Ds. Angus Stewart
Ons lees in Lukas 1 dat Sagaría en Elisabet, wat die ouers sou word van Johannes die Doper, “in die dae van Herodes, koning van Judéa” geleef het (vs. 5). Hierdie Herodes is Herodes die Grote genoem. Vanuit sy paleis wat hy vir hom in Jerusalem gebou het, het hy oor Judéa in die Suide en trouens oor die hele Israel regeer. Hy het ook die tempel in Jerusalem vergroot en versier. Herodes was egter ‘n goddelose koning en wat boosheid in die regering én die Sanhedrin gebring het. Hy was nie ‘n Jood nie, maar ‘n Edomiet. Dit was hy wat die opdrag gegee het dat die kindertjies in en om Bethlehem doodgemaak moes word (Matt. 2:16).
Hoewel Sagaría en Elisabet in ‘n tyd van godsdienstige agteruitgang en oppervlakkigheid gelewe het, was hulle vroom. Hulle was geregverdig deur geloof alleen, want “hulle was altwee regverdig voor God” (Lukas 1:6), geregverdig deur die toerekening van die geregtigheid van die komende Messias. Sagaría en Elisabet was gelowig en heilig, hulle “het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel” (vs. 6). Uit dankbaarheid teenoor Jehova, hulle Verlosser, het hulle die Woord van God gehoorsaam. Hulle was nie alleen nie, want daar was ander vrome heiliges in daardie donker dae, soos Símeon en Anna wat Josef en Maria ontmoet het toe hulle met die kind Jesus na die tempel gegaan het (Lukas 2:25-38). Sagaría en Elisabet was deel van ‘n klein minderheid.
Dit is duidelik dat dit die wil van God was dat Johannes die Doper in ‘n ware verbondsgesin opgevoed moes word, want hy sou die voorloper van Christus wees. Hoe was sy vroom ouers nie vir Johannes tot ‘n seën nie! Hoe dankbaar sou hy nie vir hulle gewees het nie!
Die vroom ouers van Johannes was altwee uit die priesterlike geslag, afstammelinge van Aäron, die broer van Moses. Sagaría was ‘n priester uit die afdeling van Abía (1:5). Die priesterlike agtergrond van Sagaría en Elisabet sou inhou dat die “gebooie en regte van die Here” (vs. 6) wat hulle gehou het, die bykomende wette en voorskrifte vir die priesters, wat in die Pentateug voorgeskryf is, ingesluit het. Volgens Lukas 1:39-40 het die ouers van Johannes nie in Jerusalem of Jerigo, die stede met die meeste priesters, gewoon nie, maar in die bergstreek van Juda. Sagaría en Elisabet was nie van die hoogste priesterlike stand nie. Sagaría het nie op die Sanhedrin gesit nie en was nie in die geslag van die hoëpriester nie.
Die grootste persoonlike las wat die vroom priesterlike egpaar gedra het, was dat hulle kinderloos was. Hulle het dikwels en ernstig in hulle privaat- en familiekring om verbondskinders gebid. Hulle het waarskynlik ook, soos Hanna, toe sy na die tabernakel gegaan het (1 Sam. 1), om heilige saad gebid wanneer hulle na die tempel opgegaan het. Maar daar was geen kind nie; jare en dekades het verbygegaan. Uiteindelik het hulle waarskynlik ophou bid, nie uit wanhoop of kwaadheid vir God nie, maar omdat Elisabet nou te oud was om kinders te hê. Veral Elisabet moes “smaad onder mense” verduur weens haar kinderloosheid (Lukas 1:25). Dit was wreedheid van die mense, want Jehova het Sagaría en Elisabet nie weens een of ander sonde veroordeel nie, maar hulle in sy verbondsgenade omarm. Met die verloop van jare het die vroom priesterlike egpaar tot die gevolgtrekking gekom—en stadigaan daaraan gewoond begin raak—dat hulle nie kinders as ‘n erfdeel van die Here sou ontvang nie (Ps. 127:3). Maar dan doen God die wonder; Hy antwoord op die offers van hulle gebede van dekades voordat Hy Johannes aan hulle gegee het!
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)