Menu Close

Die onsterflikheid van die siel / The Immortality of the Soul

      

Ronald Hanko

Mens hoor Christene van die “onsterflikeheid dan die siel” praat, en begryp dat hulle gewoonlik bedoel dat die siel van die mens ná die dood bly voortbestaan. Ons stem saam dat die voortbestaan van die siel ná die dood Bybels is en teenoor die leer van sommige sektes, dat die ongelowige bose mens, liggaam én siel, na die dood uitgewis word en dus nie ewig in die hel gestraf word nie, gestel moet word.

Om die voortbestaan van die siele van die bose “onsterflikheid” te noem, is ewenwel ʼn onverskillige en onbybelse gebruik van die woord onsterflik. Die Bybel gebruik dié woord uitsluitlik as verwysing na die ewige lewe in die hemel saam met Christus, en die saligheid van hulle wat in Jesus Christus glo.

Onsterflik beteken dat dit onmoontlik is om te sterf. Adam het nie onsterflikheid besit nie, want hy kon sterf en het, liggaam en siel, toe hy in sonde geval het, gesterf (Gen. 2:17). Die gevalle mensdom is nie onsterflik nie, want ons is almal, siel en liggaam, dood in ons sonde en oortredings. Jesus sê dat hy wat nie glo nie “die lewe nie [sal] sien nie” want die toorn van God bly op hom (Joh. 3:36).

Die Bybel erken nie blote bestaan as “lewe” nie: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4); “lewe in sy goedgunstigheid” (Ps. 30:5); “vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Flip. 1:21).

In 1 Korinthiërs 15:53, 54 leer ons dat die mens van nature nie onsterflik is nie, maar sterflik, “hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word”. Hulle wat in Christus is, is onsterflik, deur genade alleen. Onsterflikheid is die gawe van God aan hulle. Van Adam het die mensdom sterflikheid ontvang. Die volk van God ontvang onsterflikheid deur Christus alleen, want Hy is die Here uit die hemel (vs. 45-47).

Speel ons met woorde? Ek glo nie. Eerstens verdoesel die beskouing dat die siel van die mens onsterflik is die waarheid dat die mens deur die sonde, met liggaam én siel, in die ewige dood verval het en deur die dood van Jesus Christus aan die kruis uit hierdie dood gered moet word. Die mens is van nature, liggaam én siel, dood deur sy misdade en sy sondes (Ef. 2:1).

Tweedens laat die leer dat elke mens se siel onsterflik is mense dink dat die siel belangriker is as die liggaam – selfs dat die liggaam geminag moet word. Hierdie gedagterigting het in die geskiedenis van die kerk, veral in die vroeë kerk en Rooms Katolisisme, tot liggaamlike mishandeling en leed gelei. Die Skrif leer dat ons liggame, deur die genade van God in Jesus Christus, nie geminag en mishandel moet word nie, maar tempels van die Heilige Gees is (1 Kor. 6:18-20).

Is dit nie daarom beter om die woord onsterflikheid, soos in die Bybel, net te gebruik vir daardie wonderlike gawe van die ewige lewe deur Jesus Christus nie? Wanneer ons deur genade die ewige lewe ontvang, dan is die dood in die oorwinning verslind, en kan ons nie meer sterf nie.

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons