David J. Engelsma1
Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik – omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God? (Johannes 10:34–36).
Inleiding
Ons het in hierdie boek kragtige bewegings in die wêreld van vandag ondersoek. Dit is bewegings wat bepaal wat mense glo en hoe hulle optree.
Hierdie bewegings beheer, en word versprei deur, die populêre kultuur – radio, televisie, die internet, koerante, musiek, boeke en so meer.
Staatskole bevorder die bewegings en breinspoel byna die hele volkere wêreld.
Dié bewegings word aktief en aanmatigend deur regerings bemagtig. ’n Federale regter in Kalifornië in die Verenigde State het onlangs ’n meerderheidstem van Kaliforniërs om homoseksuele “huwelike” ongeoorloof en onwettig te verklaar, ongeldig gemaak. Só het die hof sy gewig agter een van die mees perverse bewegings van ons tyd gegooi. Baie kerke verklaar dat dié bewegings Christelik is, en betoon hulleself daarmee as vals, of afvallige, kerke. Die bewegings en ontwikkelings wat ons ondersoek, is aanvalle op die belydenis en lewe van die ware kerk en haar lidmate.
Al die bewegings het in gemeen dat hulle die gesag van die Heilige Skrif – die Woord van God – verwerp, en die gesag van die verstand, die wil, die gevoel, die ontdekkings, en die doelstellings van die mens aangryp. Veral in die Weste is hierdie bewegings ’n rebellie – ’n doelbewuste opstand – teen die gesag van die Skrif.
Ons het nie in hierdie boek die ruimte gehad om uiteen te sit hoedat elke besondere beweging teen die Woord van God rebelleer nie, maar ons sal die waarheid hiervan aantoon.
Die kragtige beweging in die agtiende en negentiende eeu, bekend as die rasionalisme of modernisme, was ’n bewuste aanval, met alle mag, teen die Bybel, soos wat duidelik deur hulle hoë Skrifkritiek aangetoon word. Die hoë Skrifkritiek was (en is steeds) die beskouing dat die Skrif ’n blote historiese, menslike, feilbare boek is, welke beskouing ongeloof in die leer van die Skrif, ongehoorsaamheid aan die gebooie van die Skrif en minagting vir die geskiedenis daarvan inhou.
Die groot beweging in die agtiende en negentiende eeu, wat die wetenskap verhef en onder meer uitgeloop het op die evolusieteorie van Darwin, is gedryf deur ’n vasbeslotenheid om die gesag van die Skrif, in die besonder van Genesis 1–11, oor die oorsprong van alle dinge, en in die besonder die oorsprong van die mensdom, te vernietig.
Die hedendaagse voort tierende seksuele revolusie is vasbeslote om vir eens en altyd die Skrif se beperkings op seksuele gedrag af te werp, en daarmee die Bybelse leer oor die huwelik en die gesin te vernietig.
Die Heilige Skrif, wat ons deur die geloof aanvaar as die geïnspireerde, onfeilbare, betroubare en duidelike Woord van God, is ons gesag by die ondersoek van hierdie bewegings. Ons moet naamlik ’n gesaghebbende maatstaf hê waarmee ons die hedendaagse bewegings en ontwikkelings wat die kerk en die gelowiges aanval en verlei, kan beoordeel. Dié gesag is die goddelike openbaring van die waarheid oor leer en lewe. Dié gesag ontmasker en veroordeel nie alleen die boosheid van die bewegings nie, maar bevestig ook die kerk en die gelowiges in hulle ware geloof en lewe.
Die tema van ons 2012 BRF2 konferensie en die subtitel van hierdie boek is: “Die Woord van God vir Ons Geslag.” Die gedagte is sekerlik dat die Woord van God hedendaagse bewegings krities beoordeel ter wille van die behoud van die volk van God. Die gedagte is ewewel ook dat daar ’n positiewe woord sal uitgaan na ons geslag wat hulle geloof en lewe betref. Dié positiewe woord is dat die opgestane Jesus Christus die enigste Redder en die soewereine Here is. Hy is die middelpunt van ons Gereformeerde wêreldbeskouing. Die heerskappy van Jesus is vir ons, sy gelowige volk, sódanig dat ons die Skrif as die gesagvolle Woord van God aanvaar, omdat Jesus daarvan getuig as die Woord van God. Jesus getuig oor die Skrif in die Skrif self, en sy Gees oortuig ons van die waarheid van die getuienis van Jesus.
Een plek waar Jesus oor die Skrif as die Woord van God getuig, is Johannes 10:34–36: Die Onverbreeklike Skrif.
