Ds. Angus Stewart
In die Apostoliese Geloofsbelydenis bely die Christen, “Ek glo aan ʼn heilige, algemene christelike kerk.” Die heiligheid van die kerk word in Efesiërs 5:25-27 só geleer: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.”
Die heiligheid van die kerk verwys nie na sy imposante liturgie en seremonies of sy indrukwekkende argitektuur nie. Dit is ook nie heilig weens sy eerwaardige geskiedenis of verbintenis met heilige persoonlikhede uit die verlede nie.
Die kerk bestaan uit mense: mense wat in Christus uitverkies is “voor die grondlegging van die wêreld” (1:4), van die sonde verlos deur die bloed van die kruis (5:25) en geroepe om “heiliges” (1:1) te wees. Die kerk is dus nie heilig omdat daar ʼn paar heilige lidmate soos predikante, ouderlinge of diakens is nie, maar om die heiligheid van al haar gelowige lede: godvresende kantoorwerkers, kinders, arbeiders, huisvroue, pensioenarisse.
Die heiligheid van individuele gelowiges is geleë in hulle geestelike afgesonderdheid van die boosheid van die wêreld en hulle wyding aan die Drie-enige God. Net so is die heiligheid van die kerk (die gemeenskap van die heiliges) geleë in haar ware geestelike reinheid en haar toewyding in liefde aan Christus, haar bruidegom (5:24). Daarom is heiligheid die wese van die kerk: geen heiligheid, geen kerk.
Die heiligheid van die kerk word in hoofsaak gesmee en behou deur die suiwer verkondiging van die evangelie van Christus, beteken en verseël deur die twee sakramente van die doop en die nagmaal. In Efesiërs 5 word die kerk voorgestel as die bruid van Christus, en sonde as vuilheid en geleer dat Christus haar geheilig en gereinig het “met die waterbad deur die woord” (26). Deur suiwer prediking leer Christus ons nie net wat ware heiligheid is en roep ons nie net tot heiligheid nie, maar Hy werk ook heiligheid is sy lede deur Heilige Gees.
Christus roep sy kerk om “in alles” aan Hom “onderdanig” te wees (24). Gemeentes moet Christus gehoorsaam deur getrou te wees in die prediking, bediening van die sakramente, tug, aanbidding en kerkregering. Sonder hierdie dinge is die belydenis van die kerk, dat Christus die Here is, skynheiligheid. Net so moet die lidmate van die kerk in hulle lewe in die wêreld — hulle gedagtes, woorde en dade — “in alles” onderdanig wees aan Christus.
God het die kerk gekies en uitverkies “om heilig te wees” (1:4), en Christus het “Homself (vir die gemeente) oorgegee om dit te heilig” (5:25-26). So is die heiligheid van die kerk (nog groeiend in hierdie dae en straks volkome in die hemel) die doel van die uitverkiesing en van die verlossing. Die heiligheid van die kerk (dit is ook die reiniging van die vuilheid (26), vlekke en rimpels van die sonde (27)) is haar verruklike skoonheid as die bruid van Christus, ʼn skoonheid ver bo al die skoonheid van die hele skepping. Die heiligheid van die kerk is ook haar heerlikheid (27), ʼn heerlikheid wat die heerlikheid van die Drie-enige God, die Here van sy heilige kerk, weerspieël en daartoe dien.