Ds. Angus Stewart
(1)
Nadat God die wonderboom waaronder Jona van die son geskuil het, met ’n wurm laat verdor, voer Hy ’n vertoog met die nukkerige profeet in die verse wat waarskynlik die minste verstaan en die mees interessante in die boek van Jona is: “Verder sê die HERE: Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?” (Jona 4:10-11).
Jona moes natuurlik nie die les van ons teks nodig gehad het om hom aan Jehova te onderwerp en en te berus by sy vernietiging van die wonderboom en die redding van Nineve nie. As hy tog maar gedink het aan God se wonderlike voorsienigheid vir homself! Dink aan die storm (1:4-16) en die groot vis (1:17-2:10). Dié groot dier was net op die regte plek om te keer dat Jona verdrink; in die vis se ingewande is hy wonderbaarlik drie dae lank in die lewe gehou; en die vis spuug hom uit op net die regte plek aan die kus van die Middelandse See.
As Jona maar die die twee kernverse in die boek werklik verstaan het. “Die heil behoort aan die HERE” (2:9) en “ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (4:2)! Beide hierdie belydenisse or God en sy heil het Jonaself gedoen.
Op hierdie stadium sou ’n mens verskeie hipotetiese goddelike opsies kon voorstel. Jehova kon Jona laat sterf. Dit was mos wat Jona wou hê (4:3, 8, 9), en hy het dit ongetwyfeld verdien. Tweedens kon God Jona martel met meer en meer pyn totdat Jona sou uitroep “Genoeg, ek gee op! Ek versoen my met U redding van Nineve!” Dan kon Hy die profeet maar in sy nukke laat bly: “Jona wil sy eie rigting inslaan; laat hom maar in sy skerm sit en broei, hy sal wel mettertyd genoeg daarvan hê.” Vierdens kon God Jona in ’n oogwink verander deur hom grootliks te heilig om hom onmiddelik te verheug in die wysheid en heilige werke met homself én met Nineve. Dit is ewewel nie die manier waarop God met Jona werk nie. Dit is ook nie die manier waarmee ons hemelse Vader (ooit of gewoonlik) met sy volk of met ons persoonlik werk nie – genadiglik!
Ons sal volgende keer die hoogtepunt van hierdie laaste twee verse in Jona verder verduidelik. Hulle vorm die die basis vir die veroordeling van Jona se verontwaardiging oor die wonderboom en Nineve én vir die regverdiging van die genade van God waarmee hy die stad gespaar het. Die kragtige slot van die boek maak dit vir ons moontlik om die betekenis van die boek goed te verstaan – goeie rede om goed aandag te gee aan hierdie artikels oor Jona 4:10-11!
(2)
Hoe het God sy verontwaardigde, nukkerige profeet in Jona 4:10-11 tot inkeer gebring?
Eerstens het Jehova dit langs ’n weg gedoen wat by Homself en sy natuur pas. Jona bely dat Hy “‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.” Dit was die manier waarop Hy deur die hele die boek én hier in ons teks met Jona omgaan.
Tweedens het God met Jona as ’n rasionele morele skepsel gewerk. God redeneer met Jona as rasionele mens. Hy praat met Jona oor morele, etiese, geestelike dinge soos met ’n morele skepsel. Jehova kom na Jona deur sy Woord en gebruik dié Woord as middel van genade. Dit is wat ons hemelse Vader ook met ons doen.
Derdens behandel God vir Jona in die situasie waarin hy verkeer. God verorden en beveel al die omstandighede van hierdie situasie van Jona (en inderdaad van Jona se hele lewe, en ook dié van ons). Hy het die wonderboom “berei” (6), die wurm (7) en die gloeiende oostewind (8) en Hy spreek Jona in sy situasie aan, net soos Christus die Samaritaanse vrou in haar situasie by die put aangespreek het oor Homself as die water van die lewe; haar sonde teen die sewende gebod en haar Samaritaanse idees van heilige plekke en die Messias (Johannes 4:5-26). Só werk die Drie-enige God ook met ons – in ons omstandighede en situasie, waar ons ook al is.
Hoe het God dan, in besonder, met Jona te werk gegaan op ’n wyse wat by sy natuur én die natuur van Jona (as rasionele, morele skepsel) en sy omstandighede pas? Jehova kom met ’n vraag, ’n vraag wat verklaar én veroordeel. Met sy vraag vergelyk God Homself met Jona, en en stel hom teenoor Homself. “Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?” (Jona 4:10-11).
Die vergelyking en teenstelling is meer in besonder tussen Jona en sy jammerte vir die wonderboom aan die een kant, en Jehova en sy barmhartigheid oor Nineve aan die ander kant: “Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter— en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?” (10-11).
