Prof. Herman Hanko
Geneem en vertaal deur JB van Heerden, vanuit Far Above Rubies: Today’s Virtuous Women, H. Hanko, red. (Grand Rapids, MI: RFPA, 1992), pp. 87-104, Nota deur die vertaler: Die vraag oor die vrou in die amp van diaken, het in die laat sewentiger jare in die “Christian Reformed Church” (VSA) ter sprake gekom. Dit is voorspel dat dit net ‘n trappie was in die proses om vroue tot al die ampte toe te laat (Vroue is tot alle ampte toegelaat in die CRC aan die begin van die 1990’s, en daar is tans debat oor die stand van sake i.v.m. homoseksualisme in die CRC. Dieselfde tendens kan gesien word in die NGK in SA, nl. dat vrouens eers tot die ampte toegelaat is aan die einde van die 20ste eeu, en vandag (2003) is die debat oor homoseksualisme in die NGK vurig aan die gang – red.). In hierdie tyd was prof. Herman Hanko ‘n dosent in Nuwe Testament en Historiese Teologie aan die “Protestant Reformed Seminary” in Grand Rapids, Michigan. Hy het ‘n reeks artikels geskryf in die Standard Bearer in Desember 1978 en Januarie 1979 waarin hy hierdie vraagstuk aangespreek het. Met die uitgangspunt dat diakens ook ‘n gesagsdraende amp in die kerk is, toon hy aan dat die vrou in die diakenamp deur die Bybel verbied word. Sy oorspronklike artikels was in die vorm van ‘n aantal briewe aan Timotheus. Dit is net so in die oorspronklike vorm gelaat en vertaal.
(1) Beste Timotheus,
In ons gesprek oor die ampte in die kerk van Christus, is dit nou tyd dat ons in die besonder kyk na die amp van diaken.
Jy het in jou vorige brief my daaraan herinner dat dit gebruiklik word in verskeie denominasies om vroue in die ampte te bevestig. Jy noem spesifiek die “Christian Reformed Church” wat onlangs besluit het om die vrou toe te laat in die amp van diaken. Jy vra dat ek kommentaar lewer hieroor in die lig van hierdie briewe oor die ampte.
Ek is nie van plan om die hele vraagstuk oor die vrou in die amp van ouderling en predikant te probeer aanspreek nie; ons sal egter baat daarby om te kyk na die vrou in die amp van diaken in die lig van die “Christian Reformed Church” se onlangse sinodale besluite.
Febé
Een van die skrifgedeeltes wat aangehaal word ter ondersteuning van die argument vir die vrou as diaken, is Romeine 16:1-2: “Ek beveel by julle aan ons suster Febé, wat ‘n dienares is van die gemeente in Kenchrië, dat julle haar ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam, en haar bystaan in elke saak waarin sy julle nodig mag hê. Want sy was vir baie ‘n beskermster en ook vir my.” Die rede waarom hierdie gedeelte aangehaal word ter ondersteuning van vroulike diakens, is omdat die woord dienares in die sin “dienares is van die gemeente,” ook vertaal sou kon word met die woord “diakones”. Dit is dieselfde woord, hoewel die vroulike vorm, wat in ander teksgedeeltes met die woord “diaken” vertaal word. Die gevolgtrekking word dan gemaak dat Febé ‘n diakones in die kerk in Kenchrië was en dat dit Paulus se goedkeuring weggedra het. Omdat Paulus ‘n apostel was deur wie God aan ons die Skrifte geopenbaar het, word dit dan as regulerend vir ons vandag voorgehou.
Dit is nodig om vir ‘n oomblik hier stil te staan, want hoewel ‘n hele aantal ander tekste aangehaal en bespreek word in die debat oor hierdie omstrede saak, is hierdie in ‘n sekere sin die bepalende gedeelte omdat dit die enigste skrifgedeelte is wat ‘n positiewe stelling maak en klaarblyklik toestemming gee vir diakonesse.
Die Skrif vertel ons nie veel van Febé nie. Inteendeel, alles wat ons van haar weet, word vertel in hierdie paar verse.
Die stad van Kenchrië waarvan sy ‘n inwoner was, was geleë net suidoos van Korinthe in die suidelike deel van die Griekse skiereiland—bekend as Achaie. Die kerk in Kenchrië het moontlik tot stand gekom tydens Paulus se tweede sendingreis gedurende sy werk in die stad Korinthe. Paulus het dikwels een stad die middelpunt van sy werk gemaak, en die evangelie het van daar af na al die omliggende gebiede uitgegaan (sien Handelinge 19:10).
Febé was waarskynlik ‘n vermoënde vrou wat na Rome gereis het vir besigheid—want Paulus vra vir die gemeente in Rome om haar by te staan in “in elke saak waarin sy julle nodig mag hê”
<p”>As dit waar is dat Paulus se brief aan die gemeente in Rome geskryf is in Korinthe (en dit was waarskynlik so), dan mag dit so wees dat hy die brief saam met haar gestuur het. Dit sal die aanbeveling verklaar wat hy aangaande haar in hierdie 2 verse van Romeine 16 maak. Dit was dan ook die tradisionele opvatting van die kerk en ons lees aan die einde van die brief: “Geskryf aan die Romeine van Korinthe, en gestuur deur Febé, dienares van die gemeente in Kenchrië.”
Die Here het haar gered en sy het ‘n belangrike plek in die gemeente van Kenchrië ingeneem—wat hierdie plek dan ook al presies was.
Paulus self het oorgebly in Kenchrië nadat hy sy werk in Korinthe afgehandel het, en voordat hy na Jerusalem gegaan het. Daar het hy sy kop geskeer as ‘n nakoming van ‘n gelofte wat hy aan God gemaak het.
Dit is al wat ons weet van Febé. Die vraag is: Was sy ‘n diakones?
Sover dit die woord self betref, is dit waar dat die woord wat as “dienares” vertaal is in Romeine 16:1, net so wel vertaal kon word met “diakones.” Dit gee ons geredelik toe. Dit is egter opvallend dat die vertalers van die King James vertaling (en die Ou en Nuwe vertalings in Afrikaans – JBvH), dit nie gedoen het nie. Die vraag is: Waarom?
Buiten hierdie gedeelte, is daar net twee plekke in die hele Nuwe Testament waar die woord verwys na die amp van diaken. Dit sal goed wees om vir ‘n oomblik by hierdie twee gedeeltes stil te staan, want dit het wel betrekking op hierdie saak.
I Timotheus 3:8-13
Die eerste plek is I Timotheus 3:8-13 wat lui: “Net so moet die diakens waardig wees, nie uit twee monde spreek nie, nie verslaaf aan wyn nie, geen vuilgewinsoekers nie, manne wat die verborgenheid van die geloof in ‘n rein gewete hou. En hulle moet ook eers ‘n proeftyd deurmaak; daarna, as hulle onberispelik is, kan hulle dien. Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles. Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer. Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle ‘n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus“
Die rede waarom ek hierdie gedeelte aanhaal, is nie alleen omdat dit een van die twee plekke is waar die woord vir “diaken” verwys na die amp van diaken nie, maar ook omdat hierdie gedeelte ook aangehaal word om die bestaan van vroulike diakonesse in die vroeë apostoliese kerk te bewys. Die argument is gebaseer op vers 11. Die King James vertaling lees: “Even so must [their] wives be grave, not slanderers, sober, faithful in all things.“1 Die woord wat met “wives” vertaal is, kon ook met “women” vertaal word; en die woord “their” kom nie voor in die oorspronklike Grieks nie. Dit is waarom dit in die King James vertaling kursief gedruk is. Daar is dus verskillende vertalings van hierdie gedeelte. Die Philips vertaling, die New English Bible en die New International Version doen almal dieselfde. Maar die Revised Standard Bible doen dit nie—”The women likewise must be serious.”2
Daar is dus verskillende vertalings en interpretasies van hierdie gedeelte. Hendriksen sê die gedeelte verwys na die diakens se helpers. Lenski daarenteen beweer dat hier gepraat word van diakonesse. Ander weer dring daarop aan dat hier gepraat word van die diakens se vroue. Ons stem saam met laasgenoemde. Ds. George Lubbers skryf in die Standard Bearer (vol. 38, p. 203):
Die eerste interpretasie hou voor dat Paulus hier praat van die vereistes vir vroue om verkies te kan word tot die amp van diakones. Die rede wat aangevoer word is dat die woorde “Net so” in vers 11, moet, net soos in vers 8, verwys na die oorgaan na ‘n nuwe tipe amp.
Die tweede interpretasie is dat Paulus hier praat van die vroue van diakens. Die aandag word gevestig daarop dat Paulus nie werklik êrens begin praat van ‘n nuwe of verskillend tipe ampsdraer—diakonesse—nie, maar dat hy moet verwys na die vroue van die diakens omdat hy die voorskrif invoeg in die middel van die instruksies wat hy gee aangaande die nodige kwalifikasies waaroor diakens moet beskik wat tot die amp geroep word. Verder praat Paulus nie hier van “diakonesse” nie, maar slegs van “vroue,” terwyl daar ander plekke is waar Paulus, as hy verwys na vroue wat aangestel is in spesiale dienste in die gemeente, hy dit doen met die woord “dienaresse” of “diakonesse.”
