Menu Close

Voortgesette Profesie / Ongoing Prophecy

    

Ons het nou gekyk na die drie golwe van Charismatiese Christenskap, die voorlopers van Charismatiese Christenskap, en het twee aansienlike afwykings van die Charismatiese beweging bespreek. Kom ons kyk na profesie.

Met profesie bedoel dié in die Charismatiese beweging nie bloot aanhalings uit die Bybel of verduidelikings en toepassings van die Skrif nie. Nee, wanneer hulle van profesie praat bedoel Pinksters, Charismate en Neo-Charismate uitsprake in die post-apostoliese era wat volgens hulle direkte openbarings van God is. Nou wat moet Christene, en veral Gereformeerde gelowiges, van dit alles maak?

Ons gaan nou kyk na drie toetse rakende voortgesette profesie word hieronder uiteengesit. Ons gaan ook kyk na die antwoorde op twee moontlike ontduikings van aantuigings van valse profesie.

   

Toets 1

Toets een behels om hierdie tipe vrae te vra en antwoorde op hulle te kry: Het jy al ooit enige onderrig gekry van ‘n hedendaagse profeet wat teenstrydig is met die Bybel se leerstellings? Bevat die profesieë deur hedendaagse profete valse voorstellings? Weet jy van ‘n profesie wat deur werklike gebeure weerspreek is?

Een broer wat ek ken, het hierdie vrae aan baie vernuwers gevra en al die mense met wie hy gepraat het, het gesê: “Ja!” Wat ‘n verdoemende antwoord!

David Wilkerson, ‘n Anglikaanse Charismaat, het in 1972 voorspel dat die Berlynse muur binne die volgende twaalf maande sou val. Dit het eers 17 jaar later, in 1989, gebeur!1 Wat het die kerk in daardie geval gedoen? Wat het die kerk gedoen in die talle ander gevalle waar hierdie tipe voorspellings as vals bewys is? In die meeste gevalle, het Pinkster- en Charismatiese gemeentes (ten minste die oorgrote meerderheid van hulle) absoluut niks gedoen nie. Soveel vir die derde kenmerk van ‘n ware kerk (Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 29)!

Deuteronomium 18:22 verklaar: “As dit wat ‘n profeet in die Naam van die Here sê, nie gebeur nie en daar kom niks van nie, dan is dit woorde wat die Here nie gespreek het nie. In vermetelheid het die profeet dit gesê. Jy mag nie vir hom bang wees nie.

Aangaande ‘n profeet wat ‘n voorspelling maak wat nie gebeur nie, sal “daardie profeet moet sterf” (Deut 18:20). 1 Korintiërs 5 wys vir ons dat die Nuwe Testamentiese ekwivalent ekskommunikasie is. Het enigiemand al ooit gehoor van ‘n Pinkster wat geëkskommunikeer is omdat sy of haar profesieë nie vervul is nie?

Miskien gebeur so iets soms, maar as dit doen, is dit uiters skaars!

Die Kansas City Prophets beweer dat as twee derdes van hul profesieë waar word, dit ‘taamlik goed‘ is, want dit is baie hoër as wat dit ooit was! Al die Kansas City Prophets profete het al erken dat hulle voorspellings gemaak het wat nie gebeur het nie. Die Charismaat John White, wat voorspel het dat hy gaan lewe, maar daarna gesterf het, het gesê dat, aangesien ons almal mense is, moderne profete foute sal maak in hul voorspellings (selfs al praat God deur hulle)!2

Weet jy hoeveel valse profesieë dit vat om ‘n persoon as ‘n valse profeet te ontbloot? Een! Net een! Elkeen wat ‘n enkele valse voorspelling in God se Naam maak en onverbiddelik aanhou, moet as ‘n leuenaar en ‘n valse profeet geëkskommunikeer word.

     

Toets 2

Stel jou voor ‘n Pinkster profeet maak ‘n voorspelling wat werklik gebeur. Die een wat dit voorspel het, leer egter valse leerstellings. Hoe evalueer ons so geval?

Deuteronomium 13:1-5 handel hieroor en gee ons ons die tweede toets. Vers 1 praat van ‘n profeet wat “‘n teken of ‘n wonder” uitvoer wat gebeur (vers 2). Maar hierdie profeet leer ook valse leerstellings (vers 2). Al het die teken of wonder of voorspelling waar geword, moet hy dan ook as valse profeet doodgemaak word (vers 5) of, in Nuwe Testamentiese terme, geëkskommunikeer word.

Deuteronomium 13 verduidelik dat God se doel met dit alles is om Sy belydende volk te toets. As jy God werklik liefhet met jou hele hart en sy gebooie onderhou moet jy iemand verloën en hom ekskommunikeer omdat hy valse leerstellings verkondig, al doen hy wonderlike tekens. (Deut. 3-5).

As daar in môreoggend se koerante verslae is van merkwaardige voorspellings deur die Pinksters wat vervul is – kom ons sê, die nasie se hoofstad word deur ‘n aardbewing vernietig en profete het dit voorspel – sou ons dit steeds nie as Christus se boodskappe ontvang nie. Hoekom? Want gemeng met hulle voorspellings kom Arminiaanse vrye wil en ander valse leerstellings. God sou jou daardeur toets: “Het jy My lief? Hou jy van die waarheid? Of stel jy meer belang in die tekens en wonders van ‘n valse kerk?”