Hoewel nie al die elemente van die twee kante van die vergelyking uitgestippel word nie, kan ons vier verskillende faktore identifiseer in die teenstelling van Jona se jammerte vir die wonderboom en die barmhartigheid van God vir Nineve.
Eersrens is daar die tydsfaktor. Wat die wnderboom betref, het dit “in een nag ontstaan en in een nag vergaan” (10). Dit verwys na twee nagte, die een na die ander, dit wil se die wonderboom het omtrent 24 uur gelewe. Hierteenoor was dit deels Nineve se antikwiteit wat daarvan ’n “groot stad” gemaak het (11). Sy geskiedenis gaan baie ver terug, tot die dae van Nimrod (Genesis 10:9-11), byna 1,500 jaar voor Jona. Sien jy die vergelyking in tyd? God argumenteer: “As jy die reg het om ’n 24 uur oue boom jammer te kry, Jona, kan Ek nie jammer wees vir iets wat reeds een en ’n half millennium bestaan nie?”
Tweedens is daar die faktor van arbeid. Jona het nie ’n gat vir die boom gegrawe, dit as saad geplant, bemes, water gegee, opgelei of beskerm nie. Soos God vir Jona sê: “Jy wil die wonderboom spaar waar jygeen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie” (Jona 4:10). Maar in sy wyse voorsieningheid het god Nineve se magtige mure, baie wonings en tallose strate mat al hulle families en mense, opgebou. Die argument is eenvoudig: Jona kry iets jammer waaraan hoegenaamd geen arbeid aan bestee het nie, maar God wil ’n stad spaar wat Hy in sy soewereine voorsienigheid tot stand gebring het.
Derdens is daar wat ons die “waarde” faktor kan noem. Die wonderboom was bloot ’n plant, terwyl Nineve lewende hawe en mense ingesluit het. Dink aan iemand wat ’n man en sy hond op die grassypaadjie raakry en dan wegjaag. ’n Verbyganger ignoreer die die kreune van die man en die getjank van die hond en haas hom na die grasperk om die skade daaraan te betreur. Ander verbygangers haas hulle na die hond en draai hulle rug op beseerde man. Die hond is tog immers belangriker as die grasperk en die man van meer waarde as die hond (vgl. Mattheus 10:31)! Nou ja, Jona is ontsteld oor die boom (’n plant); hy gee nie om vior die mense en lewende hawe van Nineve nie; hy is selfs kwaad omdat hulle nie dood is nie!
Vierdens is daar die getalle faktor. Die wonderboom was een plant. In Nineve was daar 120,000 duisend kleintjies wat nie tussen hulle linker en regterhand kon onderskei nie (Jona 4:11). Hoe oud was hulle, en wat sou die verhouding van kinders tot die res van die bevolking wees in daardie dae, toe die lewensverwagting baie laer was as dié in een-en-twintigste eeu? Baie raai 1:5. Dit sou die bevolking van Nineve, binne die mure en daar rondom op ongeveer 720,000 te staan bring. Die “baie vee” sou bestaan uit beeste, skape, bokke, perde, esels, kamele ens., wat in die tienduisende kon tel, indien nie meer nie.
Die tragiek is dat Jona meer bekommerd was oor die verlies een plant as oor die verlies van byna driekwart miljoen mense en tien duisende stuks vee. Vir hom was een plant belangriker as ’n miljoen mans, vroue, kinders en diere. Jona is kwaad, baie kwaad dat die een plant dood is en die 720,000 mense en al hulle diere nie dood is nie! Wat van ons liefde vir ons naaste (Mattheus 22:39) en ons ywer vir sy of haar redding (Romeine 9:1-3; 10:1)?
(3)
Hoe het dit gekom dat die songebrande Jona, wat daar in sy skuilinkie buite Ninevé sit en brom het, sake so uiters verkeerd en sleg beoordeel het (Jona 4:1-9)? Waarom het hy één plant, wat net 24 hou en waaraan hy geen arbeid bestee het nie, só belangrik beskou? Waarom het hy bykans 720,000 mense en baie vee in ‘n oeroue stad, van so min waarde geag?
Hier is ‘n gemeenskaplike faktor. Jona self! Jona se selfsug! Hy was kwaad vir God omdat Hy die wonderboom laat verdroog het, want dit het vir hom, Jona, skaduwee verskaf. Hy was briesend vir die Allerhoogste omdat Hy nie die tallose Nineviete en hulle vee doodgemaak het nie, want hy, Jona, het hulle gehaat en hy wou nie hê dat Jehovah, die HERE, vir Israel, sy eie land, moet oordeel nie.
