Ronald Hanko
Wanneer ons oor die hemel praat, moet ons sorg dra om te bly by wat die Bybel leer. Omdat daar so baie is wat die Bybel nie aan ons sê nie, is dit so maklik om in onlonende spekulasie te verval en af te dwaal van wat ons wel weet.
Een rede vir die gebrek aan inligting oor die hemel, is dat die hemel só wonderlik is dat dit nie toereikend in aardse terme beskryf kan word nie. Ons kan ʼn idee hiervan vorm wanneer ons sommige beskrywings van die hemel lees: geen nag nie, geen son of maan nie, geen see nie, geen huwelik nie, geen tempel nie. Die hemel hoort tot die dinge wat “die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie” (1 Kor. 2:9).
Om dieselfde rede word baie van die dinge wat die Bybel oor die hemel aan ons vertel, figuurlik en met simbole uitgebeeld. Dit leer ons dat die hemel werklik wonderlik is, maar dit vertel nie presies hoe die hemel sal wees nie. Die beskrywing van die nuwe Jerusalem in Openbaring 21 is ʼn goeie voorbeeld hiervan. As ons hieruit sou aflei dat die hemel inderwaarheid ʼn stad is, duisend vyf honderd myl lank, breed en hoog, met strate van goud, poorte van groot pêrels gemaak, en fondamente van edelgesteentes, sou ons verkeerd wees. Dieselfde Openbaring 21 vertel dat daardie stad die bruid is van die Lam, die verheerlikte kerk (lees ook Ef. 5:25-32; Openb. 19:7-9).
Ons bedoel nie hiermee dat daar enigiets is wat ons oor die hemel behoort te weet waaroor die Skrif nie toereikend is nie. Die Bybel leer ons alles wat nodig is, maar bevredig nie ons nuuskierigheid nie.
Sommige dinge wat die Bybel oor die hemel sê, is vir ons in hierdie wêreld baie troosryk. Daar sal nie trane, pyn of dood wees nie (Openb. 21:4). Ons sal rus (Openb. 14:13), vreugde (Matt. 25:23) en heerlike vryheid (Rom. 8:21) beleef. Ons sal aan Christus gelyk wees (1 Joh. 3:2). Selfs ons vernederde liggame sal verander om gelykvormig te word aan die liggaam van Christus (Filip. 3:21). Sonde, versoeking en alle bose mense sal vir ewig uitgesluit wees (Openb. 21:27). Ons sal in die geselskap van die heiliges en die engele wees (Heb. 12:22, 23).
Ewenwel beskryf selfs hierdie dinge nie die volle heerlikheid en saligheid van die hemel nie. Dít is dat God en Christus daar sal wees: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openb. 21:3). Vir die gelowiges is die saligheid van die hemel dat “hulle…sy aangesig (sal) sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees” (Openb. 22:4).
So baie Skrifgedeeltes praat van hierdie hemelse saligheid dat dit onmoontlik is om daarby verby te kyk (Job 19:26, 27; Ps. 16:11; Ps. 17:15; 1 Kor. 13:12; Filip. 1:23). Ons mag ook nie daarby verby kyk nie. As ons die hemel nie begeer omdat God daar is en omdat Christus daar is nie, begeer ons dit hoegenaamd nie. In ons hoop op die hemel moet ons gebed dié van Filippus wees: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg” (Joh. 14:8).
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.