Ons is van mening dat laasgenoemde interpretasie van die gedeelte die korrekte verstaan daarvan is.
Ons kan nog iets byvoeg by dit wat tot nou toe gesê is oor hierdie gedeelte. Dit is dat presies dieselfde woord in die volgende vers gebruik word, waar Paulus uitdruklik skryf: “Die diakens moet manne van een vrou wees.” As Paulus in vers 11 na die spesiale amp van diaken verwys het, sou hy maklik die woord vir diakones hier kon gebruik en nie dieselfde woord as wat in die daaropvolgende vers as vroue (“wives”) vertaal moet word nie.
Hierdie gedeelte gee dus voorskrifte vir die amp van diaken en leer uitdruklik dat al hierdie kwalifikasies betrekking het op diakens wat manne is.
Die tweede gedeelte waar die woord “diaken” verwys na die amp van diaken is in Fillipense 1:1 “Paulus en Timotheus, diensknegte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Fil¡ppi is, saam met die opsieners en diakens.”
Hier is die verwysing na die amp van diaken omdat “diakens” genoem word in dieselfde asem met “opsieners”—‘n ander naam vir ouderlinge.
Hierdie is die enigste twee plekke in die Nuwe Testament waar die woord duidelik verwys na die spesiale amp van diaken.
Ander plekke
Daar is egter talle plekke waar die woord gebruik word, waar dit onmoontlik kan verwys na die amp van diaken. Daar is so baie van hierdie voorbeelde dat die moeilik is te kies. Ons verwys net na twee. In Johannes 12:26 se Jesus: “As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.” In hierdie gedeelte is die woord wat met “dienaar” vertaal is, dieselfde woord wat met “diaken” vertaal kan word. Dit is egter duidelik uit die gedeelte dat dit nie na die amp van diaken kan verwys nie, omdat Jesus praat van al sy mense wat Hom dien.
In Mattheus 23:11 lees ons: “Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.” Ook hier kan dienaar nie verwys na die amp van diaken nie—al is dit dieselfde woord in die oorspronklike teks wat in 1 Timoteus 3 met “diaken” vertaal is.
Wat ons bewys het, is dat hierdie woord, hoewel dit vertaal kan word met “diaken”, nie so vertaal hoef te word nie. Dit is omdat die betekenis van die woord afgelei is van ‘n werkwoord wat beteken “om diensbaar te wees vir die nood van ‘n ander.”
Vertaalkwessie
Noudat ons so ver gevorder het, moet ons nog bewys dat die woord soos dit gebruik word in Romeine 16:1, nie korrek vertaal kan word met die woord diakones nie.
Dit kan maklik gedoen word.
Ons moet eerstens onthou wat ek in die algemeen aan jou gesê het in ‘n vorige artikel oor die werk van die ampte in die kerk. Onthou dat ek beklemtoon het dat wat die ampte in gemeen het, is dat hulle almal die Woord van God bring aan God se gemeente. Hulle doen dit almal in ooreenstemming met die aard van elke amp, maar nogtans is almal dienaars van die Woord. Hulle praat almal in die naam van Christus. Hulle is almal bedienaars van Christus se Woord. Nie een van hulle dra gesag buite die Skrif om nie. Die predikante bring die Woord as profete wat die Woord bedien deur die prediking. Die ouderlinge spreek die Woord as konings en regeer deur die Woord in die gemeente. Die diakens bring die Woord wanneer hulle praat van die genade wat Christus aan Sy skape in verdrukking betoon. Maar hulle bedien die Woord. Om enige iets anders te beweer beteken dat mens die ampte heeltemal misverstaan. Dit is daarom ook waarom ons Formulier vir die bevestiging van diakens, die diakens se taak beskryf as: “… die bring van troos vanuit die Skrif.“
Hierdie hele vraag moet nog in meer besonderhede bestudeer word. Maar ons sal daarvoor moet wag vir ‘n volgende brief.
