Menu Close

Postmillennialisme / Postmillennialism

    

Ronald Hanko

Ons het postmillennialisme beskryf as die beskouing dat, hoewel die millennium wel reeds begin het, die hoofsaak van die vervulling daarvan nog in die toekoms lê en eers gesien sal word wanneer ʼn tyd van ongekende vrede, seën en voorspoed deur die kerk en die evangelie aanbreek. Daar is meer as een soort postmillennialisme, elk met sy eie vertolking van die millennium.

Eerstens is daar die ouer millennialisme van sommige Puriteine en moderne skrywers, wat ʼn groot werk van God in die toekoms onder die Jode verwag waardeur baie, selfs die meeste, bekeer sal word. In dieselfde trant verwag ander ʼn groot herlewing in die kerk in die eindtyd voor die wederkoms van Christus. Die evangelie sal dan weer soos in die tyd van die apostels en die Protestantse Reformasie van die sestiende eeu, vrugte dra.

Meer onlangs het ʼn meer radikale postmillennialisme na vore getree, wat deel is van wat soms “Christelike Rekonstruksionisme”, of “teologie van heerskappy” genoem word Hierdie postmillennialisme verwag ʼn heerlike toekoms vir die kerk én dit leer dat die hele mensdom eendag onder die regering van Christene sal wees en dat hierdie “verchristelikte” gemeenskap die vervulling sal wees van die beloftes van die Skrif oor die koninkryk van Christus.

Hierdie meer onlangse vorm van postmillennialisme verwag dat die koninkryk van Christus hoofsaaklik in die teenswoordige wêreld sal realiseer en dat dit deur die prediking van die evangelie, die groei van die kerk én deur die “aksie” en betrokkenheid van Christene op die verskillende lewensterreine teweeggebring sal word. Die meeste mense met hierdie oortuiging, huldig die standpunt dat dit vir Christene noodsaaklik is om op alle vlakke van die gemeenskap betrokke te raak, dit mettertyd “oor te neem” om dit só vir Christus op te eis en, volgens hulle, Christus op elke lewensterrein as Koning te kroon.

Die meeste van diegene wat hierdie beskouing huldig, is ook “preteriste” (die Grieks preter, beteken “verby”). Hulle glo dat Matthéüs 24:1-35 en die grootste deel van die boek Openbaring reeds vervul is of in die verlede lê – dat die gebeure wat beskryf word deur die verwoesting van Jerusalem deur die Romeine in 70 n.C. vervul is. Die meeste van hulle sê dat die Bybelse profesieë oor Antichris en die groot verdrukking reeds verby is. Hulle rooskleurige siening van die toekoms van die kerk en die menslike gemeenskap, sluit enige geloof aan verdrukking in die eindtyd en die openbaring van Antichris uit.

Hierdie mense is ook merendeels teonomiste (teonomie beteken “wet van God”). Hulle glo dat die wet van God, ook die Ou Testamentiese burgerlike voorskrifte, die grondslag vir die verchristelikte gemeenskap, ʼn koninkryk van Christus hier op aarde, sal wees. Nie die evangelie nie, maar die wet, sal die mag van dié koninkryk wees, want hoewel nie almal sal bekeer nie, sal almal onder die wet van God en onder die “heerskappy” van die wet kom.

Hoewel ons nie met die ouer postmillennialisme van die Puriteine en die moderne eweknie daarvan saamstem nie, ondervind ons baie meer probleme met die latere radikale postmillennialisme. Ons beskou dit as ʼn dwaling wat net so ernstig is soos dié van dispensasionalisme.

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons