Ronald Hanko
In ons studie van die heilsorde vind ons dat genade soos ‘n goue draad deur die alles loop. Die genade wat elke stap in die orde bewerk en waarborg, isonweerstaanbaar.
Dit moet beklemtoon word. Ons moet nie dink dat die eerste deel van die orde uit genade alleen is, maar dat die laaste deel van die orde uit werke is nie; dat wedergeboorte God se werk is, en heiligmaking ons werk nie.
Ewemin is dit waar dat die eerste deel van die heilsorde uit genade alleen is, en die laaste uit genade en werke saam. Hoewel dit waar is dat ons in geloof, bekering en heiligmaking aktief is, is dit nie van ons afhanklik en verdien ons nie daardeur enigiets by God nie. Ook dit is alles uit God, en alles uit genade (Rom. 9:16). Dit is God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Filp. 2:13).
Ewemin moet ons dink dat net ‘n deel van die orde uit onweerstaanbare genade is. Die feit dat ons in bekering en heiligmaking aktief is, beteken nie dat die werk van die Gees en die genade waaruit ons bekeer word en heilig gemaak word, weerstaan kan word nie. Geheel die verlossingswerk is uit onweerstaanbare genade.
Genade is uit die aard daarvan onweerstaanbaar, want dit is immers God se genade. Omdat Hy almagtig is, is ook sy genade almagtig. Nie net in sy voorsienigheid is Hy almagtig nie, maar ook in genade, “daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (Dan. 4:35).
Vandag word hierdie groot waarheid deur baie mense geïgnoreer en vermy. Die leerstuk van algemene genade – dit is dat daar ‘n bepaalde genade is wat aan alle mense betoon word – leer in werklikheid ‘n genade wat weerstaan kan word. So ook die leer van die welmenende aanbod van die evangelie, wat leer dat God uit genade aan almal wat die evangelie hoor, daarmee die saligheid aanbied, hoewel daardie genade dan deur baie verwerp en weerstaan word. In ons verdediging van die kosbare leer van onweerstaanbare genade, behoort ons niks te doen te hê met enigeen van hierdie leerstellings nie.
Onweerstaanbare genade beteken egter nie dat God mense, al die pad skoppend en stoeiend, teëstribbelend hemel toe bring nie. Onweerstaanbare genade dwing nie, dit oortuig. Met ander woorde, God verander ons daarmee in ons hart en in ons verstand en in ons wil, sodat ons Hom liefhet, na Hom soek, Hom gehoorsaam en volhard in gehoorsaamheid, tot aan die einde toe.
Die Dordtse Leerreëls, waaruit die oorspronklike Vyf Punte van Calvinisme kom, sê dat hierdie genade van God “nie in die mense [werk] asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset vroeër volkome oorheers het, begin ‘n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand kry.”1 Dit is ‘n pragtige beskrywing van onweerstaanbare genade.
Ons natuurlike verdorwenheid kan net deur onweerstaanbare genade oorkom word. Net só ‘n genade kan waarborg dat ons “bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd (1 Pet. 1:5). Net onweerstaanbare genade kan ons goeie hoop gee om te glo, en ons troos met die wete dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie. Onweerstaanbare genade is gerusstellende genade.2
Vertaal uit Ronald Hanko, Doctrine According to Godliness, 2004 Reformed Free Publishing Association, Grandville MI, USA, pp. 186-187.
Vertaal deur Nic Grobler, Tensy anders aangedui, is die Afriikaanse vertaling van die Bybel wat by die vertaling gebruik is, dié van 1933/53.