Ds. Angus Stewart
(1)
Ons weet uit Jeremia 23:29 dat die Woord van God ‘n hamer is wat ‘n rots vermorsel. Ons begin nou om sommige ander kenmerke van die Skrif van nader te bekyk in die lig van die tweede boek van Petrus.
Petrus skryf in 2 Petrus 1:16-18 oor die verheerliking van Christus op die berg (Mark. 9:4-8). Die skittering van Jesus se gelaat en sy kleding het gespreek van sy “majesteit’ (2 Pet. 1:16), sy “eer en heerlikheid” (v. 17) wat syne is omdat Hy die vleesgeworde Seun van God is (vgl. v. 17). Hierdie majesteit, eer en heerlikheid sal weer openbaar word by Christus se tweede koms (v. 16).
Petrus vertel dat hy ooggetuie was van die verheerliking van Christus (v. 16). Hy het met sy eie oë die verheerliking gesien (vv. 16-17). Hy het met sy eie ore die stem uit die wolk hoor sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” (v. 17). Petrus was ‘n geloofwaardige getuie wat die heerlikheid van Christus vir nagenoeg dertig jaar verkondig het en gewillig was om sy lewe vir sy geloof af te lê (vv. 13-15).
Daar is twee moontlikhede: óf Petrus (en Matthéüs, Markus en Lukas wat die verheerliking Van Christus in hulle evangelies weergee) het die verhaal versin om Jesus op te hemel — dan sou die spotters wat Petrus wat Petrus teengespreek het reg wees, die verheerliking sou net ‘n “slim versonne” fabel wees — óf Petrus vertel die waarheid. Deur die Heilige Gees aanvaar ons Petrus se ooggetuienis as betroubaar en waar.
Maar Petrus skryf ook: “ons het die profetiese woord wat baie vas is” (v. 19). Petrus se ooggetuienis is waar en vas, maar daar is ‘n ander getuienis wat selfs meer vas is, naamlik die “profetiese woord” (v. 19) of “die Skrif” (v. 20); in besonder die Ou Testament wat, in hierdie konteks, die heerlikheid van Christus en sy tweede koms profeteer.
Waarom is die Ou Testament “baie vas” teenoor Petrus se getuienis van die heerlikheid van Christus by sy verheerliking op die berg? Daar was miskien diegene wat die geheue van Petrus betwyfel het, wat byvoorbeeld, gedink het dat hy sommige besonderhede vergeet het of verkeerd weergegee het. Hierteenoor is daar géén moontlikheid van foute in die Skrif nie. Die Skrif is geskryf deur mense wat onfeilbaar gedra is deur die Heilige Gees (v. 21) sodat selfs die gedagte dat dit kan fouteer, verfoei moet word. Hoe vas Petrus se getuienis ook was — en dit ís vas, want dit in die Bybel opgeskryf en is om dié rede alleen al noukeurig — die Skrif is selfs “baie vas”. Petrus kon, as hy die heerlikheid van Christus wou weergee, óf die verheerliking op die berg verhaal óf hy kon hom op die wet en die profete beroep. Wat Petrus betref, hoewel hy hom die gebeure by op daardie wonderbare dag goed kon herinner, was die Skrif baie (d. i. méér) vas. Ons sal hierna sien dat ons ook hierdie hartlike vertroue in die Skrif nodig het.
(2)
In die vorige artikel het ons gepraat van die ooggeteuienis van Christus se verheerliking op die berg (2 Pet. 1:16-18). Petrus sê dat die Skrif “baie vas” is, in vergelyking selfs met sy persoonlike ervaring op die berg van verheerliking (v. 18). As die Skrif (en boonop die Ou Testament) dan baie vas is teenoor die werklike belewenis van die aanskoue van die verheerliking van Christus, in die teenwoordigheid van Elia en Moses, en die aanhoor van die stem van God uit die hemel, dan kan die Skrif in met alle vertroue beskou word as vaster as enigiets anders. God se Woord is dus absoluut betroubaar en waar.
Skrifcrici, en by name dié van die ‘Hoër Kritiek’ beswadder die Bybel as ‘n boek van mites en vol foute, asof dit bestaan uit “kunstig verdigte fabels” (v.16). Evolusioniste relegeer Genesis 1 tot wetenskaplike legendes. Laat die ongelowige ‘n leuenaar bly, en die Woord van God die waarheid!
Daar is mense wat oortuig is dat die maagd Maria by Fatima of Lourdes verskyn het. “Daar is mense wat haar gesien het!’ sê hulle. Sommige mense mak daarop aanspraak dat hulle, buite en sonder die Bybel, direkte openbaring van God ontvang. “Die Here het vir my gesê om dit of dat te doen” sê hulle. Ander sê dat anbidding vanafgode hulle nader aan God bring. “Ek het dit wedervaar’ sê hulle, ‘ek behoort te weet!’ Maar die Bybel is baie vas, meer as die ervarings van die mens, en wanneer die mens se “ervarings” stry met die Bybel, is hulle vals.
Ons verhef dikwels ons gevoelens bó die Woord. Ons sou sê, “ek wil nie bid nie, want ek voel nie daarna nie” Maar die Bybel sê dat ons “geurig moet bid en nie moedeloos word nie” (Luk. 18:1). Ons begin deur die prediking getrou aan te hoor, maar hou op omdat ons dink ons kry niks daaruit nie. Die Skrif beveel ons daarenteen om te “verlang na die… die woord” (2 Pet 2:2). Die Bybel is “baie vas”, meer as ons gevoele, en daarom moet die Bybel bepaal wat ons doen en glo. As jou eie gevoel jou gehoorsaamheid bepaal, word jy ‘n verlamde Christen.
Die Skrif is vaster as die kerkvaders en Christelike leiers. Predikante en ouderlinge maak foute, maar die Skrif maak nooit ‘n fout nie. Martin Luther het eens regtens gesê dat één leek bewapen met die Skrif eerder geglo behoort te word as al die pouse en konsilies sonder die Woord. Daar is niks wat méér vas is as die Woord van die lewende God, wat nie kan lieg nie. Die Bybel is “baie vas”, meer as al die geleerde boeke en godsdienstige gevoelens en ervarings van die mens, wat met die Skrif in stryd is — “ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee (v. 19).
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)