Menu Close

Die Amp van Herder/Leraar

Rev. Angus Stewart

Anders as die ampte van apostel, profeet en evangelis (wat ons in die vorige News behandel het), is die amp van herder en leraar (die ander kerklike amp wat in Ef. 4:11 genoem word) nie ‘n buitengewone amp nie (hoewel dit ‘n besondere amp is). Eerstens het die buitengewone ampte (apostel, profeet en evangelis) die volgende of sommige daarvan betrek: ‘n buitengewone roeping, direkte openbaring en wonderwerke. Nie een van hierdie buitengewone gawes is deel van die amp van herder/leraar nie. Tweedens is die buitengewone ampte tydelik, en met die apostoliese era afgesluit, terwyl die amp van herder/leraar (soos die ampte van ouderling en diaken) permanent is en duur tot met Christus se wederkoms (vgl. I Tim. 3; 6:14). Derdens behels die buitengewone ampte gesag oor die kerke in die algemeen (en het gewoonlik reisendheid ingesluit), terwyl herders/leraars deur ‘n besondere kerk geroep word.

Die hoofsaaklike ooreenkoms tussen die drie buitengewone, tydelike ampte en die besondere, permanente amp van herder/leraar—en die rede waarom van hierdie vier ampte in Ef. 4:11 gepraat word—is dat al hulle almal leerampte is. Jesus Christus, die opgevare hoof van die kerk, het ruim voorsiening gemaak vir die toerusting en opbouing van sy mense (vv. 11-16). In die apostoliese tyd is apostels, profete en evangeliste, sowel as plaaslike herders/leraars, geroep om die kennis van Christus te versprei. In die na-apostoliese tyd word amptelike prediking van die Woord aan herders/leraars opgedra. Daar is nie hier of elders in die Heilige Skrif melding van, of voorsiening vir, of behoefte aan ‘n pous wat onfeilbaar ex cathedra spreek, laat staan nog ander onbybelse en teenbybelse ampte soos aartsbiskoppe en kardinale, nie.

Die amp van herder/leraar is nie net te onderskei van die buitengewone ampte van apostel, profeet en evangelis nie, maar dit is ook onderskeie van die besondere, permanente ampte van (regeer)ouderling en diaken. Diakens bedien hulp en ouderlinge regeer, terwyl die essensie van die amp van die herder is om te leer. Nietemin regeer leerouderlinge ook, en het regeerouderlinge leergawes ten einde in die kerk te kan regeer (vgl. “bekwaam om te onderrig;” I Tim. 3:2). Die bybelse onderskeid tussen ‘n leerouderling—herder/leraar in Efesiërs 4:11 en “engel” of “boodskapper” in Openbaring 2-3—en ‘n regeerouderling, word gemaak in I Tim. 5:17.

Dit is dus duidelik dat die Bybel vereis dat daar besondere ampte in die kerk as instituut sal wees. Dit is nie ‘n geval van dienstigheid, of natuurlike ontwikkeling of menslike bedenksel nie. Die kerklike ampte van herder/leraar, ouderling en diaken is deur God verordineer vir die hele Nuwe Testamentiese tyd. Om kerklike ampte te verwerp is om jouself wyser as God te ag, want een van die heerlike doeleindes van Christus se hemelvaart (Ef. 4:8) is om ampsdraers te gee om sy liggaam op te bou (v. 11).

Nie almal is besondere ampsdraers is God se kerk nie. Kinders, klaarblyklik, ontbreek die vermoë en Christus verbied vroue ampsdraers. “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee [dit is, ‘n vrou kan nie ‘n herder/leraar wees nie] of oor die man te heers [as herder/leraar, ouderling of diaken, want al drie behels gesag oor die man] nie, maar sy moet haar stil hou” (I Tim. 2:12). Ook word nie alle manne nie, maar net sommiges geroep en bevestig in die besondere ampte.

Dít doem alle verwerping van kerklike ampte by die Anapbptiste en die broederisme met hulle allemansbediening en allemansprediking. Hulle beskouing kyk net na gawes en nie ook na roeping en amp nie. In die kerke van die Reformasie is dit gebrandmerk as “fanatisisme” en “dwepery,” want Christus het net spesefieke “ander” as herders en leraars gegee (“ander” word bepaal deur “sommige” in Ef. 4:11). Die opgevare Christus wat “ander as herders en leraars” gegee het, verbind amptelike prediking aan die amp van herder/leraar (vgl. die Westminster Larger Catechism, V. & A. 158).

Dit moet ook genoem word dat, hoewel daar “ongelykheid” onder gelowiges is, wat betref die besondere ampte, ons almal gelyk staan in die amp van die gelowige (Ef. 4:7). Die weg waarlangs ons in ons van God gegewe amp as gelowige groei, sluit in dat ons nie ons doel verbystrewe as lekepredikers nie. Ons groei eerder in genade deur te berus in die plek in die kerk wat God ons aangewys het, en gehoorsaam te wees aan die getroue prediking deur ware herders wat deur die opgevare Christus vir ons opbou gegee is (vv. 11-16). Dit is ook die manier om bybelse eenheid in die kerk te bewaar (vv. 1-6).

As “herder” (v. 11) is ‘n Christelike predikant ‘n geestelike skaapherder. ‘n Skaapherder wys die kudde wat Christus aan hom toevertrou het die pad aan, laat hulle wei, regeer hulle, lei hulle en beskerm, tel en ken hulle. Hy moet dit wyslik, sagkens en voortdurend doen. Sy sorg is daarin geleë dat afgedwaalde skape nie verlore gaan nie, kwetsbare skape teen roofdiere beskerm word, siek skape van siekte genees word en honger skape met goeie weiding gevoed word. As “leraar” (v. 11) pas hy die kudde op deur getroue verklaring en toepassing van die Woord van God.

Jesus Christus is, as die “groot Herder van die skape” (Heb. 13:20), die voorbeeld vir alle herders/leraars. Hy is die “goeie herder” wat sy lewe vir die skape afgelê het (Joh. 10:11) en wat hulle “vir Hom … deur sy Gees en Woord … vergader, beskerm en onderhou” (Heidelbergse Kategismus, A. 54). Hierdie “Herder … van ons siele” (I Pet. 2:25) gee onderherders en rus hulle toe as herders en leerars, uit liefde vir die kudde. Ons eer Hom deur op hulle ag te gee.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons