Ds. Angus Stewart
Baie dinge word van Melgisédek in die loop van Hebreërs 7:1-3 gesê, maar dít is die hoofinhoud van daardie lang sin: “Want hierdie Melgisédek … gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur” (1, 3). Eenvoudig gestel is Melgisédek ‘n tipe van Christus dáárin dat God Hom “gelykgestel [het] aan die Seun van God.” Melgisédek is ‘n tipe van Christus, nie met betrekking tot sy goddelike en menslike natuur óf tot sy profetiese amp nie (Moses is die groot tipe van Christus as profeet volgens Deuteronomium 18:15-19). Melgisédek is tipe van Christus in sy priesterlike amp, want, “gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.”
Dit gooi die argument van die Jode teen Christus omvêr. Eerstens het Christus die priesteramp ooreenkomstig die Torah of die vyf boeke van Moses (Genesis 14:18-20) en die Psalms (Psalm 110:4), en is sy priesterskap dus volgens die profesie en tipologie van die Ou Testament. Tweedens is die priesterskap van Christus ouer as die Aäronitiese priesterskap, want dié het eers 400 jaar later gekom. Derdens maak Hebreërs 7 dit duidelik dat die priesterskap van Christus in sovele opsigte ‘n baie beter priesterskap is.
Ons word nie met getrouheid van die Joodse priesterskap beïndruk nie (vgl. Maléagi 2:8-9). Dink maar aan die Bybelse optekening van al hulle sondes! Aäron het die goue kalf gemaak (Eksodus 32). Sy twee oudste seuns, Nadab en Abihu het vreemde vuur geoffer en is deur die Here verteer (Levitikus 10). Eli het nagelaat om sy twee seuns te tugtig. Dié twee priesters, Hofni en Píneas, het met vroue by die tempel gemeenskap gehad, die mense verdruk en van die offers aan God gesteel (1 Samuel 2-3). Keer op keer was priesters afgodies, veral in die dae van koning Agas en koning Manasse, en het hulle ware profete van God teëgegaan. Uiteindelik was dit Kájafas, die hoëpriester, wat saam met die owerpriesters vir Jesus veroordeel het en toegesien het dat Hy gekruisig word. Daarna het hulle die apostoliese kerk vervolg.
Die Jode het nie hulle priesteramp getrou in stand gehou nie. Hulle het tewens dikwels deelgeneem aan die sondes van die priesters en wou “dit graag so hê” (Jeremia 5:31). Van Jeróbeam af aan het die tien Noordelike stamme die Aäronitiese priesterskap verwerp (1 Konings 12:26-33). Selfs Juda het nie altyd die tiendes aan die priesters en Leviete betaal nie (Nehémia 13:10-11; Maléagi 3:7-9). Tydens die omswerwing in die woestyn het die Israeliete dikwels teen Moses en Aäron, hulle eerste hoëpriester, gekla. By een welbekende geleentheid het hulle beweer dat die seuns van Levi te ver gegaan het (Numeri 16:7). Numeri 16-17 verhaal hoe God hulle bose rebellie teen die huis van Aäron beëindig het.
Toe die Messias kom, het Israel Hom gekruisig en gesê dat hulle aan die priesters uit die huis van Aäron trou bly, ooreenkomstig die wet van Jehovah! Só het hulle die beter Melgisédekse priesterskap van Christus, en die enigste offer vir die sonde, verwerp.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)