Menu Close

Vergelyking van pre-millennialisme met die bedelingsleer / Premillennialism and Dispensationalism Compared

    

Ronald Hanko

Pre-millennialisme en die bedelingsleer behoort, streng gesproke, tot dieselfde denkskool omdat albei leer dat die persoonlike en sigbare koms van Christus vóór ʼn toekomstige duisend jarige regering van Christus sal plaasvind. Daar bestaan ʼn aantal ooreenkomste in hulle beskouings. Albei leer ʼn letterlike, duisendjarige ryk. Albei leer dat die millennium en die ryk in die toekoms lê. Albei leer dat die duisendjarige ryk van Christus op aarde sal wees, met Jerusalem as die middelpunt, en dat Christus daar persoonlik en sigbaar op aarde sal regeer. Albei leer dat God se belofte van ʼn land aan Abraham en die Joodse volk, vir dié volk in die toekoms letterlik op die aarde vervul sal word. Albei glo dat “Israel” in die Skrif deurgaans net die fisiese nageslag van Abraham, die Jode, beteken. Albei leer meer as een opstanding en meer as een oordeel.

Daar bestaan ewenwel belangrike verskille tussen pre-millennialisme en die bedelingsleer. Die bedelingsleer leer twee komste van Christus voor die millennium (duisend jaar voor die einde van die geskiedenis), te wete sy koms met die wegraping (wanneer Hy sy heiliges kom haal) en met sy verskyning (tesame met sy heiliges). Die bedelingsleer leer ook ʼn geheime wegraping, wat te enige tyd, vóór die groot verdrukking, sal plaasvind, wat sou beteken dat die kerk nie die verdrukking sal ly nie, maar reeds by Christus sal wees.

Die bedelingsleer leer dat die Nuwe Testamentiese kerk ʼn “parentese”, of invoeging, in die geskiedenis is en dat die Joodse nasie die enigste volk en koninkryk van God is. Die beskouing van die dispensasionaliste is eweneens dat die duisendjarige ryk van Christus uitsluitlik ʼn Joodse koninkryk sal wees; dat die Jode alleen die koningsvolk sal wees. Hierbenewens leer die bedelingsleer dat die Heilige Gees in die tyd tussen die twee fases van Christus se pre-millennialistiese wederkoms, die wegraping en sy verskyning, nie op aarde teenwoordig sal wees nie.

Die vroeëre bedelingsleer van die aantekeninge in die Scofield Study Bible maak die verwarring des te groter deur te leer dat daar vir Jode en heidene afsonderlike weë tot saligheid is en te ontken dat versoening in die Ou Testament alleen deur die bloed en offer van Jesus Christus en geloof in Hom gekom het. In teenstelling hiermee leer historiese pre-millennialisme tereg dat die wegraping en die verskyning een gebeurtenis is, nie twee nie. Historiese pre-millennialisme ken nie ʼn geheime wegraping nie, en leer dat die kerk wel die groot verdrukking van die laaste dae sal beleef. Anders as die bedelingsleer leer historiese pre-millennialisme dat die kerk wel deel sal wees van, en ʼn plek sal hê in die koninkryk van Christus, en nie ʼn “invoeging” tussen die verlede en die toekoms in die geskiedenis van God se handelinge met die Jode is nie. Ten slotte ken historiese pre-millennialisme ketterse leer van die bedelingsleer in die aantekeninge in die Scofield Study Bible, wat beweer dat daar verskillende weë van verlossing in die verskillende bedelings bestaan en ook die vreemde, onbybelse idee verkondig dat die alomteenwoordige Heilige Gees ʼn tyd lank van die aarde onttrek sal word.

Ons glo dat, hoewel historiese pre-millennialisme baie van die valse leerstukke van die bedelingsleer nie bevat nie, dit nie vêr genoeg gaan nie. Ons hoop om aan te dui dat die ouer én die nuwere leer van die pre-millennialisme onbybels is.

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons