Ronald Hanko
Wat is die verbond? Die Skrif praat dikwels daarvan en dit is daarom nodig dat ons weet waaróór die Skrif praat.
Die meeste mense sou ʼn verbond definieer as ʼn kontrak of ooreenkoms. Hulle sou sê dat God se verbond met die mens van dieselfde aard is as ʼn menslike verbond, soos dié tussen Isak en Abimeleg (Gen. 21:27-32), met verkillende pligte, beloftes en strawwe.
So’n verbond word deur twee partye of kante gemaak, is afhanklik van die partye en kan deur enigeen van hulle verbreek word. Adam, so word gesê, was die oorspronklike verbondsluitende party met God, maar is, noudat Adam geval het, vervang deur Christus.
God se verbond met die mens is nie daardie soort verbond nie. ʼn Mens kan nooit ʼn party met die lewende God wees in so’n verbondsluiting nie. Omdat God God is en die mens ʼn skepsel wat sy hele bestaan aan God te danke het, is daar geen verpligting wat ʼn mens by wyse van spesiale ooreenkoms kan aanvaar buiten dié verpligtinge wat hy reeds verplig is om na te kom nie. Die skepsel kan nie ʼn kontrak met die Skepper aangaan nie.
Ook kan die mens nooit enigiets by God verdien in so’n verbond deur sy eie werke of deur sekere voorwaardes na te kom nie. Wanneer hy alles gedoen het wat van hom verwag word is hy steeds ʼn onverdienstelike dienskneg (Lukas 17:10). Vir seker kan die mens nie die ewige lewe in die verbond verdien, soos deur sommige geleer word, nie. Ewige lewe kom net deur Hom wat die Here uit die hemel is, ons Here Jesus Christus (I Kor. 15:47-48).
Die Skrif leer dat die verbond nie ʼn ooreenkoms is nie, maar ʼn oppermagtiglik daargestelde band of verhouding tussen God en sy mense in Christus. Dit is duidelik uit die dikwels herhaalde woorde van die Skrif waardeur God sy verbond openbaar: “Ek sal vir julle ʼn God wees, en júlle sal vir My ʼn volk wees” (Gen. 17:8; Eks. 6:7; II Kor. 6:16; Openb. 21:3).
Hierdie woorde, wat in effens verkillende vorme voorkom, word ʼn soort verbondsformulier dwarsdeur die Skrif. Hulle dui telkens daarop dat die besondere gedeelte van die verbond praat.
Ander gedeeltes beskryf inderdaad so’n verhouding tussen God en sy mense. Genesis 5:22-24, Genesis 6:9, Genesis 18:17-19, Psalm 25:14, Johannes 17:23, Jakobus 2:23 en I Johannes 1:3 is ʼn paar van dié gedeeltes. Elkeen wys dat God se verbond die geseënde verhouding van gemeenskap en vriendskap is wat Hy met hulle aangaan alleen deur genade en deur die verlossingswerk van Jesus Christus.
Hierdie verhouding word oppermagtiglik daargestel deur God: Hy skep en waarborg die verhouding. In geen opsig is die verbond afhanklik van die mens as ʼn tweede party nie, maar is geheel en al die werk van God en alles net genade, dit is, onverdiende guns. Die verbond is altyd ʼn genadeverbond.
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, USA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 167-169.
(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected]
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)