Broederliefde in Christus
H. Hanko
(2) Beste Timoteus,
In ons laaste brief het ons gepraat oor die werk van diakens. Ek het jou vraag gedeeltelik beantwoord oor die onlangse besluit van die “Christian Reformed Church” om vrouens tot die amp van diaken toe te laat, solank hulle nie as ouderlinge dien of dieselfde gesag as ouderlinge dra nie. Ek het egter nog nie alles hanteer nie. Ons het gepraat oor die gebruik van die woord “diaken” en “diakonesse” in die Bybel en het tot die gevolgtrekking gekom dat die “Christian Reformed Church” dwaal in hierdie verband. Daar is nog ‘n verdere aspek wat ek hier verder wil bespreek.
Die gesag van diakens
Die hele argumentering van die “Christian Reformed Church” ter verdediging van hulle besluit, berus op die verkeerde idee dat diakens nie gesag dra binne die kerk nie. Dat dit die geval is (hoewel hulle dit nie in soveel woorde sê nie), is duidelik omdat hulle nie toelaat dat vrouens die amp van ouderling of predikant mag beklee nie en ook nie toelaat dat gemeentes vroue tot diakens verkies indien hierdie vrouens daardeur deel verkry aan die werk van die ouderlinge of gesag wat die ouderlinge beklee nie.
Hierdie standpunt word hoegenaamd nie gedeel deur almal in die “Christian Reformed Church” nie. Daar is diegene wat beweer dat vrouens in enige van die ampte mag dien en hulle hou vol dat die kerk fouteer as hulle vrouens die ampte verbied. Daar is ander (en dit is hulle wat die sterkste was op die sinode) wat glo dat vrouens nie as ouderlinge of predikante mag dien nie, maar wel as diakens omdat daar nie gesag uitgeoefen word in die amp van diakens nie.
Om dit anders te stel: daar is skrifgedeeltes wat die dra van gesag deur vroue in die gemeente aanspreek, maar daar is verskillende interpretasies van hierdie gedeeltes. Die twee duidelikste gedeeltes is I Korinthiërs 14:34-35 en 1 Timoteus 2:11-12. Diegene wat glo dat vrouens nie in die ampte van ouderlinge en predikant mag dien nie, beskou hierdie gedeeltes as deurslaggewend. Daarteenoor beweer diegene wat voorstanders is van vrouens in hierdie ampte, dat hierdie gedeeltes voorskriftelik was vir die tyd van Paulus, maar dat die nie normatief is vir die kerk van vandag nie.
Daar is dus drie standpunte:
- Diegene wat volhou dat die vrou in geen van die ampte mag dien nie.
- Hulle wat sê dat vrouens wel diakens mag wees, maar nie as ouderling of predikant nie.
- Hulle wat beweer dat vrouens in al die ampte mag dien.
Ons het vir eers hoofsaaklik na die tweede groep gekyk. Hierdie groep is van mening dat die amp van diaken, ‘n amp sonder gesag is. Ons moet dus twee goed aandui. In die eerste plek dat die twee gedeeltes waarna ons verwys het, die vrou duidelik verbied om gesag te dra in die gemeente; en ons moet bewys dat die amp van diaken ook ‘n amp is wat gesag dra. Indien hierdie twee dinge bewys kan word, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat die Bybel vroulike ampsdraers verbied.
Dat die twee gedeeltes hier ter sprake verbied dat vrouens ‘n posisie van gesag mag beklee in die kerk, word deur feitlik almal erken. Hierdie skrifgedeeltes is so duidelik dat selfs diegene wat die toelating van die vrou tot die ampte bepleit, nie soseer die interpretasie van hierdie gedeeltes bevraagteken nie—hulle skuif net hierdie gedeeltes na die ashoop van “uitgediende praktyke.” Die gedeeltes was relevant vir die tyd van Paulus toe vroue as minderwaardig beskou is; maar dit is nie op ons van toepassing nou dat ons geleer het dat mans en vrouens eintlik gelyk is nie.
Swyggebod
Die twee gedeeltes lui as volg: “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek” (I Kor. 14:34–35). “Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou” (I Tim. 2:11-12).
Hierdie tekste is duidelik. Daar is ‘n paar punte wat ons in hierdie verband kan oplet:
- Beide gedeeltes handel oor die kerk, en dit word gewoonlik toegegee deur al die kommentators. Die gedeelte in Korinthiërs praat duidelik van die kerk, want dit word in soveel woorde gesê: “Julle vroue moet in die gemeentes swyg.” Dit is egter ook waar van die gedeelte in Timoteus. Hierdie hele hoofstuk handel oor gebruike in die gemeente. In die eerste verse praat Paulus reeds van die gebede wat in die eredienste gespreek moet word—wat Timoteus as predikant moet lei. Hierdie gedeelte is nooit deur die kerk op die lewe in die algemeen toegepas nie. Paulus sê dat vrouens nie mag onderrig gee nie, maar niemand—na my wete—het nog ooit gesê dat vrouens nie hulle kinders tuis mag onderrig nie, of dat hulle nie in Christelike skole mag klas gee nie, of dat hulle nie sondagskool onderrig mag gee nie.
- Beide gebied die vroue tot swye. Dit beteken dat terwyl vroue opdrag kry tot onderhorigheid aan gesag, gebied dit hulle ook om stil te bly. Hulle mag nie onderrig gee nie. Hulle onderhorigheid aan gesag binne die kerk word uitdruklik beskryf as stilswye in die amptelike en geïnstitueerde aktiwiteite van die gemeente.
- Paulus stel dit in Korinthiërs duidelik dat dit net ‘n reël is wat van toepassing is op die omstandighede waarin die gemeentes van sy tyd hulle bevind het nie, maar hy stel uitdruklik dat dit ‘n saak van die wet is, “soos die wet ook sê.” Die hele normatiewe aanspraak van die wet is hier op die spel.
Dit leer dus sonder twyfel, dat vrouens geen posisie van gesag mag beklee binne die kerk nie—veral nie ‘n posisie van gesag waar hulle praat nie. En nou is die vraag: is dit waar van die amp van diaken? Almal erken dat dit waar is in die geval van die amp van ouderling en predikant. Maar is dit ook waar van die amp van diaken? Dit is die vraag wat nog beantwoord moet word.
Vereistes vir diakens
Daar is verskeie redes waarom ons die standpunt moet inneem dat diakens ook gesag het in die kerk en geroep is om die Woord van God te spreek. Ons sal die tyd nou gebruik om hierdie redes op te noem en kortliks te bespreek.
1. Daar is twee plekke waar die Bybel praat oor die kwalifikasies van diakens en op beide plekke word kwalifikasies genoem wat betrekking het op ‘n spesiale amp met gesag en die bediening van die Woord. Die eerste gedeelte is Hand 6:1-7 waar ons ‘n rekord het van die instelling van die amp. Die stuk waarop ons ons aandag wil vestig is vers 3: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel.” Dit behoort duidelik te wees aan enige iemand dat—as hierdie manne met niks anders toevertrou is as om genoeg kos vir die Griekssprekende weduwees te voorsien nie—hulle nie manne hoef te gewees het wat vol was van die Heilige Gees en wysheid nie. Dit verg nóg die Heilige Gees, nóg wysheid om toe te sien dat sekere weduwees genoeg het om te eet. Hierdie vereistes dui daarop dat daar meer van hulle verwag is. Hulle sou werk hê wat hulle alleenlik kon verrig as hulle vol is van die Heilige Gees en van wysheid. Dit is interessant om op te let dat twee van die diakens ook evangeliste was wat die evangelie verkondig het. Stephanus en Philipus het altwee gepreek. En alhoewel hierdie amp van evangelis uniek was in ‘n sekere sin, moet ons nogtans daarop let dat die vroeë kerk dit nie snaaks gevind dat die twee diakens gepreek het nie. As ek ‘n voorstander was vir vroulike ouderlinge en predikante, sou ek my sekerlik op hierdie gedeelte beroep het. Ek sou geargumenteer het: as die Bybel vroulike diakens toegelaat het, het ons geen rede om vrouens uit die amp van ouderling en predikant te hou nie, want dit is duidelik in Handelinge dat twee van die Nuwe Testamenties diakens ook gepreek het.
Dieselfde geld vir die gedeelte in I Timoteus 3 waar Paulus praat oor die vereistes vir diakens. Hy meld onder andere “… manne van goeie karakter wees. Hulle moenie uit twee monde praat nie,” “Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou,” “sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer.” Weereens, as die werk van diakens alleen is om geld te verdeel, waarom word al hierdie vereistes genoem wat niks met hierdie werk te doen het nie. Waarom moet ‘n diaken van goeie karakter wees en nie uit twee monde praat as hy nooit in die gemeente praat nie? Waarom moet ‘n diaken “in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou” as hy nie die Woord van God moet bedien aan diegene in nood nie? Waarom moet die diaken bewys dat hy sy kinders en huisgesin goed regeer as hy geen gesag in die gemeente gaan uitoefen nie? Nee, ons moet tot die gevolgtrekking kom dat die amp van diaken ook inhou om met gesag vanuit die Skrif te praat.
