Ds. Gise Van Baren
Daar is blykbaar iets aangaande God se ewige raadsbesluit van uitverkiesing, en veral die raadsbesluit van verwerping, wat die mens altyd ergerlik maak. Maak melding van verkiesing of verwerping en die mens sluit sy ore. As jy vir hom leesstof oor so ‘n onderwerp stuur, sal hy dit terugstuur met ‘n skerp opmerking: “Ek wil nie sulke goed in my posbus hê nie.” Daar word selfs beweer dat Johannes Calvyn, die bekende hervormer en kampioen verdediger van die waarheid van uitverkiesing, na verwerping verwys het as “’n afskuwelike raadsbesluit” (alhoewel dit ‘n verkeerde vertaling van sy stelling is). Hoekom is daar soveel weerstand teen die raadsbesluite van God? Is die rede vir die weerstand teen hierdie waarheid nie dalk omdat dit in die besonder die soewereine God alleen verhoog nie en leer dat die mens ‘n blote skepsel is? Die waarheid van die uitverkiesing sit die mens op sy plek. Is dit waarom die mens so sterk weerstand bied?
Is daar so iets soos verwerping? Gewoonlik word verwerping ontken. Maar, is jy bereid om ‘n deeglike studie van die skrifgedeeltes oor hierdie onderwerp te maak? Die leer van die Skrif moet staan, want dit is die Woord van God.
Verwerping is die ewige wil, welbehae of doel van God, waarvolgens Hy bepaal het dat sommige van sy moreel-rasionele skepsele in die hel gewerp sou word op grond van hulle sonde; en dat hierdie feit die sending van Christus sou dien en ook sou bydra tot God alleen se eer.
Voordat die idee van verwerping sonder meer afgewys word, kom ons kyk wat die Woord van God sê. Daar is verskeie gedeeltes wat pertinent oor hierdie onderwerp handel. Die duidelikste stellings aangaande verwerping is waarskynlik in Romeine 9. Daar lees ons van Jakob en Esau, dat voor hulle ooit gebore is of enige goed of kwaad gedoen het, God gesê het: “Jakob het Ek liefgehad, maar Esau het Ek gehaat.” (vers 13). Aangaande Farao, wie se hart God verhard het sodat hy Israel nie toegelaat het om Egipte te verlaat nie, lees ons: “Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam kan verkondig word op die hele aarde” (vers 17). Romeine 9 sê ook dat “Hy verhard wie Hy wil” (vers 18), en dit praat van “die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is” (vers 22).
Watter ander gevolgtrekking kan van hierdie teksgedeeltes gemaak word, behalwe dat God sommige ter helle verwerp as gevolg van hul sonde? God verhard wie Hy wil; Hy berei sommige toe vir vernietiging. Ander verse in die Skrif is net so duidelik. Ons lees byvoorbeeld in I Petrus 2:7 en 8 “… ’n rots van struikeling – vir die wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” Ons lees in Johannes 10:26: “Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.” Hierdie en ander gedeeltes wys dat God ook die dade van sondige mense bepaal (soos Hy gemaak het met Farao in die tyd van Moses), en dat hierdie dade van ewigheid af bepaal is deur God.
Die Belydenisskrifte van die kerke van die Gereformeerde geloof lê klem op hierdie waarheid van verwerping. Ons lees in die Dordtse Leerreëls, Hoofstuk 1, Artikel 15: “Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing by God verbygegaan het. God het besluit om hulle na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade tot bekering gegee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie die bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.”
Beteken dit dat die verwerptes, ongeag wat hy doen, goed of sleg, verwerp is tot die hel? Dit is nie die geval nie, ook behoort niemand dit ooit te leer nie. Die vraag is egter doelbewus misleidend. Die verwerptes is nie instaat om enige iets goeds te doen nie. Onthou dat alle mense in Adam dood is in die sonde (Rm. 5:12). Dit beteken eenvoudig dat elke mens wat in hierdie wêreld gebore is hoegenaamd nie instaat is om enige goed te doen nie en geneig is tot alle kwaad (sien ook Rm. 3). Daar is nie eers die geringste moontlikheid dat enige goeie werke, wat vir God welbehaaglik is, ooit vanaf ‘n dooie sondaar kan kom nie. Kan iemand wat fisies dood is eet of drink? Nog minder kan die sondaar ooit goeie dade uitvoer. God se genade word nie gegee aan die verwerptes nie; hulle is nie in Jesus Christus nie; en daarom kan hulle niks doen waarin God ‘n welbehae het nie.
