Ronald Hanko
Ons het die ouer postmillennialisme met ʼn meer onlangse postmillennialisme, wat ʼn integrale deel is van die Christelike Rekonstruksie-beweging, vergelyk. Die laasgenoemde postmillennialisme verskil baie van die ouer postmillennialisme van die Puriteine en hou groter gevare in.
Eerstens ontwaardig hierdie vorm van postmillennialisme die prediking van die evangelie. Die aanhangers daarvan maak die politiek en die ekonomie net so belangrik vir die koms van die koninkryk soos die evangelie. Vir hulle lê die oorwinning van die koninkryk nie soseer in die redding van die mens deur die evangelie nie, soos in die heerskappy van Christene oor die hele samelewing.
Tweedens ontwaardig hierdie postmillennialisme die kerk en maak dit niksbeduidend. Omdat dit glo dat die koninkryk iets belangriker en groter is as die kerk, beskou dit die kerk nie as die vernaamste voorwerp, naas Christus, van die liefde van die Christen nie. Hierdie beskouing word ewenwel in Psalm 122:6 en Efesiërs 1:17-23 weerlê. Die postmillennialistiese beskouing dat die vergadering en die bewaring van die kerk nie die hoofdoel in die lewe en werk van die Christen is nie, is eweneens strydig met Psalm 122:9 en Efesiërs 1:7-23. Die kerk is dan vir baie ʼn blote opleidingsplek vir die Christen se rol in die politiek, die ekonomie en ander maatskaplike terreine.
Hierdie afbreuk aan die kerk lei tot groot gebrek aan belangstelling in sake wat kerkregering, erediens en leer betref en tot ʼn ongesonde soort ekumenikalisme – ʼn bereidwilligheid om met diegene wie se leer onbybels mag wees, saam te werk. Die hoofsaak is volgens hulle immers nie die kerk nie, maar die koninkryk.
Diesulkes wat hierdie vorm van postmillennialisme voorstaan, beskuldig die kerk daarom dikwels dat dit van vroeg in die geskiedenis sy roeping versaak het, want hoewel die kerk die evangelie getrou gepreek het en die redding van sondaars gesoek het, het dit nie oor die hele maatskappy geheers nie. Hierin het die kerk, so sê hulle, klaaglik misluk.
Derdens ondermyn hierdie vorm van postmillennialisme die getroue Christelike getuienis. Met sy klem op die noodsaaklikheid van politieke aksies en betrokkenheid in die verskeie maatskaplike strewes, ag dit nie die getuienis van die gewone Christen terwyl hy opreg en getrou in sy Godgegewe plek lewe nie. Die belangrikste is dan nie om, selfs al grawe jy slote, ʼn getroue getuie te wees wat deur God tot redding van ander gebruik word nie, maar om die samelewing oor te neem.
Vierdens vertoon die voorstaanders van hierdie postmillennialistiese beskouing, met hulle beklemtoning van die wet, in baie gevalle ʼn nuwe soort wettisisme. Diegene wat verwag dat die koninkryk sal kom deur alle mense onder die heerskappy van die wet te bring, dink inderdaad dat die wet iets sal doen wat die evangelie nie kan doen nie. Hulle vergeet die swakheid van die wet wat in Romeine 8:3 beskryf word: “Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees, deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees”.
Ten slotte neig hierdie vorm van postmillennialisme, met sy klem op ʼn millennialistiese koninkryk wat eerstens in hierdie wêreld verwesenlik sal word, om ʼn godsdiens te word wat aardse dinge bedink waarteen Paulus in Filippense 3:19 waarsku: “Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge”. Dit is by hulle wat ʼn mens die ontkenning kry van die opstanding van die liggaam, van die hemel as ʼn werklike plek en tuiste van die gelowiges, en selfs van die hemelvaart van Christus, wat immers die waarborg van al die hemelse hoop van die gelowige is.
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.