Menu Close

Idees Het Konsekwensies: Politieke Korrektheid (1)

Calvin Kalsbeek2

… en van die seuns van Issaskar, met kundige insig wat die tye betref, om te weet wat Israel moes doen; hulle hoofde was tweehonderd, en al hulle broers onder hulle bevel … (I Kronieke 12:32).

Die idees van Lukacs, Gramsci, Adorno en Marcuse het die Westerse beskawing gedurende die twintigste en een-en-twintigste eeu deurdrenk. En tog het net ‘n kleine fraksie van diegene uit wie die volkere met hul wortels in die Westerse beskawing bestaan, van enkele van hierdie persone nog gehoor.

En die konsekwensies van hul idees was beslis nie ten goede nie! Trouens, die idees van hierdie manne het die uitwerking gehad dat, “[i]n die bestek van ‘n halwe menseleeftyd baie Amerikaners beleef het dat hul God onttroon word, hul helde onteer, hul kultuur besoedel, hul waardes op die allerfelste maniere aangeval, hul land ingeval, en hulle self gedemoniseer/as’t ware tot duiwels verklaar word, as synde bekrompe, waar hulle vashou aan opvattings wat Amerikaners geslagte lank as hul oortuiging beskou het.”3

Vandag word ‘n konsekwensie/uitvloeisel van hul idees algemeen die etiket omgehang van “politieke korrektheid.” Die bedoeling van hierdie artikel en die daaropvolgende is om politieke korrektheid te ondersoek: wat dit is, waar dit vandaan kom, hoe dit bevorder word, die ernstige konsekwensies/gevolge, en waarom die Issaskar van ons tyd bekommerd behoort te wees.

Wat is politieke korrektheid?

Dit is nie maklik definieerbaar nie. Volgens Wikipedia:

Polititieke korrektheid is ‘n term wat betrekking het op taal, idees, beleid of gedrag wat daarop gemik is om so min as moontlik aanstoot te gee ten opsigte van geslag, ras, kulturele, gestremde, bejaarde, of ander identiteitsgroepe. In die omgangstaal word die term “politieke inkorrektheid” gebruik om te verwys na taal of idees wat aanstoot mag gee, of  onbevange/ongebreideld gebruik word in ortodokse verband.4

Soos uit die definisie blyk, word sekere sleutelterme op tafel geplaas wanneer politieke korrektheid ter sprake kom—terme wat op sigself heeltemal onskuldig en onskadelik lyk, maar wat nietemin gelaai is met betekenis wanneer dit in verband gebring word met hul politiek korrekte ideologie. Brannon S Howse het ten opsigte van vier van die terme en die idees waarvoor hul staan, gedefinieer vanuit die oogpunt van politieke korrektheid, soos volg geskryf:

Verdraagsaamheid beteken dat ‘n persoon nooit ‘n oordeel/opinie uitspreek oor iemand anders se idees, opvattings en waardes vanuit ‘n wêreldbeskouing van absolute waarheid nie. Verdraagsaamheid eis dat jy nie net die ander wêreldbeskouing aanvaar/erken nie, maar dat jy ook hul wêreldbeskouing in ag neem—tensy, natuurlik, dié beskouing Bybelse Christelikheid is. Verdraagsaamheid is uiters onverdraagsaam teenoor Bybelsgesinde Christene.

Diversiteits- of sensitiwiteitsopleiding beteken normalisering van ‘n homoseksuele leefwyse.

Multikulturaliteit is nie die studie van van verskillende kulture nie, maar korrektheidskritiek van die Westerse kultuur in sy basiese wêreldbeskouing van die Christendom. Multikulturaliteit is ook daarop gerig om patriotisme uit te wis.

Feminisme gaan nie bloot oor gelyke regte vir vroue nie, maar oor die vernietiging van ‘n patriargale samelewing ten gunste van ‘n matriargale. Die bedoeling van feminisme is met ander woorde vernietiging van die gesinstruktuur deur die eggenoot en pa as die voorsiener, beskermer en beginselvaste leier van sy huis.5

Die gevolg is dat, in ooreenstemming met die leerstellings van politieke korrektheid, wie beweer dat regstellende aksie onregverdig is, die etiket van “rassis” om die nek gehang word. Om te sê dat homoseksualiteit ‘n afwyking is (soos voor 1973 gesê is deur die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging), word beskou as “homofobie.” Sê jy dat vroue nie in militêre gevegsposisies geplaas behoort te word nie, is jy “seksisties.” Of dat jou kultuur van hoër orde is as ander s’n, word uitgemaak as “xenofobies.” Dat Jesus Christus die enigste weg tot saligheid is, word bestempel as “bekrompenheid, verkramptheid, dwepery.” Om te sê dat radikale jihadiste steun vir hul optrede uit die Koran kry, is dan sogenaamd “Islamofobie.” En so aan … Feit is dat, deur hierdie taktiek van etikettering, diegene wat politieke korrektheid propageer juis meningsvolle gespreksmoontlikheid oor hul idees fnuik.

