Menu Close

Die Vier Perderuiters van Openbaring 6 / Introducing the Four Horsemen of Revelation 6

   

Ds. A. Stewart

Perde en ruiters word ongeveer 300 keer in die Bybel genoem. Sagaria 1 en 6 praat van verskillende kleure perde. Johannes se gesig in Openbaring 19 toon Christus op ‘n wit perd, gevolg deur sy leërs van die heiliges op wit perde. Maar dit is die vier ruiters van Openbaring 6 wat mees beroemd is en altyd belangstelling en verwondering uitlok.

In hierdie reeks artikels wil ons die identiteit en betekenis van die vier ruiters bestudeer. Ons wil leer om hulle hoefslae te herken en daarna te luister. Wanneer ons hulle sien voortry moet ons van ganser harte bid, “Amen, ja kom, Here Jesus“ (22:20)!

Om mee te begin is dit nodig om die baie betekenisvolle tydperk van die vier ruiters en die sewe seëls waarby hulle hoort te identifiseer. Wanneer eindig die tyd van die sewe seëls in Openbaring 6?

Die sesde seël neem ons na die deur van die laaste oordeel (6:12-17). Eerstens gebeur daar skrikwekkende dinge in die skepping: daar is groot aardbewings en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; die son het swart geword en die maan soos bloed; die sterre het op die aarde geval en die hemel is toegerol soos ‘n boekrol (12-14). In sy preek op die Olyfberg het Jesus soortgelyk oor sy tweede koms gepraat: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Tweedens praat die sesde seël van die “groot dag” van “die toorn van die Lam” (Openb. 6:16-17)) wanneer die goddelose mensheid, insluitend die “grotes” en die “magtiges” in angs sal uitroep (15-16). Dit is nog ‘n verwysing na die laaste dag: “Naby is die groot dag van die HERE … Bitterlik skreeu die held daar” (Sefanja 1:14).

Derdens bring Openbaring 6:12-17 die laaste oordeel na vore. Hoofstuk 11:15-19 skets die prent met vers 18 wat besonder duidelik is: “… u toorn het gekom en die tyd van die dode [dit is hulle opstanding] om geoordeel te word [by die laaste groot oordeel] en om die [1] loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en [2] om die verderwers van die aarde te verderf”. Openbaring 14:17-20 gee ‘n lewende skets van die oes van die bose en hoe hulle vertrap sal word “in die groot parskuip van die grimmigheid van God” (19). Hoofstuk 20:11-15 beskryf die laaste oordeel van die mensheid voor die groot wit troon van Jesus Christus wanneer die bose “in die poel van vuur gewerp” word (15).

Wanneer begin die tyd van die seëls in Openbaring 6? Met Christus wanneer Hy die seëls van die boek wat Hy “uit die regterhand van Hom wat op die troon sit” neem! Die oopmaak van die sewe seëls deur die Lam is sy uitvoering van die ewige raadsplan van die hoogste God. Ons Verlosser regeer in die hemel as die verteenwoordiger van Jehova die hele wêreldgeskiedenis vanaf die tyd van sy verhoging.

So is die tyd van die seëls in Openbaring 6, ook die vier ruiters, dan vandat Christus gaan sit het aan die regterhand van God tot en met sy heerlike wederkoms in die wolke van die hemel. James B. Ramsey maak dieselfde punt deur vanuit sewe as die aantal seëls te argumenteer: “die eenvormige en goed gevestigde betekenis van die syfer sewe in alle simboliek en wat dikwels in hierdie boek, wat die volledigheid van alle verbondsaangeleenthede bevat, maak dit seker dat hierdie boek, ‘n boek van sewe seëls, impliseer dat dit nie net ‘n deel nie, maar die hele volkome plan van God se voorsienigheid met betrekking tot sy kerk bevat” (The Book of Revelation, p. 312). Benewens met sewe seëls verseël, is die boekrol “van binne en van buite beskrywe” (5:1). Met ander woorde die boek is vol, want dit is die volledige rekord van die geskiedenis vanaf die troonbestyging van Christus met sy Hemelvaart tot sy liggaamlike wederkoms.

Dit is dus duidelik dat die boek en die opening van die sewe seëls met die verlede, die hede en die toekoms handel. Vanuit ons perspektief in die een-en-twintigste eeu dek dit wat was en wat sal wees. Dit behandel die tydperk tussen ons Here se eerste koms en tweede koms.

Om dit antiteties te stel, handel die seëls, insluitend die vier ruiters, nie uitsluitlik met die verlede, hetsy die val van Jerusalem in AD 70 of die Romeinse Ryk soos die postmillenialiste beweer nie. Ook spreek die vier ruiters en die ses seëls nie net van tye in ons toekoms, soos die letterlike sewejarige verdrukking na die wegraping en voor die wederkoms van Christus, soos die dispensasionalisme beweer nie.

Sommiges beweer dat die vier ruiters in Openbaring 6 kronologies voortry, met die wit perd (1-2) oor die eerste paar eeue na die verhoging van Christus, die rooi perd (3-4) in die tydperk daarna ens. Dié soort interpretasie is meganies en strook nie met die begrip van Bybelse profesie en apokaliptiek nie. Dit is ook spekulatief en kan nie bewys word nie, wat tot baie verskille in identifikasie lei. Verwag enigiemand dat die gewone gelowige die wêreldgeskiedenis van die afgelope 2,000 jaar ken om in staat te wees om hierdie of daardie gebeurtenis of persoon te identifiseer as die spesifieke vervulling van elkeen van vele dele van Openbaring 6-19? Ons hou by die Bybelse en Gereformeerde beginsel van die Skrif wat die Skrif interpreteer ten einde die Woord van God te verstaan!

Die waarheid is dat die vier ruiters voortry deur die Nuwe Testamentiese tyd vanaf die bekroning van Christus in die hemel tot sy wederkoms op die wolke. Dit gebeur dwarsdeur hierdie tydperk heen, illustratief van die hoofsake van die geskiedenis van die evangelie en word meer intens soos die einde nader!

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons