Menu Close

Die Aard van Apostoliese Wonderwerke / The Nature of Apostolic Miracles

       

Ds. Angus Stewart

In die vorige artikel het ons ‘n inleiding gegee tot die tekens van ‘n apostel (II Korinthiërs 12:12) en verskillende soorte wonderwerke genoem (Matthéüs 10:8; Markus 16:17–18). Maar wat dan nou van die wonderwerke waarop in ons dae deur Pentekostaliste en die Charismatiese bewegings aanspraak gemaak word? Baie daarvan kan nie geverifieer word nie, soos die “genesing” van ‘n swak rug en hoofpyne of sigomatiese siektes. Hoe bewys ‘n mens dat iemand werklik hierdie pyne gehad het, dat hy of sy dit nie meer het nie en dat dit weens ‘n wonderwerk van die Charismatis is? Wat van die verrigting van “moeilike” wonderwerke soos om mense uit die dood te laat opstaan, melaatses te reinig, lam mense te laat loop, ens. Aansprake en opsigte van hierdie dinge deur Pentekostaliste en Charismatiste is skaars, en die meeste daarvan sien nie kans vir selfs ‘n geringe ondersoek ter bevestiging nie.

Victor Budgen vertel hierdie amusante storie van ‘n “genesing byeenkoms” in Londen: “In die middel van ‘n saamtrek in Albert Hall kondig die voorsitter aan dat ‘n lid in die gemeente wat siek geword het in die St. John ambulans-vertrek is en as daar ‘n dokter in die saal is, of hy vinnig soontoe sal gaan” (The Charismatics and the Word of God, p. 100). Waar was die geloof van die voorsitter en die bywoners in die genesingskrag van die Charismatiese voorgangers? Waarom moes hulle toevlug neem tot medici?

Die wonders van II Korinthiërs 12:12 was eg én ontwyfelbaar, soos dit moes wees om Paulus se stelling in dié vers te bevestig. Dit is duidelik dat, terwyl hy in Korinthe was vir ongeveer 18 maande (Handelinge 18:11), die apostel vele wonderwerke verrig het wat diegene wat hulle aanskou het, verwonder het en duidelik op die waarheid van die evangelie wat hy verkondig, gedui het: Jesus Christus, gekruisig en opgestaan vir sondaars! Benewens die verwysings na wonders wat Paulus verrig het in die boeke van Handelinge en II Korinthiërs 12:12, praat die apostel van sy wonderwerke in Galasië in sentraal Turkye en selfs vanaf Jerusalem tot ver noord en wes tot by Illírikum (Romeine 15:19), ongeveer die voormalige Joegoslawië (Romeine 15:19).

Heidense teenstanders, ongelowige Jode en vals apostels sou ongetwyfeld graag in staat wou wees om die wonderwerke wat Paulus gedoen het te wou ontken, maar soos die wonders van Christus (Johannes 11:47), Petrus en Johannes (Handelinge 4:14 – 16), kon die groot werke deur Paulus gedoen nie teengespreek word nie.

Let eerstens daarop dat die apostels mense heeltemal genees het. Vir Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was, sê Petrus: “Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan (Handelinge 9:32-35). Enéas het nie maar net verbetering getoon of vordering gemaak nie. Inteendeel, die krag in sy ledemate was ongeskaad en onverswak.

Tweedens het die apostels mense onmiddellik genees, soos die kreupel man in Handelinge 3. Daar was geen nodigheid vir terapie of ‘n rehabilitasie proses nie.

Derdens het die apostels almal wat na hulle gekom het om genesing te soek, genees (Handelinge 5:12-16). Hulle het nie probeer om iemand te genees en dan misluk en dan die skuld op die siek mens gelênie: “Jy het nie genoeg geloof nie!” Hoe ander as die veronderstelde geloofsgenesers van ons tyd!

Na meer as ‘n eeu van Pentekostalisme (insluitend Charismatisme en Neo-Charismatisme), waar is hulle onbestrede wonderwerke? Menige siek mense is veronderstel om genees te wees, maar is nog net so siek as wat hulle ooit was. Ander het na vele genesing byeenkomste gesukkel om genesing te soek maar het nooit eers laat weet dat hulle gesond is nie. Daar is ‘n oorvloed van bedrieglikheid en ontmaskerings. Die naam van Christus is oor en oor deur hierdie kwaksalwers voor die wêreld geminag maar tog val liggelowiges steeds daarvoor.

Hoe anders as die apostel Paulus! “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (II Korinthiërs 12:12). In wese sê die apostel vir die Korinthiërs, “Julle het die krag van God gesien en julle verwonder oor die wonderwerke deur my hande gedoen. Dit is tekens van my apostoliese amp – julle is self ooggetuies daarvan en kan dit nie ontken nie.” Aan die anderkant is die gewaande wonders en die (ten beste) onvoltooide genesings tekens van ‘n bedrieër, ‘n vals leraar met ‘n vals evangelie, dikwels iemand wat daarop uit is om mense uit te buit.

Een Charismatis beskryf hoe iemand weet of hy of sy “aangeraak is vir genesing”. “Gewoonlik voel jy ‘n geweldige hitte oor jou hele lyf. Dan, na ‘n paar minute, voel jy die mees wonderlike bonatuurlike vrede van die Here Jesus Christus. Jy sal weet wanneer dit gebeur, dit voel so wonderlik. Dit is soos hemel op aarde. Jy sal weet wanneer dit gebeur en jy sal geen twyfel hê nie. Jy sal weet dit is die Heilige Gees van Jesus Christus wat jou aanraak … Soms sal jy eers ‘n wind voel. Regtig!!! Net soos ‘n regte wind of ‘n effense briesie, selfs in ‘n vertrek wat heeltemal toe is. Soms sal jy voel asof ‘n warm kombers van energie om jou hele lyf gevou is. Wanneer dit gebeur, is dit soos bonatuurlike kleding. Dit voel heeltemal deel van jou. Soms sal jy ‘n hemelse jasmyn of ander wonderlike geure ruik. Jy sal weet dat die geur hemels en heilig is wanneer dit in die volheid van die Heilige Gees kom. Wanneer jy ook al hierdie wonderlike geure ruik, is dit ‘n ekstra spesiale besoek van die Here Jesus. Jy sal dit sonder enige twyfel weet wanneer jy dit ruik”.

Wat moet mens van hierdie onbybelse sotterny dink? Waar is daar in die hele Heilige Skrif iets soos dié? Het jy opgelet hoe dikwels die skrywer praat oor hoe dit gewoonlik “voel” (ses maal in die paragraaf hierbo) — die gevoel van hitte of vrede of die wind of ‘n kombers of die noupassende klere – of “geure” (vier maal) – hemelse jasmyn of ‘n ander wonderlike geur? (Rooms Katolieke mistici praat dikwels van heilige visitasies met soortgelyke woorde). Merkwaardig word nie eers gesê dat jy weet dat jy genees is as jy dan werklik genees is nie! Geliefdes, ‘n ware teken van ‘n Bybelse apostel is werklike genesing sonder enige van die gebrabbel in die vorige paragraaf, soos II Korinthiërs 12:12 en die Nuwe Testament leer!

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons