Ronald Hanko
Ons het gesien dat amillennialisme nie die duisend jaar van Openbaring 20 letterlik verstaan nie, maar as ʼn simboliese verwysing na die hele Nuwe Testamentiese tyd. Die simbolisme word gevind in die feit dat 1 000 die getal is van 10 X 10 X 10, waar 10 volledigheid verteenwoordig. Dit is hierdie nie-letterlike verstaan van die duisend jaar wat ons graag verdedig.
Ons het reeds daarop gewys dat “duisend” in die Skrif nie altyd letterlik verstaan moet word nie. God besit nie net die vee op duisend berge nie, maar op al die berge (Ps. 50:10). Ander gedeeltes van die Psalms waar “duisend” nie letterlik is nie, maar alle of die geheel, is Psalm 84;10, Psalm 91:7 en Psalm 105:8. Hulle wat sê dat die getal altyd letterlik opgeneem moet word – ook in Openbaring 20 – is verkeerd.
Ons wys ook daarop dat daar ander dinge in Openbaring 20 is wat nie letterlik opgeneem kan word nie. Satan is nie in verse 1 en 2 letterlik ʼn draak nie en Satan, wat ʼn gees is, kan ook nie letterlik met ʼn ketting geboei word nie (lees ook Lukas 24:39). Meeste van ons sal ook verstaan dat die verwysing na ʼn “put” in Openbaring 20:3 ʼn verwysing is na die hel, die woonplek van Satan, en nie na ʼn gat in die grond nie. Later in die hoofstuk is Antichris nie ʼn “dier” (vs. 10) in die letterlike sin nie, en die boek van die lewe (vs. 12) nie ʼn letterlike boek van papier en gedrukte bladsye nie.
Talle dinge in die res van Openbaring kan nie letterlik verstaan word nie. Geen Christen wat ons van weet, verwag, byvoorbeeld, dat sy loon ʼn wit klip met sy naam daarop, sal wees (2:17) of dat hy in die hemel in ʼn “pilaar” sal verander (3:12) of dat Jesus werklik ʼn swaard vir ʼn tong het nie (1:16).
Dit is opvallend dat hulle wat die mees uitgesproke op ʼn letterlike verstaan van die duisend jaar aandring en sê dat enigiets anders ontrou is aan die Skrif, self nie die verwysing na siele in Openbaring 20:4 as letterlik wil aanvaar nie. Hulle hou vol dat dit nie letterlik siele sonder liggaam is nie, maar volledige persone.
Ons herinner ons lesers daaraan dat die Skrif self nie ʼn streng en nougesette literalisme vereis nie; dit veronderstel in teendeel dat vergeesteliking vir verklaring van die Skrif nodig is. In 1 Korinthiërs 2:14 word vir ons gesê: “… die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word”. Daar is in die Skrif nog vele gevalle van vergeesteliking. Galasiërs 4:21-31 is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.
Die regte manier waarop die Skrif verklaar moet word, is nie ʼn onmoontlik nougesette literalisme nie, maar om die Skrif toe te laat om homself te verklaar. Die Skrif doen dit deur aan te toon dat “duisend” soms simbolies verstaan moet word (Ps. 84:10); dat die binding van Satan moes plaasvind tydens die menswording van Christus (Matt. 12:29); en dat die duisend jaar by die einde van die wêreld ten einde loop (Openb. 20:7-15). Die enigste moontlike gevolgtrekking, op grond van die Skrif self, is dat die duisend jaar na die hele Nuwe Testamentiese tyd verwys.
Is al die dinge van belang? Dit is inderdaad. As daar nog ʼn duisendjarige tyd op die einde van die teenswoordige tyd moes volg, sou die hemelse hoop van die gelowiges en die finale oordeel so ver weg wees dat die roeping om te waak en te bid en om op die wederkoms van Christus voor te berei, naderhand betekenisloos sou word. Die dringendheid van ons roeping om te wag en uit te sien na die einde, berus op ons sekerheid dat hierdie dinge gou kom.
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.