Ds. Angus Stewart
Hebreërs 12:18-21 is ʼn waarskuwing teen afvalligheid, veral teen afwyking van die evangelie van Jesus Christus na Joodse legalisme. Die eerste van sewe dinge wat in Hebreërs 12:18-21 oor Sinai (wat hier die Ou Testamentiese wet en diens, sonder Christus se kruis en middelaarskap voorstel) genoem word, is dat dit fisies tasbaar en stoflik is: ” ʼn tasbare berg” (18). In teenstelling is die ander berg, Sion, nie fisies tasbaar of stoflik nie (22). Passend by die fisies tasbare en stoflike aard van die berg Sinai, het die erediens wat by Sinai verorden is, bestaan uit ʼn “aardse heiligdom,” die tabernakel (9:1); “vleeslike verordeninge” (10); ʼn fisiese altaar; diere-offers; priesterlike kleding van linne; ens.
Die tweede van die sewe punte wat oor Sinai gemaak word, is die berg as “brandende vuur” (12:18). Vuur simboliseer die teenwoordigheid van God, want ” … onse God is ʼn verterende vuur” (29). In besonder verteenwoordig die vuur God se jaloesie en sy brandende onverdraagsaamheid teenoor sonde en sondaars. “Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God” (Deut. 4:24). God se vurige oordeel val op Judaïsme sonder Christus, Jode wat van die Christendom afvallig word, almal wat van die evangelie afwyk en almal wat die Here Jesus nie ken nie.
Die derde en vierde verskynsels by Sinai is soortgelyk: “donker en duisternis” (Heb. 12:18). Beide “donker en duisternis” en ook “vuur” word in Eksodus 19 en Deuteronomium 4-5 genoem. Ons sou kon sê dat donker die kleur van ’n voorwerp is en duisternis die uitwerking daarvan, sodat die allesinsluitende donkerheid duisternis veroorsaak. Hierin lê twee idees opgesluit: donker en duisternis wat skrik aanja (vrees vir die donker!) en wat ons verhinder om die heerlikheid van God te aanskou. Maar hoe kan daar dan sowel vuur as donker/duisternis wees? Sou die vuur dan nie die duisternis tot ’n mate verdryf nie? Dit is net so in die hel wat die Skrif beskryf as ’n plek van beide duisternis en vuur. Vuur en duisternis is beide vreesaanjaend.
Die vyfde verskynsel by Sinai is die “storm” (Heb. 12:18), ’n storm met donder en weerligte in die lug. Dit verhoog nogeens die verskrikkende werking van God se openbaring by die berg Sinai om die wet te gee. Wil u werklik die evangeliekerk van Jesus Christus verlaat? Teruggaan na die Ou Testamentiese wet en erediens? Na Sinai? Hierna?
Die sesde aspek van God se openbaring by Sinai is die geluid van ’n basuin, ‘n “baie sterk basuin” (Eks. 19:16), wat “sterker en sterker” geword het (19) toe die Here die berg nader. Die verskriklike geluid van die basuin kondig die koms van die Almagtige God aan en daag die volk voor Jehovah, die regter. Dit versinnebeeld die verskrikking van die wet wat ons veroordeel weens ons menigvuldige sondes en sondeskuld.
“Die geluid van woorde” is die sewende en laaste verskynsel by die berg Sinai (Heb. 12:19). Met oorverdowende geluid, wat angs bring in die harte van die versamelde volk, kondig God die tien gebooie aan. Wat ’n ontsettende gebeurtenis was die gee van die wet! Dink aan wat Israel gesien het: ’n berg wat brand met vuur tot in die lug, omhul met donker en duisternis, met weerligte wat deur die hemel klief. En wat het hulle gehoor? Donder, ’n basuin en, die stem van God!
Let op die vreesbevange reaksie van die volk by Sinai. Die Israelse hoorders “… smeek … dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie”(19). Hoekom?Want “hulle kon die gebod nie verdra nie”(20). Dit sê nie dat die volk verkeerd was om God te smeek om nie aan te hou om só met hulle te praat nie. Hulle was reg, en God gee hulle gelyk; van nou af aan sal Hy tot hulle spreek deur ’n middelaar, Moses, (Deut. 5: 23-31). Maar Hebreërs 12 sê dat én God se stem én wat Hy sê, verskriklik was in sy oordeel “want hulle kon die gebod nie verdra nie”(20). Toe God die die wet van omhoog gedonder het, het almal hulleself herken as skuldige en veroordeelde sondaars wat ewige verdoemenis verdien. Ons word herinner aan Galasiërs 4:21 “Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?” Gedonder, basuin, God se verskrikkende stem – dit is wat jy kry as jy na die Ou Testamentiese wet en erediens teruggaan en Jesus Christus en sy Nuwe Testamentiese kerk versaak!
Sinai het selfs vir die diere vernietiging ingehou: “selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word” (Heb. 12:20). Hoor u wat God sê? Hou terug! Jy het nie toegang tot die berg nie! Bly uit! Nie eers diere mag naby kom nie, laat staan nog mense. Dit is die Ou Testamentiese boodskap van die erediens. Die allerheiligste is verbode grond vir 99.999% van die volk. Net die hoë priester het toegang – een maal per jaar, vir ’n kort tydjie, en hy moet bloed bring. Hetsy by Sinai of die allerheiligste – God is vir die volk ontoegangklik. Geen toegang! Bly op ’n afstand! Verstaan u? Jehovah is nie toegangklik deur die Ou Testamentiese wet en diens nie. Net maar deur die bloed van Jesus Christus kan ons tot God nader. Moet dan nou nie teruggaan na die armsalige bepalings van die wet nie! En wat het met ’n dier gebeur, ’n skaap, of ’n beeskalf, wat teen die berg op gedwaal het? Die volk moes dit doodmaak deur steniging of ’n pyl. Hoekom nie met ’n mes nie? Die Israeliete mog nie naby kom nie; hulle moes afstand hou, selfs van die dier wat die berg Sinai aangeraak het. As die Israeliete afstand moes hou selfs van ’n dier wat die berg op gedwaal het, moes hulle sekerlik hulle afstand hou van die verskriklike God wat by Sinai ge-openbaar is!
Sinai was nie net vir die diere en die volk verskriklik nie, maar selfs ook Moses, ” … so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder” (21). Dit was dieselfde Moses wat God by die brandende braambos teëgekom het. Hy wat voor die magtige Farao gestaan het om keer op keer Jehovah se boodskap van oordeel oor hom en sy volk te bring. Dié Moses wat wat Israel se rebellies en murmererings getrotseer het. Hy, die middelaar! Selfs Moses was verskrik en het gesidder. Hoeveel erger die verskrikking vir hulle wat van die Here Jesus wegdraai om terug te gaan na die wêreld, of na saligheid deur die wet en eie werke!
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)