Ds. Angus Stewart
Die heerlikheid en vooreg van die Nuwe Testamentiese bedeling en kerk sluit ons teenwoordigheid by die berg Sion en Jerusalem in: “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem …” (Heb. 12:22). Die berg Sion staan hier teenoor die berg Sinai (18). Sinai is ‘n tasbare, fisiese en stoflike berg, terwyl Sion nie-fisiek, nie-stoflik is. Dit is ‘n geestelike werklikheid. Die strydende kerk – ons in hierdie wêreld – nader en bestyg Sionsberg alleen deur die geloof.
Die berg Sion (waarop die koninklike paleis gestaan het) sluit hier ook die berg Moria, die tempelberg, in, soos algemeen in die Bybel die gebruik is. Die berg Sion met die paleis verteenwoordig Christus, die groot Dawidiese koning en sy beloofde regering oor die volk van God. Hy lei die koninkryk van God in, die die heerskappy van die Drie-enige God wat, deur die Heilige Gees, geregtigheid, vrede en blydskap bring (Rom. 14:17). Die tempel op die Sionsberg is God se woonplek en getuig van ons verbondsgemeenskap met Hom in Christus. Die Here Jesus is ons priester, offer en altaar wat vir ons verlossing en die vergiffenis van sonde bring. Dit is hoekom in die Psalms en die profete Sion die plek is van liefde, genade en blydskap, die plek van heil en alle geluksaligheid.
So is al die heerlike beloftes en profesieë aangaande Sionsberg in die Skrif. Dink aan Psalm 2. Ten spyte van die helse aanslae van Herodus, Pontius Pilatus en die ongelowige Jode en heidene (1-3; Hand. 4:25-28), salf God sy Seun as “Koning … oor Sion, my heilige berg” (Ps. 2:6). Die gelowige heidene word ingesluit in sy “erfdeel” en “besitting”(8), maar Hy verpletter die goddelose met sy “ysterstaf” (9). Sion is die plek waar ons weer gebore word (87:4-6) en die Sionsberg is onoorwinlik (46; 48; 125).
Dit is waarby jy, kind van God, gekom het: die heerlike werklikheid van wat deur die Sionsberg in die Ou Testament aangekondig en geteken is. Die profesieë oor die Sionsberg voorspel die een, heilige, algemene en apostoliese kerk van Christus. Al die beloftes oor Sionsberg – sy skoonheid, blydskap en vastigheid – is joune, gelowige! Moenie dat iemand dit van jou wegneem deur dit op die Jode in een of ander toekomstige, aardse duisendjarige ryk toe te pas nie.
Ons vind hier twee sleutelbeginsels van die hermeneutiek, twee belangrike reëls van Bybeluitleg. Eerstens, Skrif moet Skrif uitlê. Tweedens, die Nuwe Testament moet die Ou Testament interpreteer. Sommige mense noem dit “vergeesteliking”, keur dit af en wil niks daarvan weet nie. Maar laat ek ek u daaraan herinner dat volgens Hebreërs 12: 18-22 die berg Sion nie, soos die berg Sinai, ‘n tasbare berg is nie. Die berg Sion word net in die geloof genader; dit is die betekenis van “het gekom” in vers 22 (vgl. o.a. Mat. 11:28; Joh. 6:35; 14:6).
Gaan nou na Jesaja 2:1-4. Vers 2 voorspel dat die berg Sion die hoogste berg in die wêreld sal word. Sommiges reken dat hier van bergvorming sprake is in ‘n letterlike Joodse millenium en dat Sion hoër sal wees as Everest. Maar Hebreërs 12 leer ons dat die berg Sion nie ‘n tasbare berg is nie (18,22). Meer nog, dié begrip van die berg Sion mik te laag, want Hebreërs 12:22 praat van “die hemelse Jerusalem”, dus van ‘n hemelse Sion in Jerusalem. Galasiërs 4:26 verwys na “die Jerusalem daarbo” wat “vry” is en “die moeder van ons almal”. Om op te trek na die berg Sion in Jerusalem (Jes. 2:3) verwys nie na ‘n trek na die Midde-Ooste in ‘n Joodse millenium nie; dit is ‘n nadering tot die God en Vader van die kerk van Christus, want deur geloof het ons “gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem” (Heb. 12:22).
Jesaja 4:5 voorspel nie letterlike kolomme van vuur en rook bokant elke huis in ‘n Joodse koninkryk nie. Dit profeteer God se genadige verbondsteenwoordigheid in die huise en eredienste van sy Nuwe Testamentiese volk, om ons te beskerm en te bewaar. “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (Christus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons” (II Kor. 1:20).
In Hebreërs 12:22 staan dat ons gekom het by “die stad van die lewende God”. Anders as Sinai, ‘n berg in die woestyn, is ‘n stad met wonings, strate en mure ‘n plek van orde, skoonheid en veiligheid. Jehovah, die lewende God, bly permanent by sy volk in sy stad; hierdie is nie net ‘n kort, skrikwekkende verskyning soos op Sinai nie. Die strome van die Heilige Gees maak die stad van die lewende God bly (Ps. 46:4; Hand. 2) – die kerk van die evangelie en haar geestelike diens in die bedeling van die Nuwe Testament.
Hebreërs 12:22 verwys vervolgens na “die hemelse Jerusalem”. “Sion”, “stad” en “Jerusalem” is een en dieselfde. Jerusalem is die stad van die lewende God, en Sion is die plek van die tempel en die paleis in die stad Jerusalem. Daarom beteken ‘n “hemelse Jerusalem”, ‘n hemelse stad en ‘n hemelse Sion. In die laaste drie hoofstukke van Hebreërs word hierdie punt herhaaldelik gemaak ter wille van Joodse Christene wat gevaar loop om te judaïseer deur letterlike, fisieke, Ou Testamentiese skadus op te soek, in stede van hulle werklikheid in Christus. Vader Abraham het nie ‘n letterlike fisieke stad verwag nie, “want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (11:10).Die aartsvaders, Abraham, Isak en Jacob en ook Sara se hoop was nie op ‘n letterlike aardse Kanaän nie, “hulle (verlang) na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei” (16). Maar God skaam hom wel vir hulle wat na ‘n aardse stad verlang. Daarom bely die Christelike kerk: “Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige” (13:14). Ons het, in die woorde van ons teks “gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem” (12:22). Dit is soveel beter!
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)