Hierdie gedeeltes vanuit die Skrif is deurslaggewend. As vrouens moet stilbly in die gemeente en nie gesag dra oor mans in die kerk nie, dan is dit duidelik dat hulle ook nie in die amp van diaken kan funksioneer nie. Maar daar is meer.
2. Dat diakens die Woord van God met gesag dra vloei ook voort uit die aard van die amp. Dit is ‘n basiese beginsel in die gereformeerde kerk beleid dat Christus en Hy alleen die Ampsdraer in sy kerk is. Dit word duidelik geleer op baie plekke, maar Petrus sê dit in soveel woorde in I Petrus 2:25: “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.” Dat Christus die enigste Ampsdraer in sy kerk is, beteken eenvoudig dat al die sorg vir die kerk uitgeoefen word deur Christus. Hy alleen voorsien aan al die nodige vir sy mense. Hy alleen, as die Goeie Herder voed en versorg hulle. Hy alleen red en verlos hulle. Hy alleen voer alle gesag oor hulle uit. En Hy doen dit op so ‘n manier dat Hy hulle Profeet, Priester en Koning is. Hy voed hulle deur sy Woord. Hy regeer oor hulle en tugtig hulle. Hy voorsien in hulle behoeftes. Hy maak hulle hartseer en pyn, hulle siektes en armoede, hulle moeilikhede en swaarkry die voorwerp van sy simpatie en genadige sorg.
Hierdie sorg van Christus word uitgeoefen oor al sy skape deur die ampte wat Hy in sy kerk ingestel het, want Hy is in die hemel en ons is op die aarde. Ons sal eendag in die hemel wees en dan geen verdere nut hê vir ouderlinge, predikante en diakens nie, want ons sal by Christus wees. Maar terwyl ons op aarde is, het ons dit nodig. Christus het daarvoor voorsiening gemaak.
Die gesag wat Christus uitoefen deur die ampte, word uitgeoefen deur al die ampte. Daar is nie twee ampte wat gesag dra en een sonder gesag nie. Dit is absurd. As een dit nie het nie, dan is dit nie ‘n amp in die kerk nie. Maar al drie is ampte, ingestel deur Christus waardeur Christus na ons toe kom in ons nood.
Daar is nog redes waarom ons die amp van diaken moet sien as gesagsdraend, maar ons sal die bespreking daarvan moet uitstel na ‘n volgende brief.
Broederliefde in Christus,
H. Hanko
(3) Beste Timotheus,
Jy sal onthou, as ek vir ‘n oomblik ons bespreking tot nou kan hersien, dat ons gepraat het oor die vraag of Skrif vroue toelaat om te dien in die amp van diaken. In ons eerste brief het ons aangedui dat die Skrif nêrens praat van diakonesse nie. Omdat dit hoofsaaklik ‘n argument is gebou op die stilswye van die Skrif in hierdie verband, het ons voortgegaan en aangedui dat die Skrif vrouens uitdruklik verbied om in die ampte te dien. Ons het kortliks twee skrifgedeeltes bespreek, I Korinthiërs 14:34-35 en I Timoteus 2:11-12 om aan te dui dat die Bybel vrouens beveel om stil te wees in die kerk. Daarna het ons, om aan te dui dat dit die amp van diaken insluit, ‘n bespreking begin oor die aard van die amp van diaken—dat dit waar is van hierdie amp, net soos van ouderling en predikant, dat dit gesag dra in die kerk en ook geroep is om die Woord van God te bedien. Ons het eerstens aangevoer dat dit waar is, gebaseer op twee skrifgedeeltes waarin die aard van die diaken amp bespreek word: Handelinge 6:1-7 en I Timoteus 3:8-13. Ons het tweedens geargumenteer vanuit die aard van die amp self. Christus is die enigste Ampsdraer in sy kerk wat voorsien aan al die behoeftes van sy gemeente. Hy doen dit deur die spesiale ampte in die kerk omdat Hy deur hierdie spesiale ampte sy gesag uitoefen, ‘n gesag wat altyd die gesag is van sy Woord.
Die Woord van Christus bedien
Ons wil hierdie onderwerp verder toelig. Toe ek in die laaste brief geskryf dat die amp van diaken ‘n amp is wat gesag dra en waarin diakens die Woord bedien, wou ek nie daardeur impliseer dat dit twee losstaande funksies van die amp is nie. Jy moet nie uit hierdie opmerkings aflei dat die roeping van diakens om die Woord van God te bedien aan sy volk onderskei moet word van die roeping om gesag uit te oefen oor hulle nie. Dit is duidelik nie so nie.
