Prof. Herman Hanko
’n Leser vra: “Sal u as dit moontlik is my help met die Arminiaanse besware teen die Gereformeerde leer van onweerstaanbare genade. In ’n gesprek wat ek met ’n Arminiaan gehad het, het hy beweer dat die Arminiaanse leer van algemene genade Bybels is en dat ons dit kan sien in verse soos Johannes 12:47: ‘En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.’ Uit hierdie vers lei hy af dat genade nie onweerstaanbaar is nie, anders sou die hele wêreld gered word. Hy beweer dat hierdie teks geen ruimte laat vir Calviniste om te sê dat die woord ‘wêreld’ die ‘wêreld van die uitverkorenes’ beteken nie. Jesus sluit die ongelowiges en die verdoemdes by die woord ‘wêreld’ in. Hy beweer ook dat hierdie teks nie van die uitwendige of die inwendige roeping praat nie. Die teks sê dat Jesus gekom het om die wêreld te red. Hoe kan ons hierdie teks in die lig van die Gereformeerde leer verstaan?”
Die antwoord op die vraag oor Johannes 12:47 behels die betekenis van die woord “wêreld.” Dit is duidelik uit die argument in die vraag, dat die Arminiaan na wie die vraagsteller verwys, die woord “wêreld” wil laat verwys na elke man, vrou en kind wat ooit gelewe het. Dit is altyd die sleutelvraag wat na vore kom wanneer die waarheid van die soewereine genade van God teenoor diegene wat dit ontken, verdedig word. Die Arminiane het reeds in die laat sestiende eeu en vroeë sewentiende eeu hulle standpunt oor die vrye wil verdedig met ‘n beroep op die woord “wêreld.” Hierdie kwessie is in die geskiedenis van die kerk tallose kere bespreek en diegene van die Gereformeerde geloof, het die woord verduidelik soos dit verduidelik moet word. Mens sou kon wens dat Arminiane wat nog steeds sulke argumente aanvoer, tog een keer hulle huiswerk doen, in plaas van om tot ongegronde konklusies te kom oor vrae wat male sonder tal reeds beantwoord is.
Daar bestaan baie redes waarom die woord “wêreld” nie almal wat ooit geleef het, kan beteken nie. Soos ander dit gestel het: “ ‘n Christus vir almal is ‘n Christus vir niemand.”
-
As die woord “wêreld” beteken almal wat ooit geleef het, dan het God almal wat ooit geleef het lief. As God almal wat ooit geleef het lief het, het Christus vir almal wat ooit geleef het, gesterf. As Christus vir almal wat ooit geleef het, gesterf het, is die liefde van God sonder krag en die kruis verloor sy verlossende heerlikheid. God het mense lief wat nie gered word nie en Christus het vir mense wat nie gered word nie, gesterf. So word die liefde van God betekenisloos en die kruis van Christus het geen krag om te red nie.
-
As die liefde van God en die kruis van Christus kragteloos is, dan is God nie almagtig nie. Hy kan nie doen wat Hy wil doen nie. Reeds sovêr terug as die vyfde eeu het Augustinus dit nadruklik gestel dat wat God wil om te doen, dit doen Hy. Die Rooms-Katolieke Kerk het die leer van Augustinus ontken en die siening van Pelagius, wat geleer het dat God alle mense lief het en dat Christus vir alle mense gesterf het, aanvaar. Wil vandag se Arminiane dieselfde Pelagiaanse leer as die Rooms-Katolieke Kerk hê? Laat hulle die geskiedenis van die kerk lees en besef dat hulle leer van die Rooms-Katolisisme kom.
-
Dit is duidelik dat die vraagsteller se opponent nie net glo dat God almal lief het nie, maar dat hy ook glo dat elke man, vrou en kind en suigeling die genade van God ontvang. Hy praat van algemene genade. Algemene genade is ’n genade wat aan almal gegee word sodat elkeen self kan besluit of hy verlossing wil hê. Maar sommige weerstaan dan dié genade. Hulle weerstaan egter ’n skim, want nie almal ontvang genade, nie eers algemene genade nie. Waar in die Bybel vind ’n mens algemene genade? Iemand wat dit leer, kom voor dié vraag te staan: Is die genade van die Almagtige God so skromelik swak dat dit nie die krag het om te red nie? Die Skrif leer ons om in ons sonde op die Genade van God te vertrou. Toe Paulus met die doring in sy vlees gestry het, het God vir hom gesê, “My genade is vir jou genoeg” (2 Korinthiërs 12:9). ’n Weerstaanbare genade is ’n kragtelose genade. In al my beproewing het ek vir seker nie ’n kragtelose genade nodig nie.
-
Om die Arminiaanse leerstuk, dat genade weerstaan kan word te leer, is om te leer dat die mens ’n vrye wil het. Die leer dat die mens ’n vrye wil het, is ’n openlike, berekende poging om totale verdorwenheid te ontken. ’n Verwysing na Efesiërs 2:1 is genoeg om te bewys dat totale verdorwenheid ’n realiteit is. Die probleem is nie dat die Skrif nie totale verdorwenheid leer nie, die probleem is dat die trotse mens wil help om homself te red. Hy is te trots om homself te sien soos hy is: ’n sondaar, dood in sy oortredinge en sondes. ’n Deels verdorwe mens het nie die kruis van Christus nodig nie. In Efesiërs 2:1-10 beklemtoon Paulus dit. As verlossing deels óns werk is, kan ons roem op wat óns doen en kry God nie al die eer nie.
Jare gelede toe ek kategismus klasse gegee het, was daar ’n dogter in die klas wat uit die Room-Katolieke Kerk gekom het. Hoewel sy die waarhede van die Gereformeerde geloof gretig aangegryp het, het sy bly struikel oor die soewereiniteit van God oor sy ganse skepping en oor al die dade van die mens. Ons het dit weer en weer bepreek en ek het naderhand al die Bybelse argumente uitgeput; uiteindelik het ek nog ’n poging aangewend om haar te oortuig en gevra: “As jy moes kies tussen ’n soewereine God en ’n God wat jou en alle ander mense in die oë moet kyk vir hulp, wie sou jy kies?” Sy het haar kop op haar arms gesit en bly sit vir wat vir my en die ander in die klas soos ’n ewigheid gevoel het. Dit was doodstil in die vertrek. Ten einde laaste het sy haar kop opgetel en met ’n gesig wat met vreugde straal en trane wat oor haar wange rol, gesê: “Ek wil ’n soewereine God hê!” Sy het nou reeds vir meer as vyftig jaar nie daarvan afgewyk nie.
Die vraag is nie abstrakte teologie nie. Ek het nie ’n behoefte aan ’n god wat nie soewerein is nie. Ek het nie ’n behoefte aan ’n god wat my eers in die oë moet kyk voor hy mag optree nie. As dit die geval sou wees, kan ek net sowel vir Boeddha aanbid. Ek is ’n sondaar, hopeloos verlore en nie in staat tot enigiets anders as om God te haat en Hom en sy werk te tart, sy Naam te laster of Hom bloot te ignoreer nie. Ek het ’n God nodig wat my deur sy goddelike krag kan oorwin en al my weerstand deur onweerstaanbare genade kan oorkom. Maak dit van my ’n hulpelose en verfoeilike sondaar wat niks aan sy verlossing doen nie? Ja, dit maak. Maar dit is beter om uitroep, “O God, wees my, sondaar, genadig!” en geregverdig na jou huis toe te gaan (Lukas 18:13-14), as om saam met die Fariseër te staan en luidkeels te spog, “Here ek dank u dat ek nie soos ander mense is nie, want ek het Christus aanvaar en myself gered.” Sulke eie-roem is nie die pad na die kruis en die hemel nie.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)