Ds. Angus Stewart
Soos ons in die laaste aflewering van die News gesien het, is die eerste heerlike voorreg van die Nuwe Testamentiese Kerk volgens Hebreërs 12:22-24, ons koms by die (geestelike) berg Sion en Jerusalem. Die tweede seëning van die Nuwe Testamentiese kerk en bedeling is die engeleskaar: “Maar julle het gekom … by tien duisende engele” (22). Hier word gepraat van uitverkore godsalige engele, nie van Satan en sy demone nie. Hierdie ontelbare skare van engele is baie meer as dié wat by die berg Sinai was. Ons kom na hulle, ons is nie soos die Ou Testamentiese kerk wat aan die voet van Horeb in ons sandale staan en bewe nie! Om na die engele toe te kom is nie aanbidding tot of deur hulle nie, dit is afgodery. Ons én die engele saam aanbid die Almagtige God as sy skepsele en dienaars.
Vroom gelowiges en engele in die hemel en op die aarde dien, soos Paulus ons in Efesieërs 1 en Kolossense 1 leer, saam dieselfde Heer, naamlik Jesus Christus. Die heiliges en die engele tesame word aangevuur deur dieselfde heilige ywer; hulle in die hemel, sondeloos en volmaak, ons op aarde, in swakheid en onvolmaaktheid (maar opreg). Beide die verlostes en die engele betrag die geheimenisse van die evangelie. Ja, selfs die engele is daarmee besig ( 1 Pet. 1:12). Hebreërs 1:14 leer dat dat die heilige engele geeste is vir bediening ter wille van ons saligheid.
Ons derde heerlike voorreg in die Nuwe Testamentiese bedeling is dat ons lede is wat hoort by die een ware kerk van uitverkorenes van alle eeue: “…by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (12:23). Die “feestelike vergadering” dra die gedagte van pelgrimsfeeste. Nuwe Testamentiese gelowiges vier nie letterlik die feeste van die Pasga (en ongesuurde brode), Pinkster en die Loofhuttefees in die aardse Jerusalem nie. Ons sal dit ook nie doen nie. Wanner ons bid, gemeenskap onder mekaar het, en in geloof in erediens saam vergader deur Christus, ons Middelaar, is ons op ons pelgrimsreis om voor God te vergader. Sagaria 14: 16-21 leer dus nie dat in dae wat kom alle gelowiges jaarliks na Jerusalem sal optrek en in hutte woon en luister na die klokkies van die perde nie. Christus in sy bedeling van die Nuwe Testament is die vervulling van die heenwysings en voorafskaduwings in die Ou Testament (Nederlandse Geloofsbelydenis, 25). Ons word genoem “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Heb. 12: 23), vanweë voorrang wat ons het omdat ons deur genade alleen verenig is met Christus, die eersgeborene, wat in alles eerste is (Kol. 1:18), volgens die raad en voorbeskikking van God.
Die vierde heerlike vooreg wat vir ons opgeteken is in Hebreërs 12, is dat ons mag kom tot die enige, ware en lewende God, “… by God, die Regter van almal” (23). Wat ‘n voorreg om te mag kom tot die Drie-enige en glorieryke Jehovah, ons enigste Skepper, Here en Verlosser! Waarom word Hy hier “die Regter van almal” genoem? By Sinai het God, deur sy heilige wet, Israel (en die hele wêreld) tot skuld veroordeel. By Sion is God ons Regter wat ons vryspreek en ons, deur die geloof alleen, volmaak regverdig verklaar in Jesus Christus. Laat ons Hom dan nader met danksegging en alle lofspraak, met ontsag en met eerbiedige vrymoedigheid!
In die vyfde plek het ons gemeeskap met die heiliges in die staat na hulle sterwe na die liggaam; gelowiges, gestorwe na die liggaam wat tans saam met Christus in die hemel leef en regeer: “… die geeste van die volmaakte regverdiges” (23). Hierdie gemeenskap met die verheerlikte heiliges is nie, soos die Oosters Ortodokse dit wil hê, deur middel van ikone van die vaders nie. In teenstelling met Rome, het ons ook nie gemeenskap met afgestorwe heiliges in die vagevuur (daar is nie so’n plek nie) of met afgestorwe heiliges as tussengangers (hulle het geen so’n funksie) nie. Ons het gemeenskap met verheerlikte heiliges omdat ons, soos hulle, as lede verenig is met Jesus Christus ons Hoof en deur Hom die Heilige Gees ontvang. Tesame aanbid en dien ons die Drie-enige God in een groot koor en orkes van gewillige dienaars. Dit weerspreek ook die kettery van ‘n sieleslaap tussen sterwe en die opstandingsdag, wat deur sommige Anabaptiste geglo word.
Die sesde en hoogste voorreg van die Nuwe Testamenties kerk, is dat ons kom by Christus (en nie net by Moses nie): “… by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel” (24). Op sigself genome kon die Ou Testamentiese offers nie ‘n enkele sonde vergewe nie (10:1-4). Maar die kruis van Christus het vryspraak gebring vir die uitverkorenes van God in die Ou én die Nuwe Testament (9:14-15). So het Hy het geword ” Middelaar van ‘n nuwe [en beter] verbond”.
Die “bloed van die besprenkeling” beteken nie dat al die bloed van Christus se liggaam tydens sy 33 jaar op aarde nou in sy liggaam in die hemel is nie. Ook nie dat dit in ‘n vat van een of ander aard daar gehou word, soos sommige fundamentaliste beweer, nie. Die “bloed van die besprenkeling” beteken uitwerkinge van die verlossingswerk van ons Saligmaker aan die kruis: ons regverdigmaking, heiligmaking, reiniging en vernuwing deur sy Heilige Gees.
Abel se bloed, in boosheid deur Kain vergiet, het tot God geroep om straf (Gen. 4:10). Christus se bloed spreek van die beter dinge van die nuwe verbond: ons losprys en versoening, ons aanneming en aanvaarding deur God, en ons verbondsgemeenskap en hemelse erfenis.
Gelowige, sien u dat die heerlikheid u s’n is? Deur ‘n lewende geloof het u gekom by die ewige kerk en stad van God, by die engele en die heiliges wat in die hemel is, by Jehovah wat u regverdig maak en by die Here Jesus Christus self! Teruggaan? Terug na ‘n Christuslose Judaïsme, of die godlose wêreld, of die doelloosheid van evolusionisme, of een of ander heidense godsdiens, of na ‘n ou lewe in sonde? Nee! Volhard in heiligmaking, gaan voort met Jesus Christus en sy geestelike koninkryk! Moenie net aan ‘n draadjie aan die geloof hang nie! Gaan blymoedig en entoesiasties voort, dankbaar vir die ryke saligheid in Christus! Dien die Here Jesus en sy kerk met jou hele hart, saam met jou familie. Moenie teruggaan nie, gaan vorentoe, na die Sionsberg en die hemelse Jerusalem!
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)