Die Goddelike gesag van die Skrif
Jesus leer ons iets oor die Bybel: “die Skrif kan nie verbreek … word nie.” Hy verwys na die geskrif, die boek, wat ons die Bybel noem. Aangesien die Nuwe Testament nog nie geskrywe was toe Jesus hierdie woorde gespreek het nie, het die Here spesifiek na die Ou Testamentiese geskrifte verwys – die nege-en-dertig boeke wat in ons Bybel begin met Genesis en eindig by Maléagi. Oor dié Ou Testamentiese Skrifte het Hy gesê: “Dit kan nie verbreek word nie.”
Dit is belangrik om te verstaan dat Jesus dit oor die Ou Testament gesê het, want hedendaagse Skrif kritici rig hulle openingsalvo’s teen die gesag van die Skrif met min uitsondering op die Ou Testament, gewoonlik op die eerste hoofstukke van die Ou Testament, Genesis 1–11. Daarvandaan brei hulle hul aanvalle spoedig uit na die hele Ou Testament en dan na die Nuwe Testament, maar hulle begin met die Ou Testament. Die kritici verstaan baie goed dat die verband tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament só nou is, dat as hulle die Ou Testament sou verbreek, hulle ook die Nuwe Testament kan verbreek. Hulle is ook maar te goed daarvan bewus dat daar dwase kerke en ampsdraers is, wat al te gewillig is om kritiek op die Ou Testament te verdra, so asof die gesag van die Skrif minder op die spel is in aanvalle op die Ou Testament as in aanvalle op die Nuwe Testament (en asof kritiek op die Ou Testament nie dadelik gevolg word met kritiek op die Nuwe nie).
Oor die Ou Testament in sy geheel, dus ook Genesis 1–11, het Jesus gesê, “dit kan nie verbreek word nie.”
Wat Hy oor die Ou Testament gesê het, is dus by noodwendige implikasie ook waar van die Nuwe Testament, ook Johannes 10:34–36 (sy bevestiging van die Ou Testament).
Jesus het hier in besonder na Psalm 82:6 verwys: “Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste.” Jesus haal hierdie teks uit die Psalm aan in ’n argument met die Jode. Nadat Hy die teks aangehaal het, sê Hy, nie net van dié gedeelte van die Ou Testament nie, maar van die hele Skrif, dat dit nie verbreek kan word nie.
Dat die Skrif nie verbreek kan word nie, beteken dat dit nie van sy krag ontdaan kan word nie. Dit kan, byvoorbeeld, nie geïgnoreer word deur te weier om die Bybelse skeppingsleer te verreken en só te ontken dat die Bybelse leer deurslaggewend is in die onderrig oor die ontstaan van alle dinge nie. Dit kan nie weerlê word deur te ontken dat God alles aan die begin geskep het deur bepaalde skeppings handelinge in ses dae van ’n aand en ’n more nie. Dit kan nie van sy gesag ontdaan word deur aan ’n Skrifgedeelte ’n betekenis toe te dig wat dit ooglopend nie het nie, deur byvoorbeeld Genesis 2 te laat leer dat die mens deur evolusie uit primate ontwikkel het. Dit kan nie gekritiseer word deur die verhaal van die oorsprong van die mens in Genesis 1 en 2 toe te dig aan gewaande naïewe, voor-wetenskaplike, onwetenskaplike gedagtes van een of ander dwalende Israeliet nie. Om so iets met enige gedeelte uit die Skrif te doen, is ’n poging om dit te verbreek, of te vernietig.
Dit is implisiet dat die Skrif geen foute bevat nie, want as daar foute is, kan die Skrif gewis nie net verbreek word nie, maar behoort dit, dit wil sê ten opsigte van die foute, verbreek te word. God Self, wat waarheid is, roep ons immers om foute en dwaling te ontken, teen te staan en te kritiseer.
Toe Hy ontken dat die Skrif verbreek kan word, het Jesus die gesag van die Skrif aan sy hoorders geleer. Die Skrif kan nie verbreek word in die sin wat die gesag van ’n burgerlike regeerder of die gesag van ’n vader in die gesin nie verbreek kan word nie.
Wat die Skrif as geskiedenis verhaal, moet aanvaar word as iets wat waarlik in tyd en ruimte gebeur het, net soos die Skrif die gebeure beskryf. Eenmaal hét “die son … bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ʼn volle dag” (Josua 10:13).
Wat die Skrif as leerstellig leer, moet geglo en bely word. Die redding van die sondaar hang nie van die werke van die sondaar af nie, maar van die ewige, soewereine uitverkiesende wil van God: “So hang dit [die redding] dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop [werke doen] nie, maar van God wat barmhartig is” (Romeine 9:16).
Wat die Skrif beveel, moet gehoorsaam word. Mans “moet [hul] eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad … het” (Efesiërs 5:25).
Die Skrif is die maatstaf vir die geloof en die lewe van die kerk. Dit is die regter in alle geskille. Dit is die slotsom in enige debatvoering.
Dit is op grond van hierdie gesag van die Skrif dat Jesus die woord “wet” in die teks gebruik: “Is daar nie in julle wet geskrywe …?” Hy verwys na ’n psalm, nie na die tien gebooie, of die eerste vyf boeke van Moses nie. Maar die Psalms, soos die res van die Ou Testament, is wet, omdat dit gesaghebbend is.
Deur onverbreeklike gesag aan die Skrif toe te ken, impliseer Jesus dat die Skrif die enigste gesag is vir die verbondsvolk van God. ’n Mens kan die woorde van die Skrif verbreek, nie alleen met openlike kritiek daarteen nie, maar ook deur ander gesag daarnaas, met dieselfde gewig as die Skrif, te wil erken. Die Kerk by name van die Pous, is gesaghebbend bo die Skrif – só bries Rome net so dreigend teen die gesag van die Bybel, en sondig hy teen die woord van Jesus Christus in Johannes 10, as enige Protestantse hoë-kritikus. Vir Rome is dit per slot van sake nie die Skrif wat nie verbreek kan word nie, maar die Rooms Katolieke Kerk.
Nie wat Jesus Christus betref nie. Nee, vir Hom is die Skrif die enigste gesag. Hy word deur die Jode aangeval omdat Hy aanspraak maak dat Hy God is: “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30). Die Jode kla Hom aan “oor godslastering, en omdat U wat ʼn mens is, Uself God maak” (vs. 33). In sy verdediging beroep Jesus Hom op Psalm 82:6, waar God die regeerders in Israel “gode” noem.
God het die menslike regeerders in Israel “gode” genoem, omdat Hy self hulle in hul amp in sy heilige volk gestel het en hulle met sy eie heilige gesag beklee het, om sy volk namens Hom te regeer. Die Woord van God het tot die regeerders gekom toe God hulle deur sy Woord tot hulle amp geroep het.
Die argument van Jesus was dat as sulke mense – blote mense – sonder om te laster “gode” genoem kon word, Hy – Jesus – Homself sekerlik “God” kan noem, aangesien Hy die Een is wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het. As Messias is Jesus die groot ampsdraer en regeerder in die kerk, beklee met goddelike gesag. Hierbenewens is Jesus, om die werk as Messias te kan verrig, self God – die tweede persoon in die heilige Drie-eenheid – die ewige “Seun van God,” waarop Hy aanspraak maak as Hy sê: “Ek en die Vader is een.”
Die argument van Jesus, met die beroep op Psalm 82, is ʼn kragtige argument “van die mindere na die meerdere.” As die mindere – die Ou Testamentiese Israelitiese regeerders – regtens gode genoem word, is die aanspraak van die meerdere – Jesus – dat Hy God is, des te sterker.
Ewewel is dit nie hier die argument van Jesus wat ons aandag geniet nie, maar die feit dat Hy in sy verdediging en as regter in die geskil, Hom op die Skrif beroep.
As die Messias van God kon Hy teenoor sy aanklaers gereageer het met, “Ekhet gesag van God oor die hele huis van God, en Mywoord geld hier.”
As die ewige vleesgeworde Seun van God kon Hy diegene wat Hom uitgedaag het, en verwag het dat Hy op hulle nietige, bedorwe argumente sou antwoord, geantwoord het “Ek het gepraat, dis die einde van die saak”.
Maar Jesus beroep Hom op die Skrif.
Vir Jesus is die Skrif die gesag in en oor die kerk.
Volgens Jesus is die gesag van die Skrif die gesag van één, saamgevatte bundel geskrifte. Hoewel dit deur baie en verskillende mense geskryf is; hoewel dit oor die verloop van honderde jare geskryf is; en hoewel dit uit wyd verskillende soorte geskrifte – geskiedenis, gedigte, profesie, wysheidsliteratuur – bestaan, is daar ’n enkele boek – die Skrif – met onverbreeklike gesag. Die geheel daarvan is “wet.”
Volgens Jesus strek die gesag van die geheel nadruklik oor elke deel daarvan. Die spesifieke leer van die Ou Testament waarna Jesus in Johannes 10:34 verwys, is volgens ons standaarde, ’n saak van min belang. Dit is nie ʼn “groot” leerstelling, soos die skepping, of die sondeval of die verlossing nie. Selfs ’n toegewyde leser van die Skrif sou die teks kon verby lees, as Jesus dit nie na vore gebring het nie. Jesus verklaar hierdie oënskynlike bykomstigheid as gesaghebbend.
Klaarblyklik behels die gesag van die Skrif elke woord daarvan. Jesus se beroep op Psalm 82:6 draai om die woordjie, “gode.”
Hierdie geweldige gesag maak die Skrif uniek. Geen ander boek, mens, of instelling is onverbreeklik nie. Dit is net van die Ou Testament van Israel in die dae van sy aardse bediening, en van die Christelike kerk vandag (by implikasie die Nuwe Testament) dat Jesus Christus, die Seun van God, die Messias van God, sê dat dit “nie verbreek kan word nie.”
Wat maak hierdie boek en die gesag daarvan uniek?
Die Rede
Die rede is, en dit is die enigste, dat die Skrif die Woord van God is – die geskrewe Woord van God. Die Woord van God alleen is onverbreeklik. Net die Woord van God kan nie bevraagteken word nie. Net die Woord van God is onfeilbaar. Net die Woord van God het die finale, die hoogste, die enigste gesag oor die kerk en haar lede. Net die Woord van God stel die onaanvegbare standaard vir die lewe en die geloof. Die Woord van God alleen is die regter in alle geskille. Net die Woord van God het die laaste sê in enige redevoering. Die Messias van God laat sy eie leer deur die Woord van God alleen bevestig.
Die Skrif is die Woord van God, want “Die hele Skrif is deur God ingegee” soos ons lees in 2 Timótheüs 3:163 of, “deur God geadem/ingeblaas, geïnspireer,” wat ʼn meer letterlike vertaling van die oorspronklike Griekse woord ‘theopneustosis’is. Die mense wat die Skrif geskryf het, en in besonder die skrywer van Psalm 82:6 is daartoe beweeg om te skryf deur, en het geskryf onder die toesig van, die Gees van Christus, sodat dit wat hulle geskryf het nie die woorde van mense is nie, maar die heilige Woord van God.
In 2 Petrus 1:21 word soveel oor die wonder van die inspirasie van die Skrif geopenbaar as wat dit God behaag om te openbaar en soveel van dié wonder as wat die kerk van Christus nodig het om te weet. “[G]een profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” [en geskryf].
Die oorsprong van die Bybel lê in inspirasie – inspirasie van die geheel van die Bybel; inspirasie van elke deel van die Bybel, ook Psalm 82:6; inspirasie van elke woord in die Bybel, byvoorbeeld die woord “gode” in Psalm 82:6.
Dit was die “hoë siening” van die Skrif wat Jesus gehuldig het toe Hy in Johannes 10:35 verkondig het dat “die Skrif onverbreeklik is.”
Daarom is dit ook die gelowige belydenis van die kerk en die dissipels van Jesus aangaande die Skrif. Met die woorde van artikels 3–7 van die Gereformeerde belydenis, die Nederlandse Geloofsbelydenis, bely hulle dat “God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel [het] om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel” sodat die ses-en-sestig kanonieke boeke van die Bybel “die heilige en Goddelike Skrif” is. Hulle “glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is.” Hulle “glo dat hierdie Heilige Skrif … dié waarheid is bo alles” en “verwerp daarom met [hulle] hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie.” Hulle glo en bely dat die Skrif die “Woord van God” én “die waarheid van God” is.
Skrifkritiek
Die ware kerk van Christus verwerp alle leer wat die Skrif wil verbreek, dit minag of die gesag daarvan onder verdenking bring. Nalate om sulke lering openlik te verwerp, is in sigself deel van die samespanning om die Skrif te verbreek.
Die kerk wat aan die Christus van Johannes 10:34-36 getrou is, verwerp die leer van die Rooms Katolieke Kerk dat sy ongeskrewe tradisies gelyke gesag met die Skrif het en dat die gesag van daardie Kerk, dit is die gesag van die Pous, bó die Skrif is. Hierdie leer “verbreek” die Skrif. Die resultaat is dat Rome die leer van die Bybel vertrap dat God alleen aanbid mag word; dat Christus Jesus die enigste Middelaar is tussen God en die mens; dat regverdiging deur geloof alleen is; dat alle nagmaalsgangers aan die tafel van die Here beide die brood en die wyn moet neem; dat alle ampsdraers in die huwelik mag tree, en dat die meeste ampsdraers in die huwelik behoort te tree, en nog vele meer.
Die ware kerk verwerp die leer van moderne teologiese modernisme dat die Bybel ’n menslike boek is – woorde van mense, vol foute van allerlei aard en daarom onderhewig aan kritiek deur geleerdes, en inderdaad deur enigeen. Volgens die modernisme is die geskiedenis van die Bybel, van die skepping tot die ontvangenis en geboorte van Jesus, ’n mite; die leer van die Bybel is valse teologie; en die gebooie van die Bybel is verkeerd of outyds. Teenoor “die Skrif kan nie verbreek word nie” van Jesus, stel die modernisme, arrogant en minagtend sy standpunt, “die Skrif kan nie stand hou nie.”
Die ware kerk verwerp ook die leer dat die Bybel net deels die Woord van God is, maar ook deels die woord van mense. Hierdie leer kom wyd verspreid voor in sogenaamde konserwatiewe Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke en in kringe wat hulself evangelies noem. Deur die Skrif deels as die woord van mense (om gevolg te gee aan die “menslike element” in die Bybel, soos hierdie leer dit uitdruk) te beskou, stel die teoloë hulleself in staat om tussen die onfeilbaarheid en die foutloosheid van die Bybel ’n onderskeid te maak. “Onfeilbaarheid,” wat die teoloë voorgee dat hulle wel glo, beteken dan dat die Bybel nie faal om sekere belangrike waarhede (vir wat dié waarhede is, is ons aangewese op die teoloë) te leer nie. “Foutloos” beteken dat die Bybel sonder foute is, maar die implikasie van dié teoloë en kerke se beskouing van die Skrif as deels menslike woorde, is dat hulle die foutloosheid verwerp. Menslike woorde maak foute. Die relaas van die skepping, die sondeval, die vloed en die verstrooiing van die volke in Genesis 1–11, wat voorgee geskiedenis te wees, is mensewoorde, wat foute maak. Niks van die hoofstukke het werklik gebeur, soos wat Genesis 1–11 sê dit het gebeur nie. Die apostoliese verbod in 1 Timótheüs 2 en 3 teen vroue in die kerklike ampte is menslike woorde, foute. Vroue het die volste reg om predikante, ouderlinge, diakens en teologiese professore aan teologiese skole te wees. Dan word dit dié kerklidmate wat teen vroue ampsdraers beswaar maak, wat teen die wil van God sondig. Die leer van die Bybel, oral, dat seks net binne die huwelik toegelaat word, dat die huwelik ’n lewenslange verbintenis is, en dat die huwelik uitsluitlik die verbintenis – seksueel en andersins – tussen ’n man en ’n vrou is, is mensewoorde, foute. In hierdie kerke word seks buite die huwelik toegelaat, en egskeiding en hertroue is aan die orde van die dag. Daar word nou ook luide stemme, van diegene wat aandring dat die Bybel deels woorde van mense is, gehoor ten gunste van homoseksuele verbintenisse.
Hierdie sogenaamde konserwatiewe Gereformeerde, Presbiteriaanse en evangeliese kerke gaan die gesag van die Skrif net soveel teë en minag die Skrif net soseer as Rome en die moderniste. In die woorde van Johannes 10:35 hou hierdie kerke en teoloë vol dat die Skrif ten dele, inderwaarheid die grootste deel daarvan, verbreek kan word. Maar die Skrifte is ’n éénheid. As dele foutief en sonder gesag is, is dit eenvoudig in sy geheel ’n foutiewe en gesaglose boek. Óf die boek – die hele boek – kan, soos Jesus sê, nie verbreek word nie; of dit kán verbreek word – in die geheel – soos dit deur hierdie sogenaamde Gereformeerde en evangeliese kerke en teoloë beweer word.
Vertalings
Om dieselfde redes wat die ware kerk en werklike dissipels van Jesus Christus alle leerstellings wat subtiel of sonder omhaal die gesag van die Skrif ontken, verwerp, verwerp hulle ook swak vertalings van die Bybel.
Die Skrif verloor geensins sy gesag wanneer dit in die tale van die volke van die wêreld vertaal word nie. Jesus en sy dissipels het dikwels die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament in hulle bediening gebruik. God het in sy wonderbare voorsienigheid oorspronklike kopieë van die geïnspireerde Ou Testamentiese Skrifte in Hebreeus en daarna die Nuwe Testamentiese Skrifte in Grieks, behoue laat bly. Dit sou verregaande wees om te dink dat God sou toelaat dat sy geïnspireerde Woord verlore sou gaan of gekorrumpeer word.
