Ds. Angus Stewart
In die vorige uitgawe van die News het ons stilgestaan by oordeel wat nie verbied word nie (en die regverdige oordeel wat vereis word). Ons sal nou aandag gee aan die oordeel wat verbied word: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matt. 7:1).
Ons moet iemand nie oor “adiaphora”, dit wil sê middelmatige sake, oordeel nie. Dat “adiaphora” Bybels so gekatagoriseer word, word in Romeine 14 en I Korinthiërs 8 geleer. So, byvoorbeeld, as iemand net groente eet, is dit nie per se sondig nie en moet ons hom nie daarvoor oordeel of verag nie, want ” . . . die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17).
Ons moet nie in sake wat nie by ons berus, oordeel, of in geskille wat met ons niks te doen het, betrokke raak nie. “Hy wat ‘n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie” (Spr. 26:17). So vermaan Petrus dan ook dat ” . . . niemand van julle moet ly . . . as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie” (I Pet. 4:15).
Ons moet nie oordeel sonder dat ons die feite wat in ‘n saak relevant is, ken nie. As dit werklik by jou berus om ‘n saak te bereg, moet jy beide kante in die geskil aanhoor. Sonder om beide kante te hoor is jy nie in staat om te oordeel nie. Een kant sal nie noodwendig reg wees omdat hy of sy voorop is om die saak te stel nie. “Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë” (Spr. 18:17).
Ons moet nie ander mense se bedoelings oordeel nie. Weet jy wie was skuldig aan oordeel van iemand se bedoeling, in die bekendste voorbeeld van hierdie sonde? Die duiwel! Satan het Job se bedoeling geoordeel: “Is dit verniet dat Job God vrees?” (Job 1:9). Die duiwel was so boos, en verhard in hierdie boosheid, dat hy die vrome Job by God self hiervan aankla! Maar die duiwel was doodverkeerd! Job het, anders as die duiwel se aanklag (10) God nie gedien vir wat hy daaruit kon kry nie. Job het God gedien omdat hy Hom liefhet en Hom vrees (1). God alleen ken die mens se diepste bedoelinge. “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang” I Kor. 4:5).
Ons moet nie sonder sonder barmhartigheid oordeel nie. Liefde eis dat ons nie bose bedoelings aan goeie dade heg nie. Liefde eis dat ons by twyfelagtige optrede die voordeligste verklaring moet soek. Ons moet nie ‘n “sondaar brandmerk ter wille van ‘n woord” nie (Jes. 29:21). Ons moet ook versagtende omstandighede in gedagte hou en dat ons ook swak en sondig is. “Hoe sou ek in so ‘n moeilike situasie opgetree het? Miskien sou ek ook …”
Ons moet nie hiperkrities oordeel nie. Sommige mense hou daarvan om te oordeel, te kritiseer en mense af te kraak. Hulle soek gedurig na ‘n fout, wat hulle dan sonder meer buite alle verhouding vergroot. Hulle is bly as hulle iets kry om te kritiseer en hulle is mismoedig as hulle nie fout vind nie, want dan het hulle niks om te sê nie.
Ons moet nie uit eiegeregtigheid oordeel nie. Dit is die sonde van die Fariseër in die Here se gelykenis: “o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry” (Luk. 18:11-12). Wanneer ons ander afkraak, is dit dikwels om onsself goed te laat lyk en goed te laat voel, want wanneer ons na die sonde van ander vingerwys, is dit moeilik om aan ons eie ongeregtigheid te dink. Dit word ‘n plaasvervanger vir ons sondebelydenis en die ervaring van vergiffenis deur die die kruis en Gees van Christus. “Ek moet verligting van die my sondeskuld kry, maar ek gaan my nie voor God verootmoedig nie. In plaas daarvan sal ek vertel hoe sleg ander is, dan sal ek nie so skuldig voel nie”.
Ons moet nie oordeel asof ons die finale regters is nie. God alleen is die hoogste Regter en Hy oordeel volgens sy Woord (Joh. 12:48). Ons oordeel is voorlopig. Jehova is die Regter van die hele aarde en Hy is ook my en jou Regter. Daarom moet ons nie dink of praat asof ons oordeel die hoogste en finaal is nie.
Nou dat ons die soorte sondige oordeel beskou het, moet ons ook kyk na die sfeer waarin sondige oordeel in besonder verbied word. Ons lees in die drie verse wat volg op die Here se verbod in Matthéüs 7:1: “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal” (3-5). Jou broeder! Nie alleen you fisiese broeder nie, maar jou geestelike broeder (of suster) in die kerk!
Vanselfsprekend word sondige oordeel in alle sfere verbied: familie, gesin, werksplek, skool, buurt, ens., maar in Matthéüs 7 word dit in besonder met betrekking tot die mede heiliges in die kerk verbied. Húlle moet ons in besonder liefhê (I Kor. 13:4-7) en oor hulle allermins veroordelend wees (Matt. 7:1-5).
As ons nie met die Here wandel nie is die teenoorgestelde dikwels waar. Ons is verdraagsaam teenoor byna almal, maar ons veroordeel ons broeders en susters in die kerk. Dit moet nie so wees nie!
Ons moet nie die bedoelings van ons broeders hard, blindweg of onverhoord oordeel, of elke woord of optrede skeef aankyk nie. Ons moet nie teenoor ‘n ouderling, predikant of diaken hiperkrities wees, sodat byna alles wat hulle doen met agterdog en argwaan bejeën word nie. Ons moet hulle ook nie uit eiegeregtigheid oordeel om onsself te laat goed voel of goed lyk nie. Laat ons eerder, as mense wat deur Christus verlos en “wedergebore” is “mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart” (I Pet. 1: 22-23).
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)