Ds. Angus Stewart
Die eerste-eeuse Jode, aan wie die geïnspireerde Hebreërbrief van die Nuwe Testament in die eerste plek geskryf is, het voor ‘n keuse gestaan. Hulle kon vashou aan Jesus Christus, ter wille van Hom ly en met heerlikheid gekroon word; óf hulle kon hulle weer voeg by die meerderheid van hulle volksgenote deur na Ou Testamentiese wet en diens terug te keer en vir ewig verlore gaan!
In Hebreërs 12 word, deur gebruik te maak van twee berge, Sinai (18-21) en Sion (22-24), die twee opsies skerp afgeteken. Aan die een kant, soos ons in die vorige twee aflewerings van die News gesien het, is daar die berg Sinai met al sy verskrikkende verskynsels. Sien u hoe dit brand? Dit is daar, omhul in donkerheid en duisternis, verlig deur flikkerende weerligstrale! Hoor u die oorverdowende geluid van donder, basuin en – die stem van God? Die arme volk het gepleit om nie verder die stem te hoor nie; die arme diere is gedood as hulle maar net aan die berg raak; die arme Moses was verskrik en het gesidder (19-20). Aan die ander kant is daar die berg Sion. Dit is ‘n plek van vrede, veiligheid en seën (22-24).
Jy wil nie terugdraai van die Woord en die evangelie van Jesus Chistus nie, wil jy? Hetsy na Joodse wettisisme (dit was die versoeking vir die eerste-eeuse Joodse bekeerlinge) of na ‘n valse kerk of ‘n heidense godsdiens of na die wêreld? Want sodra jy die Here Jesus verlaat, is die donder en weerlig, die donkerheid en die vuur van die berg Sinai al wat jy het! Die vloek en oordele van die wet! Die siel wat sondig, dié moet sterwe (Eseg. 18:4)! Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (Gal. 3:10)!
Hou dan vas aan die berg Sion, die ware kerk en koninkryk van Christus! Ter wille van jou én jou kinders, en jou lewe! Jy is ‘n burger van die hemelse Jerusalem; jy is in geselskap van tien duisende engele en in gemeenskap met Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond (Heb. 12:22-24). Wat meer kan jy vra?
Eers moet ons besin oor wanneer ons by Sion kom. Hebreërs 12:22-24 verwys nie na die toekoms nie. Die teks praat nie van na Sion kom wanneer ons sterf, met ons siele nie. Dit verwys nie na kom by Sion in die ewige staat van heerlikheid in ons opgestane liggame nie. Dit sal gebeur, maar dit is nie wat hier in die oog is nie, want die teks sê nie, “Maar julle sal by die berg Sion kom” nie.
Ons kom na Sion in die hede. “Maar julle het gekom by die berg Sion” (22). Die voltooide verlede tyd word gebruik. Julle het in die verlede by Sion gekom, toe julle weergebore is en so in Jesus Christus geglo het, en julle is steeds daar, by Sion, in geloof. Dit is waar van elke Nuwe Testamentiese gelowige, ook van jou, kind van God. Toe jy, deur God se genade, na Christus gekom het, het jy ook by die berg Sion (Christus se kerk en koninkryk) gekom. Jy het in die verlede gekom en jy is steeds daar – by Christus en sy kerk.
Dit sluit Joodse Nuwe Testamentiese gelowiges in. “Maar julle (eerste-eeuse Joodse bekeerlinge tot Christus) het gekom by die berg Sion” (22). Joodse bekeerlinge kom nie na die berg Sion deur na Palestina in die Midde-Ooste te migreer, of deur as ‘n godsdienstige toeris na Jerusalem koers te kies, of in ‘n toekomstige Joodse millenium nie. Joodse gelowiges kom na Sionsberg net soos al die heiliges: deur geloof alleen in die Here Jesus, die enigste Verlosser. “Maar julle [gelowige Jode en heidene] het gekom [in die verlede en is nou in die hede] by die berg Sion” (22).
Dit is nie die enigste geseënde werklikheid waartoe ons gekom het nie. Die evangelie-voorregte in Hebreërs 12:22-24 kan onder ses hoofde gerangskik word: Sion en Jerusalem, engele, die kerk, God, die heiliges in die hemel en, die klimaks, Jesus self. “Maar julle het gekom [1] by die berg Sion, en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en [2] tien duisende engele, by [3] die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en [4] by God, die Regter van almal, en [5] by die geeste van die volmaakte regverdiges, en [6] by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel” (22-24).
Noudat ons besin het oor die tyd van ons koms by Sion, oorweeg ons die aard daarvan. Wat beteken dit om by Sion te kom. Soos ons gesien het, is dit nie ‘n fisieke koms nie. Dit is nie immigrasie na die land Kanaän, soos ‘n klompie Jode, veral in die laaste eeu, gedoen het nie. Dit is nie om Tel Aviv toe te vlieg en na die aardse stad Jerusalem toe te ry nie.
Dit is om te kom in die geloof. Onthou die definisie van geloof in Hebreërs 11:1: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Deur geloof word Bybelse waarhede aangegryp en vasgehou sodat ons die wese of verwerkliking en die getuienis of oortuiging daarvan in ons harte het. Die werklikheid van die evangelie word deur die geloof naby gebring en gesmaak. Gryp die waarheid wat in Jesus is, vas; moenie wegdraai nie! Om tot God te kom is, in die Hebreërbrief veral, om as aanbidder tot Hom te nader in gebed en lofprysing. Die gelowige nader God met geloof, hoop en liefde. Hy kom in sy voorhowe en nader sy troon met verheerliking en danksegging. Om deur die geloof in aanbidding tot die Drie-enige God te kom, is om te kom deur Jesus Christus, die enigste Middelaar, en deur die krag van die Heilige Gees.
Omdat God se troon in die hemelse Jerusalem is en Christus van sy kerk onlosmaaklik is, beteken om as aanbidder deur Christus tot God te kom noodwendig om te kom by Sion, die stad en koninkryk van die Drie-enige God. Sionsberg is ‘n werklikheid van die evangelie. Daarom is om na Sion te kom ‘n geestelike aktiwiteit van alle gelowiges wat lede is van die strydende kerk op aarde. Moet nie tou opgooi nie! Hou vol, geliefdes!
In die volgende aflewering van die News behandel ons elk van die ses evangelie-voorregte in Hebreërs 12:22-24 waartoe ons deur die saligmakende geloof in Jesus Christus kom.
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)