Deur dieselfde wonderlike voorsienigheid het God getroue vertalings van oorspronklike kopieë van sy geïnspireerde Woord voorsien en besorg, sodat sy volk sy gesaghebbende Woord in goeie vertalings in hulle eie tale kan hê.
So ’n vertaling in Engels is die “Authorized Version” (hierna die AV). Grondliggend aan dié vertaling is, soos met enige goeie vertaling in enige taal, die getrouheid van die vertalers aan die woorde in die oorspronklike Hebreeus en Grieks. Die AV het baie ander goeie eienskappe, maar dié een is fundamenteel. Met die getrouheid van die AV se vertaling aan betroubare kopieë van die oorspronklike teks, wat deur vergelyking met Griekse en Hebreeuse manuskripte wat aan die kerk deurgegee is, gekontroleer kan word, vind die kerk en die gelowiges in die AV die geïnspireerde Woord van God.
Daar is ewewel ook swak vertalings van die Bybel. Swak vertalings korrumpeer die Skrif en ondergrawe op die manier die gesag daarvan. Swak vertalings “verbreek” ook die Skrif.
Sommige moderne vertalings is doelbewuste pogings van valse leraars om die ware leer teen te gaan en dwaling by die kerke in te voer. Een so vertaling is die Living Bible. Dit verander die woorde van die Skrif om die waarheid van redding deur soewereine genade te vervang met die leuen van verlossing deur die wil van die sondaar. Die outeur van die Living Bible (wat die menslike vertaler is en nie God nie) gee Handelinge 13:48 soos volg weer: “As many as wanted eternal life, believed.”4
Sommige moderne vertalings sondig teen die inspirasie van die Skrif en doen afbreuk aan die gesag van die Skrif deur vryelik en grootliks van die woorde wat God oorspronklik aan die skrywers ingegee het, af te wyk. So ’n vertaling is die New International Version wat gewild is by baie Gereformeerde en evangeliese Christene. Die vertalers het ’n metode aangewend wat hulle “dinamies ekwivalente vertaling” noem. Dit beteken dat die vertalers die vryheid neem om dit wat hulle meen die gedagte van ’n Skrifgedeelte is, in ’n ekwivalent betekenis, waarop húlle besluit, van die taal waarin vertaal word weer te gee. Hulle ag hulself nie gebonde aan die eigenlike woorde van die oorspronklike nie (wat, let wel, nie dieselfde is as ’n eis vir ’n verstokte woord-vir-woord vertaling nie).
Die hoofbeswaar teen die New International Version is dus nie ʼn onverskoonbare wanvertaling van “only begotten Son”5 in die evangelie en briewe van Johannes as “one and only Son” (wat nie eens waar is nie, God het baie seuns en dogters), of dat dit 1 Timótheüs 3:16, eweneens onverskoonbaar, vertaal as “He appeared in a body,” in plaas van, “God was manifest in the flesh”6, waardeur kern leerstukke van die Christelike geloof vervaag, indien nie heeltemal verlore gaan nie.
Die hoofbeswaar is ook nie dat die New International Version ’n dodelike wond toedien aan die Bybelse leer oor die huwelik deur ’n onverskoonbare vertaling van 1 Korinthiërs 7:15 as: “A believing man or woman is not bound in such circumstances.”7 Asof die verlating van ’n gelowige deur ’n ongelowige die huweliksband kan verbreek! Asof die apostel nooit in vers 39 van dieselfde hoofstuk geskryf het dat die huweliksband net deur die dood beëindig word nie! Die moderne weergawe probeer dus op dwase en rebelse wyse doen wat die Here in Mattheüs 19:6 verbied: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Die regte vertaling is dié van die AV: “A brother or a sister is not under bondage in such cases.” Die verlate gelowige, hoewel steeds gebonde, verkeer nie in onderdanigheid nie.8)
Ewewel is die hoofbeswaar teen die New International Version dan dat, as gevolg van die “dinamies ekwivalente” teorie in die vertaling, iemand wat die New International Version gebruikin geen stadium seker kan wees dat hy die Woord van God lees of hoor nie. Dit is waarskynlik ’n heel ander woord – die gedagte – van die vertalers. En as mens nie seker kan wees dat dit God se Woord is wat hy ter hand, voor oë, in die oor of in die verstand het nie, is daar geen rede om daardie Woord as gesaghebbend te beskou nie.
Vir soverre die New International Version afwyk van die geïnspireerde woorde van die Skrif, offer dit die gesag van die Skrif op die altaar van dinamies ekwivalensie.
Dit is net God se woord wat nie verbreek kan word nie.