Waar kom dit vandaan?

Anders as die konvensionele opvatting, kan die wortels van politieke korrektheid gevind word reeds lank voor die era van die hippies en die vredesbeweging van die Amerikaanse studente-opstand gedurende die 1960’s. Die fassinerende geskiedenis van politieke korrektheid kan eerder teruggevoer word na die tyd van die Eerste Wêreldoorlog. ‘n Ietwat vollediger studie van dié geskiedenis kan die moeite werd wees, aangesien dit ‘n aanduiding kan gee van waarom politieke korrektheid soms bestempel word as “kulturele Marxisme.”

Karl Marx, Friedrich Engels, en hul dissipels, het met sekerheid voorspel dat, sodra daar oorlog uitbreek in Europa, die werkers (proletariaat) van die nasies in opstand sou kom teen die heersers (bourgeois), eerder as om teen hul eweknieë te veg. Dit het natuurlik toe nie gebeur nie, tot hul misnoeë.

Toe die oproep kom, het die werkers, van wie Marx beweer het dat hulle geen vaderland het nie, hul geïdentifiseer met hul land, nie met hul klas nie. Die werker het uitgedraai as een van die nasionale familie, soos al die ander. Die krag van sy antagonisme, wat veronderstel was om kapitalisme omver te werp, het ‘n beter teiken gevind in die vreemdeling. Soos die middelklas, soos die top-klas, soos die spesie, het die werkersklas gewilliglik, eerder gretiglik, die oorlog binnegegaan.6

Was Marx dan verkeerd?

Twee van Marx se dissipels, Georg Lukacs en Antonio Gramsci, het tot die konklusie gekom dat dit inderdaad so was! Hulle het gesien dat die werkers nie deur die kapitalisme verarm is nie, soos Marx gereken het sou gebeur, ook dat hulle nie in opstand gekom het nie. Die rede hiervoor sou dan wees dat hulle verblind is ten opsigte van hul ware klassebelange deur tweeduisend jaar van indoktrinasie deur die Christendom. Dus moes die Christendom en die Westerse kultuur totaal uitgewis word uit die siel van die Westerling. Eers dan sou Marxisme tot sy volle reg kon kom, soos Marx dit bedoel het.

Lukacs, wat Adjunkkommissaris van Kultuur in Hongarye was, het dus nou sy “demoniese” idees, soos hy dit self genoem het, in werking gestel in wat bekend sou staan as “kulturele terrorisme.” Onder andere het sy program behels die invoer van ‘n radikale seksonderrigleerplan in die Hongaarse skole, waar die kinders “onderrig is in vrye liefde, seks, die argaïese karakter van middelklas gesinskodes, dat monogamie uitgedien is, dat godsdiens irrelevant is en die mens van alle vreugde ontneem. Vroue is opgeroep om te rebelleer teen die geslagskodes van die tyd.”7

Hiermee was Lukacs natuurlik daarop uit om die gesinstruktuur as sodanig af te breek—wat, so het hy geglo, die kerninstelling van die Christendom en die Westerse kultuur was.

Gramsci, ‘n Italiaanse Kommunis, was natuurlik nie welkom in sy vaderland onder Mussolini se Fascistiese regering nie, en het in 1922 na Rusland uitgewyk, net om te ontdek dat Kommunisme ook daar nie gewerk het nie. Hy het ervaar dat die Russiese volk ‘n weersin daarin gehad het en dat hulle slegs deur terreur aan bande gehou is. Soos Lukacs, het Gramsci beweer dat die Russiese volk deur hul Christelike oortuigings daarvan weerhou is om hulle in die Kommunistiese rewolusie te werp. ‘n Regime wat gegrond is in Judees-Christelike geloofswaardes sou nie omvergewerp kon word voordat hierdie waardes uitgeroei is nie.

As die Christendom dan die skild vir die kapitalisme was, moes Marxiste dus allereers die Weste ont-Christianiseer.8 Ontnugterd keer Gramsci terug na Italië om die Italiaanse Kommunisteparty te lei. Hy sou egter etlike jare in die tronk deurbring, en is kort na sy vrylating in 1937 oorlede. Wat egter belangrik was, was die notas/boeke wat hy in die gevangenis geskryf het, waarin hy sy planne uiteengesit het vir ‘n geslaagde Marxistiese rewolusie in die Westerse wêreld:

Gramski se uitgangspunt was dat die Marxiste eers ‘n ommekeer in die Westerse kultuur teweeg moes bring, waarna die gesag outomaties sou volg, eerder as om eers die gesag met geweld te gryp en ‘n kulturele rewolusie van bo af te forseer. Maar, die kulturele ommekeer sou “‘n lang opmars deur die instellings” verg—die kunste, films, teater, skole, kolleges, seminaries, koerante en tydskrifte, en die nuwe elektroniese medium, die radio. Een na die ander moes elkeen hiervan verower word en omskep word en verpolitiseer word tot ‘n agent van die rewolusie. Dan kon die volk geleidelik opgevoed word tot die verstaan en selfs uiteindelike omarming van rewolusie.9

Gramski het sy volgelinge aangemoedig om die plan te implementeer waar, hoe en wanneer hulle ook al kon. En dát hulle dit gedoen het, het skrywer van hierdie artikel etlike jare gelede eerstehands ervaar met die lees van die boek “The Greening of America” van Charles Reich vir ‘n kollegetaak. Die boek was ‘n blitsverkoper met sy publikasie in 1970, en in die flapteks eggo Reich Gramsci se bloudruk vir die toekoms:

‘n Rewolusie is op hande. Dit sal egter nie wees soos die rewolusies waarvan ons leer in Geskiedenis nie. Inteendeel. Dit sal begin by die individu en die kultuur, en die heel laaste sal dit die politieke struktuur verander. Hierdie rewolusie verg geen geweld om te kan slaag nie; trouens, dit kan ook nie beveg word met geweld nie. Dit is alreeds besig om teen ‘n verstommende spoed voort te snel, en in sy voetspore is ons wette, ons instellings en ons maatskaplike struktuur reeds besig om ‘n ommekeer te toon … Dit is die rewolusie van die nuwe geslag.10

Dit is duidelik dat die idees van Lukacs en Gramski vinnig veld wen in die Westerse wêreld. Die vraag kom by ‘n mens op: Hoe het dit Amerika bereik?

Die antwoord lê by die sg Frankfurter Schule. In 1923 het Lukacs en ander lede van die Duitse Kommunisteparty ‘n instituut vir Marxisme opgerig by die Frankfurtse Universiteit, genoem die Instituut vir Maatskaplike Navorsing.

Op ‘n later stadium is die naam verander na die Frankfurter Schule, waar die moeisame taak uitgevoer is om (die teorie van) Marxisme om te sit in die kulturele terme van Lukacs en Gramsci. Die werk is egter onderbreek in 1933 met die begin van die Hitlerbewind in Duitsland. Die leidende figure aan die Frankfurter Schule was Jode en Marxiste—nie populêr in die nuwe staatsbestel nie. By die Columbia University in New York City het hulle ‘n nuwe tuiste gevind, en al gou het hulle “hul talente en energie in ‘n nuwe rigting gestuur, naamlik om die kultuur van die land wat aan hulle toevlug gebied het, te ondermyn.”11

‘n Sleutel tot welslae in die ondermyning van die kultuur van hul aangenome land was die sg Kritiese Teorie. Die naam mag wel neutraal en onskadelik klink, maar die intensies is dit allermins. ‘n Definisie van die Kritiese Teorie deur een van die aanhangers daarvan, lui soos volg:

[Dit is] wesenlike destruktiewe kritiek van al die belangrikste elemente van die Westerse kultuur, insluitende die Christendom, kapitalisme, gesag, die gesin, patriargie, moraliteit, tradisie, die afkeur van vrye seks, lojaliteit, patriotisme, nasionalisme, die erflikheidsleer (? – HS), etnosentrisme, konvensie, en konserwatisme.12

“Kritiese Teorie,” toegepas in die praktyk, kom neer op die gedurige herhaling deur die kulturele Marxiste van hoe die Weste skuldig is aan (volks)moord van elke kultuur. Oor en oor maak hulle jou wys dat Westerse gemeenskappe rassisties, seksisties, homofobies, fascisties, ensovoorts, is. Oor en oor word ‘n geestesinstelling van pessimisme, hopeloosheid en wanhoop in die Westerse gemeenskap aangemoedig. Die idee onderliggend aan die teorie is dat, deur die aanhoudende gehamer op die kritiek, die volk (die ontvanklike gehoor in die openbare of staatskole, kolleges en universiteite in die besonder) gekondisioneer sal word om die samelewing en die land as onderdrukkend, boos, en sy lojaliteit en liefde onwaardig, te beskou.