Kortom, Jona het volgehou dat die wonderboom moes lewe en baie duisende mense en diere in Ninevé moes sterf, vanweë sy eie sondige begeerte. Die profeet, “baie kwaad,” (1) sê selfs in sy Skepper se gesig vir Hom dat hy reg het om daaroor “kwaad” te wees, ja “tot die dood toe” (9)!
Het Jona agterna berou gehad oor sy hardheid van hart en blinde verstand? Die boek sê nie in soveel woorde ja of nee nie, maar ek glo vas hy het, en dit om drie hoof redes.
Eerstens was Jona, al het hy in ernstige sonde geval, steeds ‘n kind van God, en Hy bring altyd sy seuns en dogters, deur bekering terug in gemeenskap met Hom, soos Hy met die verlore seun gedoen het. Die Dordtse Leerreëls verduidelik dit mooi: “Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Tweedens vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot bekering. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof, met ‘n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God wat nou met hulle versoen is, aanbid hulle sy ontferming en trou om daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk” (V:7).
Tweedens het Jona sy boek geskryf, soos al sestien die heilige profete hulle eie geïnspireerde boeke geskryf het deur “die Gees van Christus wat in hulle was” (1 Petrus 1:11).
Derdens, lees weer Jehovah se vriendelike argument in die lig van sy onweerstaanbare genade en wysheid, wat in die vorige uitgawe van die NEWS verduidelik is: “Verder sê die HERE: Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?” (Jona 4:10-11).
Jehovah het hierdie woorde gebruik as kragtige genademiddel aan Jona, sodat hy sy dwaasheid, selfsug en boosheid kon insien. Hy kon in skaamte onder die grond in sy skuiling inkruip en verskrompel soos daardie wonderboom!
So het die profeet, deur die Gees van God, sy woede in ‘n ander rigting gestuur; hy was nou nie meer kwaad vir God nie; tereg was hy nou kwaad vir homself. Die apostel Paulus beskryf die ywer van ware bekering: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God – wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is” (2 Korinthiêrs 7:10-11).
Daar is kwalik ‘n versie wat Jona sonder trane in hierdie boek sou kon skryf. Daar is trouens nouliks een vers in die boek wat hy later sonder trane sou kon lees.
Daar was trane van spyt oor sy hardnekkigheid en sy rebellie teen sy Verbondsgod, veral sy ongehoorsaamheid aan die goddelike roeping om na Ninevé te gaan; sy vlug na Tarsis en sy sondige voorbeeld aan die seemanne in hoofstuk 1; en sy kinderagtige moedswilligheid, herhaalde wense om te sterf en nukkerige antwoorde aan die Here in hoofstuk 4.
Daar was trane van dankbaarheid oor die genade en goedertierenheid aan hom, veral sy redding van verdrinking deur die groot vis; sy ontsnapping uit die vis se donker, stink pens en die verhoring van sy gebede uit die diepte, in hoofstuk 2; en die wonderbaarlike redding van die Nineviete, ‘n voorsmaak van die verlossing van die heidene, in hoofstuk 3.
Na alles was Jona se grootste troos, soos hy vroeër in die maag van die vis bely het, “Die heil behoort aan die HERE” (Jona 2:9). Dit is ook die troos van ons almal wat ons sonde haat en ons wend na God in Jesus Christus; want ook ons bely saam met Jona “dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (4:2)!
(4)
Die les van Jona se wonderboom (Jona 4:10-11) dui op drie belangrike waarhede van Jehova se heerlike genadeverbond in Christus.
Eerstens is God se verbond met gelowige Jode en heidene. Dit is ’n hooftema van die boek Jona, wat verklaar waarom die profeet in die eerste plek nie na die heidense Ninevé wou gaan nie (hy was bang dat God hulle sou bekeer) en waarom hy kwaad was oor hulle bekering (hy het het God se toekeer tot die heidense stad beskou as sy wegkeer van Israel) (1-3).
Reeds sedert die roeping van vader Abram in Ur van die Chaldeërs sou “al die geslagte van die aarde” in hom “geseën word” (Genesis 12:3). God het aan Abram verduidelik dat die verandering van sy naam na “Abraham,” beteken dat hy ’n “vader van ‘n menigte van nasies” sou wees (Genesis 17:5; Romeine 4:16-18). In die Nuwe Testamentiese tyd het die kerk algemeen, of universeel, geword, soos die profete op verskillende plekke voorspel het (byvoorbeeld Psalm 117; Jesaja 2:2-4; Jeremia 3;17; Maleági 1:11) en soos ook die boek Jona voorafskadu.
Tweedens is die verbond van God met gelowiges en hulle kinders. In Jona 4:11 kon Jehova bloot gesê het dat daar sê omtrent 750,000 mense in groter Ninevé was, maar Hy doen dit nie. Hy sê dat daar meer as 120,000 suigelinge, “meer as honderd en twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter– en hulle linkerhand nie weet nie” in die stad is.
Daar was ongetwyfeld uitverkore kindertjies, kinders van die Nineviete wat deur die prediking van Jona bekeer is, oor wie God hom ontferm het.
Selfs in hierdie heidense stad, ja, in die Ou Testament, selfs in ’n heidense stad wat enkele dekades later vernietig sou word (lees Nahum), was die verbond van God met gelowiges en hulle nageslag!
Jona 4:11 is dus in hierdie verband ook deel van ’n stroom Bybelse leer. Die verbond van God was met Noag en sy nageslag (Genesis 6:18; 9:8-9), deur Abraham en sy nageslag (17:7; 18:18-19) tot in die Nuwe Testamentiese tyd, soos wat Christus geleer en aangetoon het (Markus 10:13-16) en deur Petrus op Pinkster gepreek is (Handelinge 2:39). Aangesien in die apostoliese Christendom die kinders van selfs net een gelowige ouer “heilig” is (1 Korinthiërs 7:14), hetsy hulle etniese Jode of heidene is, lees ons in die Skrif van die doop van Lídia, die tronkbewaarder van Filíppi, Crispus, Stéfanas en hulle huisgesinne (Handelinge 16:14-15, 31-33; 1 Korinthiërs 1:14, 16).
Derdens is die verbond van God met die skepping. Genesis 1-2 beskryf sy skepping van die pragtige, sondelose heelal in ses dae. Duisende jare later praat Jeremia van die HERE se “verbond met die dag” en sy “verbond met die nag” (33:20; lees ook 25) wat verwys na die opeenvolging van lig en duisternis vanaf die eerste dag (Genesis 1:3-5), en wat drie dae later (en sedertdien) regeer word deur die son en die maan (14-19).
Die Bybelse geskiedenis van die wêreldwye vloed (Genesis 6-9) beklemtoon dat God se genadeverbond die skepping omvat (Genesis 6:18 e.v.; 9:8-17; Jesaja 4:9-10). Hoewel die aarde geheel en al met water bedek was en die meeste diere vernietig is, het Jehova die droë grond herstel en gesorg dat verteenwoordigers van die verskillende skepsele in die ark van Noag bewaar is om na hulle vrygelaat is, te vermenigvuldig en die aarde te vul.
In die tyd van die patriarge het Elifas, die Temaniet gesê: “Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie. Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend” (Job 5:22-23). Hierdie “verbond” met “die klippe van die veld” (23) het beteken dat die aarde vir die belydende Job oeste sou lewer, sonder “broodgebrek” (22). So ook sou daar vriendskap en vrede tussen hom en die diere wees (23).
Ook Hoséa praat van die genadeverbond van God met sy volk én die redelose skepping: “Verder sluit Ek in dié dag vir hulle verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde” (2:17; lees ook 20-21). Dit is alles wesenlik deel van God se verbondshuwelik met sy volk (15, 18-19).
God se verbond met die skepping word volmaak vervul in die “nuwe hemel” en die “nuwe aarde” (Openbaring 21:1), wat in die laaste twee hoofstukke van die Bybel (Openbaring 21-22) uitgebeeld word, nadat dit met vuur gelouter is op die dag van die wederkoms van die Here (2 Petrus 3). Romeine 8:18-25 praat van die verlange van die gelowiges én die skepping na hierdie heelike vernuwing.
Van die Ou Testamentiese profete is dit Jesaja wat van die “nuwe hemel” en die “nuwe aarde” praat (65:17-25; 66:22) in sy profesie van hierdie heerlike nuwe wêreld, wat opgeteken is tussen die voorspelling van die koms van Jesus Christus, die Koning (1-5), en van sy verlossing van Jode én heidene (10-16). Die bevestiging van die Christus van die verbond se hoofskap oor die skepping (Kolossense 1:15-17) is die ewige voorneme van God “om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Efesiërs 1:10).
Die feit dat Jehova die “baie vee” van Ninevé jammer gekry en gespaar het (Jona 4:11) moet binne hierdie Skriftuurlike raamwerk verstaan word. Sommige van die soorte vee en selfs die wonderboom plant (6-10) – wat dit ook al was – sal ook in die nuwe hemel en die nuwe aarde wees, waar die tabernakel van die God van die verbond by die verloste mensdom sal wees, en Hy in Jesus Christus in volkomenheid by hulle sal woon (Openbaring 21:3).
Die genadeverbond van God in Jesus Christus omvat die gelowiges en hulle (uitverkore) kinders uit die Jode én die heidene; selfs ook die redelose skepsele – dít is die drie lesse wat die laaste woorde van God aan Jona in sy boek uitstippel.
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)