Ds. Angus Stewart
In Matthéüs 7 laat die Here Jesus ʼn skerp waarskuwing hoor teen sondige oordeel: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (1-2). Dit is bedoel om ons tot ware vrees van die Almagtige God en tot vrees vir bose oordele aan te spoor. Die woorde van Christus moedig ons aan om hierdie onregverdigheid te vermy. Hulle wat sondig oordeel sal nie deur mense geoordeel word nie, maar deur God. Deur God sal hulle streng geoordeel word. Hulle sal deur God geoordeel word aan die oordeel wat hulle aan ander toegemeet het (1-2). As jy dink dat jou sondige oordeel regverdig was, sal jy in eie munt terugbetaal word!
Hierna beklemtoon Christus die sonde van geveinsdheid — om iemand te veroordeel vir ‘n kwaad wat ons self begaan of vir ‘n sonde waaraan ons net so, of meer, skuldig is. “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal” (3-5). Ons is geroep om van ons eie sondes te bekeer en weg te draai (veral as hulle groot is) en dan ons broeder met sy sonde (wat dikwels nie so groot is as ons eie nie) te help (en nie om hom vitterig aan te val nie).
Hoe oordeel God diegene wat ander in hierdie lewe sondig oordeel? Hy gee hulle aan hierdie sonde oor, sodat hulle dit meer en meer en op al hoe meer terreine doen. Die Skrifgedeelte handel met gedrag van mense wat daarop aanspraak maak dat hulle burgers is van die koninkryk van die hemel en wat hulle broeders sondig veroordeel (3-5). Uiteindelik kom dié vraag by diegene wat hulle broeders sondig veroordeel op: “Hoekom sal ek met slegte mense soos hierdie gemeenskap beoefen?” Tensy hulle hul bekeer, verlaat hulle wat hulle broeders sondig veroordeel, dan uiteindelik die kerk. Soms bevind diegene wat hulle broeders en susters met bose harte en dade veroordeel, hulle vroeër of later onder die kerklike tug. In navolging van ouers wat voortdurend hulle broeders veroordeel, verlaat kinders, wanneer hulle ouer is, ook dikwels die kerk.
In die oordeelsdag mag dit inderdaad wel wees dat sondige veroordelaars sal sien dat hulle nooit ware gelowiges was nie! Hulle onvermoë om hulle broeders lief te hê of om aan hulle barmhartigheid te betoon, het gewys dat hulle vreemd was aan die genade van God in die kruis van Christus.
Die Skrif verklaar: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10). Die “ons” sluit die goddeloses én Paulus én Timótheüs (1;1) én die lidmate van die kerk in Korinthe én alle gelowiges, in. Tussen die dinge wat ons gedoen het wat “kwaad” was, sal ook ons sondige veroordeling wees!
Laat ons daarom eerder mekaar liefhê soos Christus ons liefgehad het (Joh. 13:34) en mekaar nie sondig oordeel nie. Laat ons daarom vertrou dat ons sonde in die verlede is, by die kruis waar Christus gesterf het, “die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring” (1 Pet. 3:18)!
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)