Die erns van alle Skrifkritiek én die ondergrawing, op enige wyse, van die Skrifgesag is dat dit ’n weerspreking is van die Here Jesus Christus en sý gesag ter syde stel.
Die getuienis van Jesus Christus
Die onverbreeklike aard van die Skrif is deur Jesus Christus aan ons geleer.
Keer op keer het Hy tydens sy bediening die unieke, absolute gesag van die Skrif as die geïnspireerde Woord van God voorop gestel.
Aan die begin van sy bediening het Hy die versoeking van Satan weerstaan deur Hom op die Skrif te beroep. Drie maal reageer Hy op die duiwel se kragtige, en vir Hom uitvoerbare, voorstelle dat Hy van die pad na die kruis, waarop God Hom gestel het, moet wegdraai, met die besliste, “Daar is geskrywe” (Mattheüs 4:1-11).
Keer op keer het Hy bevestig dat Hy moes ly om die Skrif te vervul (Mattheüs 26:24, 31, 54, 56).
Toe die ryk man in die gelykenis smeek dat Lasarus sy broers sou gaan waarsku, met die oënskynlike oortuigingskrag van iemand wat uit die dood teruggekeer het, laat Jesus Abraham die ryk man antwoord,
Hulle het Moses en die Profete [die Ou Testamentiese Skrif]; laat hulle na dié luister. As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan (Lukas 16:29, 31).
Ons geloof in die gesag van die Skrif as die geïnspireerde Woord van God, eer Jesus as die Here. Hy het ons geleer hoe ons die Skrif moet beskou. Wanneer ons voor die gesag van die Skrif buig, buig ons voor Hom. Ons gee lof aan die Bybel omdat ons Jesus loof.
Op die geskel dat ons skuldig is aan “Bybel aanbidding” antwoord ons: “Die Here het ons beveel om die Skrif as onverbreeklik te beskou. Julle skel dus op Hom.”
Kritiek op die Skrif, veral deur diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is, is ’n opstand teen die heerskappy van Jesus Christus.
Uiteindelik is Skrifkritiek ontkenning dat Jesus die ewige Seun van God is. Jesus het die Skrif onverbreeklik genoem. Was Hy verkeerd, hetsy uit onkunde of deur misleiding, kan Hy nie die Seun van God wees nie.
Onthou, dít was die geskil toe Jesus die woorde van Johannes 10:34-36 gespreek het. Ongelowige vyande het sy aanspraak dat Hy een in wese met die Vader is, betwis (vs. 30). Dié vyande het baie goed verstaan dat, met dié aanspraak Hy “Uself God maak” (vs. 33).
Dít is die onderwerp van die geskil oor die gesag en die aard van die Skrif. Om die Skrif sy eer te beroof, is oneer aan Jesus Christus, wat van die Skrif gesê het “dit kan nie verbreek word nie.” Om die Skrif in diskrediet te bring, bring Jesus Christus in diskrediet, wat van die Skrif gesê het “dit kan nie verbreek word nie.” Om die gesag van die Skrif te vertrap asof dit ’n feilbare versameling woorde van mense is, is om die gesag van Jesus Christus te verwerp, wat van die Skrif gesê het “dit kan nie verbreek word nie.”
’n Kerk wat die Skrif kritiseer óf deur ’n amptelike besluit óf deur toe te laat dat sy teoloë dit doen, word, in beginsel, ’n valse kerk. Volgens Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis is ’n ware kerk een waarin “almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra” en “Jesus Christus as die enigste Hoof erken.”
Die “valse kerk,” daarenteen “skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie.”
Hoe dwaas kan ’n kerk wees! Hoe dwaas ’n teoloog! Hoe dwaas ’n lidmaat van so ’n kerk, of die dissipel van so ’n teoloog!
Want die Skrif kan nie verbreek word nie. Jesus het nie gesê die Skrif mag nie verbreek word nie; dat dit nie toelaatbaar is om die Skrif te verbreek nie, hoewel dit sekerlik ook waar is. Hy het gesê dit kan nie verbreek word nie, dit is onmoontlik om dit te verbreek. Niemand, nie die Skrif se felste kritici, is in staat om dit te verbreek nie. Hulle probeer. Die Joodse vyande van Jesus het dit probeer verbreek. Die antieke ketter, Marcion, het probeer om die Ou Testament van die Skrif te verbreek. Die hedendaagse kritici raak buite hulself in hulle pogings om dit te verbreek. Maar hulle kan nie. Die Skrif behou en voer sy onaantasbare gesag as die Woord van God uit, deur met oordeel – verskriklike oordeel – in tyd én ewigheid, na hulle te draai. Die goddelike aambeeld van die Skrif breek enige menslike hamer.