     

Toets 3

Daar is ook ‘n derde toets. Kom ons sê, ter wille van die argument, dat daar ‘n man is wat beweer dat hy ‘n Christelike profeet is en wat voorspellings maak wat altyd gebeur en wat ortodokse leerstellings leer. Wat sou jy in hierdie doen?

Jy behoort Efesiërs 2:20 te onthou, wat sê dat die apostels en profete die fondasie van Christus se kerk is. Hierdie fondasie is in die eerste eeu gelê en, as ‘n fondasie, kan dit nooit weer herwin of aangevul word nie! Die leerstelling van die apostels en profete, die fondasie, word gevind in die volledige, voldoende, foutlose, en onfeilbare Woord van God.

Daarom, of ‘n buite-Bybelse voorspelling waar word of nie, en of hul ander leerstellings ortodoks is of nie, is enige persoon wat beweer dat hy ‘n profeet is wat direkte openbaring van die Here ontvang, per definisie ‘n leuenaar en ‘n valse profeet. Hoekom? Eenvoudig omdat God nie meer direkte openbaring gee nie, aangesien Hy reeds die fondasie van Sy kerk in die Heilige Skrif gelê het. Hierdie fondasie is gebou deur die boodskap wat deur die apostels en profete wat Hy byna 2,000 jaar gelede gestuur het, gelewer is!

     

Twee Ontduikings

Daar is twee hoof pogings om enige aantuigings van valse profesie te ontduik. Die eerste is die bewering dat daar twee tipes profesieë is: foutlose en onfeilbare profesieë wat in die Bybel voorkom, en feilbare en dwalende hedendaagse profesieë wat foute kan en sal insluit. Hierdie is onder meer die bewering van Wayne Grudem.

Die argument hier is eenvoudig onuithoudbaar. Vernuwers word na hierdie argument gedryf bloot omdat hulle weet (en feitlik almal weet) dat daar talle mislukte profesieë in die Pinkster-, Charismatiese en Neo-Charismatiese bewegings is. Direkte openbaring van God is per definisie gesaghebbend, foutloos en onfeilbaar, want Hy is die God van die waarheid wat “nie kan lieg nie” (Titus 1:2), anders as die hedendaagse profete en hulle apologete.

Die tweede ontduiking – en hierdie een word al hoe gewilder – is dat God vandag met ongeevangeliseerde persone deur drome of visioene praat. Byvoorbeeld, ‘n aantal voormalige Moslems het gesê dat Christus in ‘n droom of visioen aan hulle in hul Islamitiese lande verskyn het en vir hulle gesê het om na een of ander plek te gaan om God se Woord van een of ander kerk of persoon te hoor.

Daar is selfs ‘n aantal Presbiteriaanse en Gereformeerdes wat hierdie aansprake aanvaar. Vir sommige van hierdie Protestante is dit die begin van hul eie verval na Pentekostalisme of Charismatisme, terwyl dit vir ander, op die minste, hul begrip van die waarheid van die genoegsaamheid van die Skrif en hul teenkanting teen die kettery van voortgesette openbaring verswak.

As ons vrae opsy sit oor die soort kerk of Christen (hetsy waar of nie) waarheen hierdie Moslems gegaan het, en na watter soort Jesus hulle bekeer is (hetsy die ware Christus of ‘n valse Christus), ontken ons dat God direkte openbaring gee deur drome of visioene, selfs aan ongeevangeliseerde persone, selfs in Islamitiese lande.

Ons doen dit omdat, om ‘n openbarende droom of visioen van God ontvang, veral een wat nie goddelike oordeel oor die ontvanger verklaar nie (vgl. Dan. 2; 4), maak van ‘n persoon ‘n profeet.

‘n Profeet het twee aspekte met betrekking tot sy amp. Eerstens ontvang hy direkte openbaring van God en tweedens gee hy dit aan mense oor. Maar die buitengewone amp van ‘n profeet het opgehou omdat dit slegs ‘n tydelike amp was wat betrokke was by die lê van die fondasie van die Nuwe Testamentiese kerk (Eph. 2:20).

In die hedendaagse tyd sluit ons eerder die gewone amp van profeet in by die amp van gelowige. Dit is ‘n permanente amp wat aan alle Christene gegee word, waarin ons die Skrif ondersoek en deur die Gees die gedagtes van Jesus Christus ken en dan van Hom met ander praat.

Wat ons vandag nodig het, is nie valse profete of valse profesieë nie, maar die behoorlike uitoefening van die gelowige se amp as profeet, sodat hy Jesus Christus hoor, liefhet, gehoorsaam, en van Hom getuienis lewer, soos Hy in die Skrif uiteengesit word en deur die getroue verkondiging van sy evangelie deur ware bedienaars in hulle amp van pastoor of leraar.

Waar liefde vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 3) verlore gaan, is daar ‘n gemeente of ‘n individu wat wyd oop is vir vernuwing. Waar liefde vir God, Sy Christus en Sy Woord sterk is, is die kerk stewig gebaseer op die enigste ware fondasie en stel dus glad nie belang in die sang van valse profete en voortdurende profesie nie!

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

1 Victor Budgen, The Charismatics and the Word of God (Great Britain: Evangelical Press, 1985), p. 11.
2 John F. MacArthur, Jr., Charismatic Chaos (Grand Rapids, MI: Zondervan, 1992), pp. 66-69.
Show Buttons
Hide Buttons