Hoewel dit waar is dat die gesag wat enige ampsdraer oor beskik in die kerk ‘n gesag is wat voortvloei uit die amp waartoe Christus hom geroep het, nogtans is dit altyd en alleenlik die gesag van die Woord van Christus wat deur die ampsdraer bedien word. Alleen Christus se Woord het gesag binne die kerk. Daarom oefen die ampsdraers alleenlik gesag uit wanneer hulle kom met die Woord van Christus.
Dit bring ons by die derde opmerking wat ons moet maak in verband met die reg van mans alleen om die amp van diaken te beklee. Dit is nie reg om te onderskei tussen die amp van diaken aan die een kant en die ampte van ouderling en predikant aan die ander kant gegrond op die implisiete of eksplisiete gronde dat diakens nie gesag beklee nie. En dat daarom, solank as vrouens alleen tot die amp van diaken toegelaat word, mag hulle die amp beklee omdat hulle nie optree teen die voorskrifte in I Korinthiërs 14:34-35 en I Timoteus 2:11-12 nie. Of, om dit anders te stel, as vrouens toegelaat word tot die amp van diaken, dan word aan hulle die reg gegee om “in die kerk te praat,” iets wat die Bybel uitdruklik verbied.
Dit bring ons by die vierde punt wat gemaak moet word. Daar is nog altyd aan vasgehou in die gereformeerde beleid dat daar ‘n oorvleueling is in die pligte van die verskillende ampte. Terwyl dit so is dat elke ampsdraer geroep word deur Christus om die Woord van God te bedien volgens die aard van die amp waartoe hy geroep word, of dit die amp van diaken, ouderling of predikant is, is dit ook waar dat—omdat die gesag van al die ampte die gesag is van die Woord van Christus—hierdie ampte noodwendig ‘n oorvleueling sal ervaar in die werklike lewe van die gemeente. Daar is baie voorbeelde daarvan. Die Kerkorde maak dan ook voorsiening vir so ‘n oorvleueling. In artikel 16 word die tug toegewys aan beide predikante en ouderlinge. “… eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.” En verder lees ons in artikel 38: “As die aantal ouderlinge klein is, kan die diakens deur plaaslike reëling by die kerkraad gereken word; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.” Van Dellen en Monsma maak ‘n paar interessante opmerkings in hierdie verband in hulle The Church Order Commentary. Hulle skryf:
Ten eerste, die drie ampte van die N.T. kerk is afgelei van die die drievoudige amp van Christus en stem daarmee ooreen … Elke amp het sy onderskeie taak, hoewel die ampte in ‘n mindere of meerdere mate met mekaar in verband staan en hulle hulle eenheid vind in Christus.
Wanneer dit nodig is, kan die drie ampte saamwerk in die regering van die kerk van Christus en die omsien na die armes. Ouderlinge tree dan op as assistent-diakens en diakens as assistent-ouderlinge. Dit moet gedoen word in klein gemeentes waar daar minder as drie ouderlinge is.
Hierdie spesiale reeling van volle samewerking tussen die ampte is moontlik in die lig van die eintlike eenheid van die ampte in Christus …
Uit die voorgaande is dit duidelik dat, wanneer die diakens deel vorm van die kerkraad, hulle gereken moet word as volwaardige kerkraadslede. Hulle het ‘n stem en spreekbeurt in alle sake wat betref die regering van die kerk, net soos die ouderlinge in hierdie geval ‘n stem en spreukbeurt het in alle sake rakende die kerk se werk van barmhartigheid. Om diakens die reg te ontsê in die geval van dissiplinêre aangeleenthede sou teen die Kerkorde en die take wees wat plaaslik aan hulle opgedra is (p. 166).
Die vraag kan nou gevra word of dit ook waar is vir gemeentes waar die ouderlinge en diakens afsonderlik vergader. Die antwoord is dat selfs waar die ouderlinge en diakens afsonderlik vergader, hulle nogtans gesamentlik vergader oor sake wat betrekking het op die gemeente as geheel waaronder sake is wat betref die regering van die kerk. VanDellen en Monsma haal Jansen aan oor die sake wat hanteer moet word deur algemene vergaderings waar beide die ouderlinge en die diakens teenwoordig is. Hierdie sake sluit in:
- Al die sake wat betref die verkiesing van ampsdraers: nominasies, finale besluite of iemand wat verkies is tot die amp, geroep moet word, oorweging van besware wat ingedien is, ens.
- Die uitreik en ontvang van sertifikate van predikante wat aankom of vertrek.