Dat dit nie verbreek kan word nie, openbaar die Skrif in die besonder deur die krag van die Gees van Jesus Christus, wat die ware kerk en haar uitverkore lede lei tot onderworpenheid aan die Skrifgesag.
Die onderworpenheid van kerk en gelowige
Die Skrif self dwing die ware kerk onweerstaanbaar om die Skrif as die Woord van God te ontvang. Die kerk bely in Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat sy die boeke van die Bybel as die Woord van God aanvaar en goedkeur “omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is” en “[h]ulle het ook die bewys daarvan in hulleself.”
Deur die aanhoor van die prediking van die Skrif, en deur staat te maak op dié prediking by hulle eie lees en studie van die Skrif, leer die uitverkore gelowiges en hulle kinders die Skrif ken. Hulle leer dit deeglik, sodat hulle dit kan gebruik om te groei in die geloof en heilig te lewe. Hoe deeglik het die Seun van God nie die Skrif geken nie. Psalm 82 en die obskure sesde vers oor die regeerders wat “gode” genoem is, was vir Hom voor hande in sy geskil oor sy Godheid met die Jode. As die Skrif heilig en goddelik is, wat deur die onverbreeklikheid daarvan blyk, moet die volk van God manne, vroue, jongmense en kinders van dié boek wees. Die gelowiges en hulle kinders lees en bestudeer die Skrif ewewel met ’n gees van liefde en eerbied, nie met ’n kritiese gees nie.
Eerbied vir die Skrif het aanvaarding van al sy leerstellings, en gehoorsaamheid aan al sy voorskrifte tot gevolg. “[D]ie leer daarvan [is] heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome” (Nederlandse Geloofsbelydenis 7); vir hemelse wysheid oor lewe en wandel: “Tot die wet en tot die getuienis!” Daarom sal gelowiges en hulle kinders hulle “God raadpleeg.” Oor alle kerke, predikers en teoloë wat “nie spreek volgens hierdie woord [die Skrif] nie” is die oordeel deur die volk van God die oordeel van die Skrif self: “[H]ulle het geen dageraad nie” (Jesaja 8:19-20).
Deur die krag van die Gees van Jesus Christus maak die Skrif sy onverbreekbaarheid bekend deur al die uitverkore kinders van God aan die Skrif se groot fundamentele leer gehoorsaam te maak. “Julle ondersoek die Skrifte” maan Jesus in Johannes 5:39, want “dit is dié wat van My getuig.” Die Skrif verkondig Jesus die Christus as die ewige Seun van God wat in die vlees gekom het, sodat almal wat in Hom glo die ewige lewe mag hê.
In Johannes 10 staan die aanspraak van Jesus dat Hy die Seun van God is, in noue verband met sy bekendstelling van Homself as “die goeie herder,” wat sy skape ken en sê “Ek lê my lewe af vir die skape” (vs. 14-15).
Jesus stel self die gesag van die Skrif, wat Hy in Johannes 10:35 verklaar het, diensbaar aan die waarheid dat Hy die Saligmaker is. Hy haal die gesaghebbende Psalm 82:6 aan om Homself aan te kondig as die Een “wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het” (Johannes 10:36). As gestuurde in die wêreld –gestuur, soos iemand wat ewiglik in die ander wêreld, die hemel, woon – is Hy die Seun van God, waarop Hy aanspraak gemaak het; in staat om die groot, goddelike werk van verlossing van sonde en dood en bevryding tot die ewige lewe, uit te voer. Deur heiliging is Hy die mens wat God aangestel en toegerus het vir die reddingswerk. En God stuur Hom in die wêreld, nie op ’n doellose tog nie, maar vir die voldoening aan die één lewensnoodsaaklike eis: voldoening aan die geregtigheid van God in die plek van skuldige sondaars, deur sy vloekdood aan die kruis; en, op grond van dié sterwe, opstanding in ’n nuwe, hemelse, onsterflike ewige lewe, na liggaam en siel.
Die Skrif is in besonder onverbreeklik in sy verkondiging van Jesus as Redder en Here.
Dit is dan die roeping wat na ons kom vanuit Jesus se verdediging op grond van die gesag van die Skrif: Buig voor die gesag van die Skrif! Buig, deur in Christus Jesus, die Seun van God, gekruisig vir ons sonde en opgewek vir ons regverdigmaking, te glo!
Só word ons geloof aan die Skrif bevestig, en lewe ons in ewigheid. Amen.
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)
Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.