Ronald Hanko
Baie mense sal heftig verskil van die leer dat Israel die kerk van die Ou Testament is en dat God se verbond met Israel daarom dieselfde verbond is as wat hy met sy kerk in die Nuwe Testament het. Daarom moet ons ons leerstellings sorgvuldig uit die Skrif bewys.
Dat Israel en die kerk dieselfde is, is duidelik. Die ware Israel van die Skrif is nie ʼn aardse volk en ʼn vleeslike nasie nie, maar die geestelike volk van God, soos die kerk ook is.
In Romeine 9:6-8 leer die Woord van God ons “[H]ulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie”. Die Skrif maak dus ʼn duidelike onderskeid tussen hulle wat net van Israel is en hulle wat waarlik Israel is. Almal wat tot die nasie behoort het, was van Israel, maar net hulle wat gebore is deur die krag van die belofte (weergebore deur die lewende Woord van God) is gereken as die nageslag, dit is, as kinders van Abraham en kinders van God. Hulle was ʼn geestelike volk.
Romeine 2:28, 29 bevestig dit op ʼn merkwaardige wyse. Dit sê onomwonde dat “nie hý … ʼn Jood [is] wat dit in die openbaar is nie”(v. 28). Iemand is ʼn Jood wat dit in die verborgene is, dit is, iemand wat in hart en gees besny is (vergelyk met Kol. 2:11).
Dit beteken, volgens die Bybelse definisie van ʼn Jood, dat selfs die gelowige heidene getel word as kinders van Abraham en as Israeliete. Dit leer die Skrif ook. Romeine 4:11-16 maak dit duidelik dat Abraham nie net die vader van gelowige Jode is nie, maar ook van gelowige heidene. Hy is “die vader van ons almal”(v. 16), dit is, van een geestelike volk. Galasiërs 3:7 sê onomwonde dat “die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham”.
Om die waarheid te sê, die Nuwe Testament maak dit duidelik dat gelowige heidene meer na waarheid Jode en meer na waarheid besny is as die ongelowige afstammelinge van Abraham. Hulle wat net na die vlees Jode is, word in Filippense 3:2 “die versnyding” of blote skenders genoem, want, hoewel hulle uitwendig besny is, is hulle ongeestelik. Jesus het dit ook duidelik gemaak dat sommige van die Jode nie kinders van Abraham of van God was nie (Joh. 8:33-44ev.). In teenstelling word die Filippense, wat heidene was, “die besnydenis” genoem, want hulle “[dien] God in die Gees … en [roem] in Christus Jesus en [vertrou] nie op die vlees … nie” (v. 3).
Daar is ander Skrifgedeeltes wat dit ook leer. Galasiërs 4:1-7 vertel aan ons dat die kerk van die Ou testament en die Nuwe testament een is deur hulle te vergelyk met een mens wat van kind tot volwassenheid groei. Galasiërs 3:16, 29 leer dat daar net een Saad is: Christus en diegene wat in Hom is. Hebreërs 12:22-24 identifiseer Jerusalem, die berg Sion, met die kerk van eersgeborenes. Om tot een te kom is om tot beide te kom.
Hierdie vereenselwiging van Israel met die geestelike volk van God is krities. Ons deelname in al die seëninge en beloftes van die verbond hang daarvan af. Net ware Jode het enige reg op die beloftes en op wat belowe is. Hierdie beloftes is nie vir almal wat die naam Jood of Christen dra nie, maar net vir hulle wat glo. ʼn Ware Jood is iemand wat glo—enigiemand wat glo. Glo jy?
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (2004, Reformed Free Publishing Association, Grandville, MI, VSA), pp 174-175.
(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected]. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)