Menu Close

Die dwalings van pre-millennialisme / Premillennialism’s Errors

    

Ronald Hanko

Pre-millennialisme, wat soms ook “chiliasme” genoem word, leer dat die persoonlike, sigbare wederkoms van Christus een duisend jaar voor die einde van die wêreld sal plaasvind. Dit leer ook dat afvalligheid en boosheid sal toeneem en op die finale openbaring van die Antichris sal uitloop. Dán begin ʼn tyd van hewige vervolging, wat in Matthéüs 24:21 die “groot verdrukking” genoem word. Die heerskappy van die Antichris en die tyd van vervolging sal duur tot die koms van Christus, wat sy heiliges sal opwek, hulle sal oordeel, die vloek van die aarde sal verwyder en in Jerusalem ʼn koninkryk sal vestig wat ʼn duisend jaar sal duur.

Daardie koninkryk, aldus die pre-millennialisme, sal die gevolg wees van ʼn grootskaalse bekering van die Jode, wat dan na hulle eie land sal terugkeer. Hoewel die Jode voorkeur sal geniet, sal hulle saam met die Christene uit die heidenvolke die koninkryk van Christus, met Jerusalem as sentrum, vorm. Daardie koninkryk sal gekenmerk word deur geregtigheid, vrede en voorspoed hier op aarde en sal presies een duisend jaar bestaan. By die einde van hierdie aardse regering van Christus sal die ander dode opgewek word, waarop die laaste oordeel en die skepping van die nuwe hemel en die nuwe aarde sal volg.

Sommige van die beskouings van die pre-millennialisme is baie vreemd. Die burgers van die duisendjarige ryk is, byvoorbeeld, veronderstel om uit mense wat opgewek en verheerlik is én hulle wat dan nog lewe, te bestaan. Dít word in 1 Korinthiërs 15:50 weerspreek. Ook is die koninkryk veronderstel om op ʼn aarde waarvan die vloek verwyder is, maar nog nie van sonde, siekte en dood verlos is nie, te bestaan. Op so ʼn aarde sal die heiliges dan saam met diegene wat nog aan sonde en dood onderhewig is, lewe.

Daar bestaan ewenwel belangriker besware teen dié leer. Eerstens weerspreek die pre-millennialistiese leer, dat die wederkoms van Christus duisend jaar voor die einde van die wêreld sal plaasvind, die leer van die Skrif dat dit terselfdertyd as die einde van hierdie aarde (1 Korinthiërs 15:23, 24), die skepping van die nuwe hemel en die nuwe aarde (2 Petrus 3:9, 10), die opstanding van ál die gestorwenes (Openbaring 20:12, 13) en die laaste oordeel (Matthéüs 24:37-41; Lukas 17:28-37; Judas 6, 7, 14, 15) sal gebeur.

Tweedens leer die Skrif nie van meer as een weeropstanding en oordeel (Johannes 5:25-29) of ʼn opstanding en oordeel wat die einde van die wêreld duisend jaar voorafgaan nie (Johannes 6:39, 40, 44, 45; Johannes 11:24; 1 Korinthiërs 15:51, 52. Let op die klem op laaste in vers 52).

Derdens leer die Skrif juis die teenoorgestelde van ʼn aardse koninkryk. Die Skrif beklemtoon tewens dat dit ʼn hemelse koninkryk is (Johannes 18:36; Hebreërs 12:22, 23).

Vierdens leer die Skrif dat die koninkryk van Christus ewig, en nie duisend jaar nie, sal duur (Daniël 4;34; Daniël 7:27; 2 Petrus 1:11).

Vyfdens leer die Skrif nie dat die Jode net die fisiese nageslag van Abraham is nie. In teendeel leer word ons geleer dat alle gelowiges — uit die Jode én uit die heidene — die ware Jode, die ware Israel van God is (Romeine 2:28, 29; Galasiërs 3:29; Filippense 3:3). Israel is die kerk, en die kerk is Israel. Net so is die koninkryk die kerk, en die kerk die koninkryk.

Dit is in besonder om hierdie redes wat ons die pre-millennialistiese leer verwerp.

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons