe haat. ‘n Gelowige is iemand wat sy eie lewe haat omdat hy Jesus Christus, wat hom van die verderf gered het en hom die kennis van God gegee het, lief het.
Dit is goeie nuus vir jou, verontruste heilige! Ten spyte van jou sonde en swakhede en die moeite op jou pad, is jy Christus se dissipel. Jesus Christus self sê so in Lukas 14:26; hou goeie moed en stry voort!
(Vertaaldeur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)