- Besluite rakende emeritering.
- Kerk visitasie.
- Administrasie van finansies.
- Algemene administrasie van sake van barmhartigheid.
- Algemene besigheidsadministrasie van die materiële belange van die kerk.
- Oorweging van algemene korrespondensie.
Dit is dus duidelik dat selfs in gemeentes waar die diakens en ouderlinge afsonderlik vergader vir hulle eie unieke take, daar heelwat sake is wat deur die diakens en die ouderlinge gesamentlik hanteer word. Hierdie sake sluit sake in wat die regering van die kerk betref. As vrouens tot die amp van diakens toegelaat word, sal hulle dus uit die aard van saak ‘n inspraak verkry oor sekere aspekte rakende die regering van die kerk. Dit sou ‘n direkte oortreding wees van die voorskrifte in die Bybel.
Hierdie feit strek selfs verder as wat ons hierbo bespreek het. As vrouens tot diakens verkies word, is daar niks wat verhinder dat hulle nie ook eredienste kan lei in gemeentes waar die diakens deel vorm van die kerkraad nie. So kan ons aangaan.
Artikel 84, Kerkorde
Die hele punt is dat die beginsel van Artikel 84 van die Kerkorde ‘n skriftuurlike beginsel is. Die artikel lui: “Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.” Positief uitgedruk, leer hierdie artikel ons dat al die ampte gelyk is. Hulle is gelyk omdat hulle almal verteenwoordigers van Christus is deur wie dit Hom behaag om sy kerk op aarde te regeer. Daar is nog een saak wat ons kan noem in hierdie verband.
Die waardigheid van die vrou
Dit wil soms voorkom asof diegene wat ten gunste is van vroue in die ampte, dit doen omdat hulle redeneer dat—as vrouens nie toegelaat word tot die ampte nie—dit sou neerkom dat vroue in ‘n minderwaardige posisie in die kerk verlaag word. Die argument klink soos volg: Om ‘n amp te beklee, is om ‘n posisie van gesag te beklee oor andere. Diegene wat in gesagsposisies geplaas word, is vanweë hierdie feit, in ‘n meerderwaardige posisie. Diegene wat uitgesluit is uit posisies van gesag, word geplaas in onderhorigheid aan gesag en word dus geplaas in minderwaardige posisies in die kerk. Dit is ‘n vals argument en is gebaseer op ‘n ernstige misverstaan van die ampte. Die Skrif is baie duidelik oor hierdie punt dat hulle wat gesagsposisies in die kerk beklee, beklee nie meerderwaardige posisies oor ander sodat hulle—vanweë hulle amp—ander kan beskou as van ‘n laer status nie. Inteendeel. Dit is duidelik uit die Here se onderrig in Johannes 13:12-17. Gedurende die viering van die laaste Pasga saam met sy dissipels, het Christus die geleentheid gebruik om sy dissipels se voete te was. Nadat hy klaar was, en nadat hy Petrus se besware aangespreek het, sê Hy:
Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.
Jesus se onderrig hier is baie duidelik. Hy was die Meester en Heer van sy dissipels. Tog neem Hy op homself die geringste van take—‘n taak wat normaalweg gegee is aan die geringste van die slawe. Hy het dit gedoen om aan hulle te toon dat Hy as hulle Heer, hulle Dienskneg geword het. Sy Heerskappy kon alleen reg uitgeoefen word, deur te word soos die geringste van hulle slawe. En Hy het dit gedoen toe Hy gelei het, gesterf het aan die kruis om hulle sondes weg te neem en hulle rein te was deur sy bloed.
Maar Hy het hier ‘n basiese beginsel van regering neergelê toe Hy gesê het: “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” Die waarheid is dus net die teenoorgestelde. Om so ‘n posisie te beklee is om die slaaf te word van hulle oor wie hulle aangestel is. Alleenlik dan sal hulle waarlik die rol vervul van hulle posisie van gesag. So is dit altyd in die kerk. Ampsdraers is die dienaars en slawe van hulle oor wie hulle aangestel is. So gesien, is dit dus die minderwaardige posisie. Miskien, as dit reg verstaan word, sal daar minder van hierdie verspotte propaganda wees vir gelyke regte vir vroue in die kerk.
So, Timoteus, het ons dan gekom aan die einde van die argument. Vanuit elke gesigspunt, verbied die Bybel die vrou om in die ampte te dien. Mag God gee dat ons getrou bly aan sy Woord.
Broederliefde in Christus,
H. Hanko
______________________