Tweedens, die verwerptes is altyd verwerp na die ewige hel op grond van hulle eie sonde. Dit is waar dat God bepaal het wat hulle uiteinde sou wees—en dit het Hy gedoen nog voordat hulle ooit gebore is. Op watter ander manier kan ‘n mens moontlik die teksgedeeltes wat vroeër aangehaal is interpreteer? Maar die goddeloses word definitief in die pyniging van die hel gewerp as gevolg van hulle eie slegte dade. Nooit kan hulle vinger wys na God en verklaar “God het my forseer om te doen wat teenstrydig is met sy wil; die fout is daarom God s’n en nie myne nie.” Die bose verwerptes sondig bewustelik en gewilliglik, en daarvoor sal hulle verseker in die ewige eensaamheid gewerp word.
Een van die menigte skrifgedeeltes wat dit aandui is Lk. 11:49-51: “Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van die sal hulle doodmaak en vervolg, sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaria wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.”
Maar, vra jy, is God dan nie onregverdig nie? Is dit nie verskriklik onregverdig van God se kant om te bepaal dat sommige sal vergaan nie? Watter tipe God is Hy? Ons mag nie sulke beskuldigings inbring nie. Wie dink ons is God? Dink ons dat God gebind is aan ons menslike rede? Van wanneer af skuld die almagtige God aan enige mens die ewige lewe? Waarom sal die soewereine God van hemel en aarde verplig wees om sy genade aan alle mense te gee? Moet God elke moreel-rasionele skepsel die hemel inbring? “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?” (Rm. 9:20) Die pottebakker het mag oor die klei, sê die Skrif, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak (Rm. 9:21). Is God onregverdig as Hy met sy eie maak soos Hy goed vind? Ek bely dat ek nie kan deurdring tot in die dieptes van die wysheid van God en verduidelik waarom een verwerp en die ander een uitverkies word nie. Al wat ek kan sê, in ooreenstemming met die Skrif, is dat God alles doen na sy welbehae en die eer van sy Naam.
Nog ‘n vraag duik egter op. Waarom, as God alle dinge bepaal, sal daar hoegenaamd enige verwerpte bose wees? Waarom sal God, van voor die grondlegging van die wêreld af bepaal dat sommige in die hel gewerp sou word as gevolg van die sonde wat hulle doen? As God waarlik alle dinge bestuur, kon Hy nie die sonde verhoed het nie, en eerder bepaal het dat alle mense die seëninge van die ewige lewe sou geniet nie? Hierdie is kommerwekkende vrae.
Daar is verskeie skriftuurlike redes waarom God sekere mense verdoem na die ewige hel.
In die eerste plek moet die besluit van verwerping op ‘n manier die Naam van God verheerlik. God, die Soewereine Een, bestier alle dinge sodat sy glorie meer volledig geopenbaar mag word. Dit is waar vir alles sonder uitsondering. Roep die vier-en-twintig ouderlinge van Openbaring 4 nie uit: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape, en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (v. 11)? Maar hoe, sal jy kan vra, kan verwerping God se eer op die bes moontlike manier openbaar? Deur die raadsbesluit van verwerping openbaar God sy ewige haat en toorn teen sonde en die straf vir die bewerkers van ongeregtigheid. Sonder God se raadsbesluit van verwerping sou dit nooit so duidelik geopenbaar word nie. Die kontras word voorgestel in 1 Jn. 1:5: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.” Dieselfde word gevind in Jn. 1, veral in vers 5: “En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” Maak u beswaar? Het die soewereine Pottebakker nie mag oor die klei om ook voorwerpe van oneer te maak om sy eie welbehae te dien en om sy glorie en goedheid te openbaar nie?
Tweedens, ‘n mens kan die rede vir die bestaan van die werwerpte bose sien as jy na die plan van God in sy geheel kyk. Uit die Heilige Skrif word dit baie duidelik dat God se hele raad of plan gesentreer is in Christus—en in Christus is die kerk. God openbaar sy glorie op die bes moontlike manier deur vir Hom ‘n besondere volk in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, te vesamel. Van hierdie waarheid lees ons in Efesiërs 1:4-6: “soos Hy ons in Hom [Christus] uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld … deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade …”
Dit kon deur ‘n illustrasie vergelyk word met die vleis of kern van ‘n neut. Die vleis of pit van ‘n neut is ‘n noemenswaardige deel van die hele neut. Tog is daar ook ‘n dop rondom. Die dop kan nie geëet word nie, maar tog het dit ‘n funksie. Wanneer hierdie funksie ophou, word die dop gebreek en weggegooi. So word die wonder van God geopenbaar in die versameling van die kerk van Jesus Christus. Die sending van Christus, die versameling van die kerk, word gedien deur alles wat plaasvind. Dit is nie sonder rede dat ons in Romeine 8:28 lees: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” Die hele skepping, alle dinge wat plaasvind binne hierdie skepping—dit is alles deel van die dop rondom die volk van God wat in Christus is. Die dop het sy doel en plek—maar wanneer hy sy doel gedien het, word hy weggegooi.
Iets soortgelyk kan gesê word aangaande verwerping. Die verwerptes moet ook die doel van God dien om die kerk van Christus te versamel en te verdedig. Die slegte dade, wat ten doel het om God teen te staan en sy kerk te vernietig, werk eerder ten goede vir die kerk mee. Die kruisiging van Christus is die beste voorbeeld hiervan. Bose mense het probeer om Christus van die aarde te verwyder. Hulle het planne beraam om Hom dood te maak—en inderdaad het hulle Hom gekruisig buite die mure van Jerusalem. Maar die gevolg was dat die vooraf bepaalde doel van God om sy mense te red, voltrek is deur die storting van Christus se bloed. Ons lees in Hd. 4:27-28: “Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.”
Ons sien dus dat verwerping glad nie ‘n “verskriklike” raadsbesluit is nie. Ons sien ook dat dit geensins gelyk is aan die wonder van die uitverkiesing nie. God verklaar nie bloot arbitrêr: “Ek wil sommige mense in die hel werp en ander na die hemel lei” nie. Hoegenaamd nie! Maar God het alle dinge bewerk (beide sy skepping en sy raadsbesluit van verwerping) om sy doel te dien om sy uitverkore kinders deur sonde en genade na die ewige heerlikheid van die hemel te lei. Selfs hierdie waarheid van verwerping moet vir my troos en gemoedsrus gee in hierdie verskriklike sondige wêreld.
Kan en moet hierdie raadsbeluit van verwerping verkondig word deur bedienaars van die Woord? Of is dit een of ander geraamte wat opgesluit moet bly in die Gereformeerde kas? Is hierdie waarheid van verwerping nie geneig om die mense binne die kerk mismoedig te maak en die buite die kerk te laat wegdraai daarvan af nie? Hoe kan die sendeling voortgaan met sy sendingwerk en die heidene leer van die raadsbesluit van verwerping? As daar so iets is soos ‘n verwerping, sou dit nie beter wees om stil te bly daaroor nie?
Daar bestaan geen twyfel nie dat dit Christus en sy kruis is wat sentraal staan in die hele Woord van God. En hierdie waarhede moet altyd beklemtoon word deur getroue bedienaars van die Woord. Maar die ware bedienaar van Christus se Woord kan nie sekere waarhede soos die verwerping, wat mense aanstoot gee, vermy nie. God se Woord ontken nie hierdie waarheid nie – hoe kan ‘n verkondiger van die Woord dit dan ooit doen? ‘n Mens mag nie probeer om hierdie waarheid weg te steek nie.
Ons moet ook onthou dat dit hierdie waarheid van God se raadsbesluit van verwerping is wat vrees in die harte van die bose opwek. Wanneer hierdie waarheid deeglik verkondig word, het die bose die versekering van God dat hy hulle sal beloon volgens hulle bose werke.
Laastens, ontmoedig hierdie waarheid die kerk? Sou ‘n Christen nie begin dink “Miskien is ek tog verwerp” nie? Hoegenaamd nie. ‘n Mens wat waarlik bekommerd is oor sy eie geestelike welsyn, wat die grootheid van sy sonde sien en dit voor God bely—so ‘n mens sien in homself nie die vrugte van verwerping nie, maar van uitverkiesing. Daarom word die Christen nie verskrik deur verwerping in soverre dit homself aangaan nie. Hierdie lering gee hom eerder troos en versekering. Ten spyte van alles wat die bose probeer doen aan God se kerk, weet die Christen dat God steeds regeer en in absolute beheer is. Selfs die bose kan net God se ewige doel dien. En die uiteinde van die goddelose het God bepaal vir die verheerliking van sy eie Naam. Behoort die kerk nie gedurig verseker te word van hierdie heerlike feit in die verkondiging van die Woord nie?
Ag, die wonder van die grootheid van ons glorieryke God! Ondeurgrondelik is sy weë, en sy oordele onnaspeurlik! Mag Hy ook gee dat ons nooit skaam sal wees om te volhard in sy woord soos Hy dit aan ons geopenbaar het nie.
(Vertaal deur Adi Schlebusch. [email protected] Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)