Die Kritiese Teorie is verder bevorder deur die Marxis Theodor Adorno in sy boek The Authoritarian Personality wat in 1950 verskyn het. Dié boek sou ‘n handleiding word vir ‘n nasionale veldtog teen vooroordeel of diskriminasie van watter aard ookal, met die argument dat, as die euwels nie uitgeroei word nie, ‘n tweede Holocaust sou plaasvind op die Amerikaanse vasteland. Op sy beurt het die veldtog die grondslag geword vir wat vandag bekend staan as “politieke korrektheid.” Ook sou die boek die konsep van “kulturele determinisme” bevorder.

Volgens Adorno se denke sou dit dus byvoorbeeld daarop neerkom dat, waar ‘n gesin diep Christelik is, kapitalisties, en deur ‘n outoritêre vaderfiguur beheer word, ‘n mens kan verwag dat die kinders as rassiste en fasciste sal opgroei. Dit is baie duidelik waarheen hierdie gedagterigting voer: dat dit wat voorheen bloot as oudmodies beskou is, nou ‘n sielkundige afwyking geword het, wat behandel moet word. Die “geheime formule”, soos beskryf deur die sielkundige Thomas Szasz, is “As jy dit wat ‘n persoon doen, wil afkraak … bestempel hom as geestesversteurd.”

Met die Frankfurtse Skool se idees van kulturele Marxisme gevestig, was daar nog net ‘n “nuwe” proletariaat nodig om die oue te vervang. U sal onthou dat Marx se proletariaat nie gerealiseer het nie; die werkersklas het nié voldoen aan sy verwagtinge van ‘n rewolusie nie. Nou verskyn die volgende op die toneel: Herbert Marcuse! Marcuse sou die antwoord verskaf op die vraag: “Wie gaan die rol van die proletariaat vervul in die komende kulturele rewolusie?”

Sy kandidate vir díe belangrike taak sou insluit die radikale jeug, swart militante, homoseksuele, vervreemdes, die asosiales, en Derdewêreldse rewolusionêres—met ander woorde al die “vervolgde slagoffers” van die Westerse wêreld.13

Marcuse sou nie alleen die mannekrag(persone-krag?) voorsien vir die rewolusie wat die Westerse kultuur sou omverwerp nie, maar ook die strydkreet. Teen die agtergrond van die oorlog in Vietnam wat al hoe meer teenstand gekry het, het sy strydkreet presies dit wat die kulturele rewolusie voorgestaan het, omvat: “Make love, not war!”

1 Met toestemming vertaal uit the Standard Bearer, volume 85, Issue 11 (1 Maart 2009) (www.rfpa.org).
2 Calvin Kalsbeek gee onderwys aan die Covenant Christian High School en is ‘n ouderling in die Hope Protestant Reformed Church, Grand Rapids, Michigan.
3 Patrick J. Buchanan, The Death of the West (New York: St. Martin’s Press, 2002), p. 5.
4 http://en.wikipedia.org/wiki/Political_correctnesscriticism
5 Brannon S. Howse, “Political Correctness is Cultural Marxism,” Worldview Weekend Digest (Summer/Fall, 2008), p. 16.
6 Barbara Tuchman, The Proud Tower: A Portrait of the World Before the War: 1890-1914 (New York: Ballantine Books, 1993), p. 462.
7 Buchanan, p. 75. 8Gerald L. Atkinson, “What Is the Frankfurt School?” (August 1, 1999), p. 2 (www.newtotalitarians.com/FrankfurtSchool.html).
9 Buchanan, p. 77.
10 Charles A. Reich, The Greening of America (New York: Bantam Books, 1971), p. 2.
11 Buchanan, p. 80.
12 Michael Lowy, Georg Lukacs: From Romanticism to Bolshevism (London: NLB, 1979), p. 112.
13 Buchanan, p. 85.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons