Menu Close

Die Rots Waaruit Ons Gekap Is

Ds. Angus Stewart

(1)

In die sesde eeu v.C. is Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig. Die tempel, die paleise, die huise, die stadsmure – alles is tot puin gemaak deur die goddelose invallers. Daar het van God se volk min oorgebly. Baie is doodgemaak of het van hongersnood of siektes gesterf. Ander is verstrooi om nooit weer terug te keer nie en baie het afvallig geword.

Dit is vir ons moeilik om hulle diepe smart oor die fisiese verlatenheid van Jerusalem te verstaan, want die meeste van ons het nog nooit so iets beleef nie; ons het waarskynlik meer begrip van hulle ontbering weens hulle klein getalle.

Wat doen Jesaja, deur die inspirasie van die Heilige Gees, om die klein getal beproefde oorgeblewenes van die volk van God te bemoedig? Wat put hy uit die vroeëre Bybelse geskiedenis? Eerstens gaan hy na die verbond met Abraham en die verhaal van Abraham en Sara in Genesis 11-25. Tweedens skryf die profeet oor Eden, die paradys tuin van die Here in Genesis 2-3.

Dit is wat ons lees in Jesaja 51:1-3: “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig. Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.”

Die inleidende woorde, “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag” (1), verwys nie na daardie Israeliete wat geregtigheid in werke gesoek het en hulle eie geregtigheid wou bewerk nie, maar na “Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot (Romeine 9:31-32; lees ook 10:3).

In plaas van eiegeregtige skynheiliges, praat God hier met die vromes, hulle wat die Here vrees en die stem van sy Kneg, die Messias, gehoorsaam (Jesaja 50:10); met hulle wat die geregtigheid ken, hulle wat die wet van God in hulle harte het (51:7).

Die geregtigheid van hierdie mense is die toegerekende versoening (45:24-25). Hulle is ook regverdig met die besielende geregtigheid van heiligmaking, sodat hulle die Woord van God nie gehoorsaam om iets te verdien nie, maar uit dankbaarheid. Hulle “jaag die geregtigheid na” (51:1) deur met toewyding daarna te streef.

Laat ons ernstig na geregtigheid in die weg van God strewe, en “luister na” die profeet in die volgende uitgawe van die News.


(2)

“Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig. Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere” (Jesaja 51:1-3). Dit is die Woord van God wat ons hier in die News bestudeer.

Diegene aan wie Jesaja 51:1-3 gerig is, word nie net as hulle “wat die geregtigheid najaag” nie, soos ons in die vorige uitgawe gesien het, maar ook as hulle “wat die HERE soek” (1). Hulle soek die HERE alleen – nie afgode nie! Hulle soek die HERE deur die geloof alleen, in die Messias. Hulle soek die HERE in sy Woord, in gebed en in sy kerk. Hulle soek die HERE met hulle hele hart, deurgaans, opreg, ernstig. Hulle soek die HERE vir al hulle heil en vrede.

Vir sulke mense sê die HERE: “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek” (1). In wese sê YAHWE hier: “Luister na My, want dit is net julle wat bekommerd is oor die verlatenheid en die ylheid van die kerk, en wat troos sal vind in wat Ek in my Woord aan julle sê. Die goddelose, wat sonder geloof is, sal nie deur My beloftes vertroos word nie, maar julle wat My en My heerlikheid soek, sal. Dit, geliefdes, is die waarheid, nie net toe Jerusalem destyds deur die Babiloniërs vernietig is nie, maar ook vir ons wat vandag ernstig bekommerd is oor die swakheid en kleinheid van die ware kerk in ons dae.

Jesaja begin om die troos uit te giet deur hulle, van alle plekke, na ʼn klipgroef te neem: “kyk na die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is” (1)! Ek sê “klipgroef” want die vers praat van ʼn “put” en meer in besonder van “die holte van die put” waaruit ʼn “rots” kom wat “gekap” is. ʼn “Put” wat ʼn “rots” bevat wat “gekap” word, word ʼn klipgroef genoem.

Ons moet besef dat dit nie ʼn letterlike, fisiese klipgroef is nie, want die teks sê: “Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is” (1). Mense word nie met die hand gebeitel uit ʼn splinteragtige rots wat uit ʼn klipgroef teen ʼn bult gegrou is nie.

Wat wil dié beeld dan vir ons sê? Oorsprong! Kom ons sê jy sien ʼn klip borsbeeld van ʼn belangrike persoon, of ʼn obelisk wat van gladde marmer gemaak is. Waar het dié materiaal vandaan gekom? Wat is die oorsprong daarvan? ʼn Rots, ʼn rots uit ʼn put, of ʼn klipgroef.

Die gesegde is byna spreekwoordelik: “Kyk terug na waar julle vandaan kom! Dink aan julle oorsprong! Dit sal julle help, O My volk,” sê die Almagtige.

Wat was dan die oorsprong van Israel? Ons verwys hier nie na hulle sondige en beskamende begin nie. Dít word grafies in Esegiël 16:3-5 beskryf: “Jou afkoms en jou geboorte is uit die land van die Kanaäniete; jou vader was ʼn Amoriet en jou moeder ʼn Hetitiese vrou. En wat jou geboorte aangaan – die dag toe jy gebore is, is jou nawelstring nie afgesny nie; en jy is nie met water gewas om jou te reinig nie; ook is jy nie met sout ingevrywe of in doeke toegedraai nie. Geen oog het medelyde met jou gehad om vir jou een van hierdie dinge te doen, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is.”

Titus 3:3 beeld ons uit vóór ons bekering tot Christus: “Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ʼn dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Efesiërs 2 beskryf ons as “dood … deur die misdade en die sondes” (1), wat gewandel het volgens die loop van die goddelose wêreld en Satan (2), en die begeerlikhede en luste “van die vlees en van die sinne” bevredig het (3).

Ons praat ook nie hier van die oorsprong van Israel in die ewige raad van YAHWE, waar Hy Israel in Christus uitverkies het van voor die grondlegging van die wêreld, en Hy hulle in sy soewereine genade barmhartig was en liefgehad het nie (Deuteronomium 7:6-7; Psalm 135:4-6).

Die oorsprong van Israel hier, is haar oorsprong in die geskiedenis (nie in haar erfsonde of in haar ewige uitverkiesing nie). Waar het dit alles begin? Wat was die klipgroef waaruit sy in die geskiedenis gekap is? Abraham en Sara! “Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het” (Jesaja 51:2). “O, My verdrukte volk, julle moet teruggaan na Genesis,” sê die HERE, “terug na Genesis 11-25, terug na Genesis vir die genesis (of begin) van Israel in Vader Abraham, om julle in julle huidige nood te troos.”

Oor welke sleutelaspek van Abraham word hier gepraat? Onthou die Abrahamitiese verhaal is lank – bykans 15 hoofstukke. Dit bevat baie belangrike punte of lesse.

Wat is die één sleutelaspek wat hierdie Woord van God in Jesaja 51 ontsluit? Is dit regverdigmaking: “En hy [Abraham] het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken”(Genesis 15:6)? Dit is deurslaggewend: beslissend vir die hele evangelie en deurslaggewend vir die Reformasie. Die apostel Paulus brei uit oor hierdie waarheid, veral in Romeine 4 en Galasiërs 3. Dit is ewewel nie hier die idee nie.

Wat van die besnydenis? Dit is in Genesis 17 aan Abraham gegee en aan sy saad, teologies verduidelik in Romeine 4 en Kolossense 2, en in die Nuwe Testamentiese tyd met die doop vervang (Nederlandse Geloofsbelydenis 34). Die verband tussen Abraham en die besnydenis is ook nie die idee in Jesaja 51 nie.

Ons teks beklemtoon nie eens die geloof van Abraham, as ʼn voorbeeld vir ons, of sy lewe of sy pelgrimsreis, hoe belangrik ook al vir ons, nie (Hebreërs 11:8-10, 13-16).

Lees Jesaja 51: weer aandagtig: “Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig.” Daar is een woordjie wat hier deurslaggewend is. Weet u wat dit is? Dit is die woordjie “eenling.” Maar dit sal moet wag vir ʼn verduideliking in die volgende uitgawe van die News.


(3)

In die vorige twee uitgawes van die News, hierdie een en in die volgende, kyk ons na hierdie heerlike profesie van Jesaja: “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig. Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere (Jesaja 51:1-3).

In die vorige maand se News, het ons die aandag gevestig op die word “eenling” in Jesaja 51:2: “Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig.” Ten einde die betekenis van die woordjie “eenling” te verstaan, kom ons kyk na die lewe van Abraham soos dit in Genesis 11-25 opgeteken is in verband met die verbond van God met die aartsvader en sy nageslag.

Abraham was ʼn afgodedienaar in Ur van die Chaldeërs (Josua 24:2). Daar was baie afgodedienaars in daardie stad, maar Jesaja 51:2 sê dat God hom “as eenling” geroep het. “Maar wat dan van Tera, Abraham se pa?” hoor ek iemand sê. Abraham was die een wat in die eerste plek geroep is (Handelinge 7:2-3); sy vader het net saamgetrek. Tera het nooit eers die beloofde land bereik nie, want hy is in Haran oorlede (Genesis 11:32). “Maar wat van Lot, Abraham se neef?” Lot het wel die land Kanaän bereik, maar hy het Abraham verlaat (Genesis 13; 19).

God het aan Abraham belowe dat Hy sy nageslag sou vermeerder, sodat hulle so baie sou wees soos die sterre aan die hemel en die sand op die seestrand. Yahwe sou van Abraham ʼn groot en magtige nasie maak, en al die volke van die aarde sou in hom geseën word.

Daar was net een probleem! Abraham was ʼn ou man – te oud om kinders te verwek – en Sara was ʼn ou vrou – te oud om kinders te baar.

Maar wie roep God uit Ur? Net een man – nie baie mense nie – en dít toe hy en sy vrou verby die ouderdom was om kinders te kan hê. Soos Romeine 4:19 dit stel was “sy eie liggaam … alreeds verstorwe” (wat betref die vermoë om kinders te hê) en daar was ook die struikelblok van die “verstorwe toestand van die moederskoot van Sara.”

Die res van die verhaal van Abraham brei hierdie tema uit. Telkens weer herhaal God sy belofte van ʼn groot getal kinders as nageslag aan Abraham. Ons lees van Abraham se ongelowige en sondige reëling met Hagar en die geboorte van Ismael daarna, met al die verdriet wat dit veroorsaak het (Genesis 16). Uiteindelik het Abraham en Sara ʼn seun! Sy was 90 en hy 100. Hulle noem hulle seun Isak, wat ‘gelag’ beteken.

Selfs toe het God vir Abraham gesê om sy enigste seun te offer as ʼn brandoffer, om hom te toets en die geloof van die ou man te beproef (Genesis 22). Later het ʼn kneg van Abraham baie moeite gedoen om ʼn goeie bruid vir Isak te soek, sodat hy nie met ʼn meisie uit die heidene van Kanaän sou trou nie (Genesis 24).

Kom ons dink nou aan hierdie verhaal en die daaropvolgende geskiedenis in terme van getalle. Mens kan sê Abraham en Sara word bekendgestel as twee droë lote. Na baie jare en baie ompaaie word die uitverkore seun Isak gebore, van wie God gesê het: “deur Isak sal daar vir jou ʼn nageslag genoem word” (Romeine 9:7; Genesis 21:12; Hebreërs 11:18). Later is die uitverkore en geliefde Jakob vir Isak en Rebekka gebore, saam met sy tweeling, die verworpene, Esau wat deur God gehaat is(Romeine 9:13). Jakob het twaalf seuns gehad. Toe hulle getroud is en kinders gehad het, was die familie sewentig in getal. By die uittog uit Egipte het Israel uit meer as twee miljoen mense bestaan. Tydens die regerings van Dawid en Salomo was die nageslag van Abraham nog meer talryk.

Nou kan ons die teks verstaan: “Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is” (Jesaja 51:1). Dit wil sê dink aan jou oorsprong, dink aan jou geskiedkundige oorsprong, dink aan jou geskiedkundige oorsprong in Abraham en Sara: “Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het” (2).

Dink nou aan die drie werkwoorde verderaan in vers 2: “as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig.” God het Abraham “geroep” met die kragdadige roeping tot heil in Jesus Christus in die beloofde land. Yahwe het hom “geseën” met die seëninge van sy verbond met die verbondsbeloftes. Die Almagtige het hom “vermenigvuldig” sodat die saad van een man gegroei het tot sewentig, duisende en miljoene. Dit is ʼn wonder van genade! Die hele geïnspireerde verhaal onderstreep herhaaldelik en op intense wyse die wonderbaarlike waarheid dat God alleen, en nie die mens, vir wie dit onmoontlik is, dit gedoen het.

Die boodskap aan die lesers van Jesaja, hulle harte gebroke oor die smeulende as van Jerusalem, is dat God sy volk uit ʼn vroeëre, baie klein begin vermenigvuldig het. Hy kan dit weer doen, en Hy sal dit weer doen!

Hulle wat hierdie belofte glo, is die ware kinders van Abraham (want hulle volg in die spore van hulle vader – “chip off the old block”(!), sê hulle in Engels), want God het mag “om uit … klippe kinders vir Abraham op te wek” (Mattheüs 3:9). So dan ook ons, die gelowiges uit die heidendom!

Dit is dan die verband tussen verse 1 en 2 van Jesaja 51: “Aanskou die rots waaruit julle gekap is” (1), dit wil sê “Aanskou Abraham, julle vader” (2). Dit is nie in botsing met die opdrag om na die lewende God in Christus op te sien, soos ons in Jesaja 45:22 vind nie: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie”, want net ses hoofstukke later word ons ook opgeroep, “Aanskou Abraham, julle vader” (51:2).

Die oproep om Abraham te aanskou, beteken nie dat hy die voorwerp van ons geloof is, asof ons deur in die aartsvader te glo, gered word nie. Ons rig ons oë op Abraham om te sien wat God in Jesus Christus vir hom gedoen het. Dit is ʼn les wat deurgaans vir die kerk geld, want soos Abraham getalsgewys eers klein was, so seën God sy kerk deur haar te laat vermeerder.

Volgende keer sluit ons hierdie studie van Jesaja 51:1-3 af, deur die mooi belofte van vers 3 van nader te bekyk en hoe die hele Skrifgedeelte in vervulling gaan.


(4)

Ons sluit ons uiteensetting van Jesaja 51:1-3 af met dié vers: “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.” God belowe hier om die verslae Sion te troos deur dit soos die tuin van Eden te maak, sodat sy volk hulle sal verheug.

Sien jy in ons teks hoedat die Gees te werk gaan? Die eerste probleem was die klein getalle van die kerk, daarom wys die Heilige gees na een persoon, Abraham, en dui daarop hoedat God sy nageslag vermeerder het (1-2). Dien tweede saak is die verlatenheid van Jerusalem, daarom herinner God ons van ʼn plek, Eden, en belowe dat sy volk in die paradys sal woon.

In Jesaja 51:3 herinner die Heilige gees ons aan woorde, deur Hom geïnspireer in Genesis 2, soos die volgende: “Ook het die HERE God ʼn tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ʼn plek gegee. … En daar het ʼn rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak… Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet (8-9, 10, 15-16).

Met ander woorde, ons teks belowe dat die “puinhope,” die “woestyn” en die “wildernis” van Sion omskep sal word in ʼn nuwe Tuin van Eden, met die grootste seën en vrugbaarheid (Jesaja 51:7).

Wat is dan die vervulling van Jesaja 51:1-3? Die eerste deel van die vervulling is die terugkeer uit die Babiloniese gevangeskap. Die getalle van die volk van God het toegeneem (1-2), hoewel nie grootliks nie. Om die waarheid te sê, die grootste groep terugkerendes was maar ongeveer 50,000 (Esra 2; Nehemía 7). Jerusalem is herbou met huise, stadsmure en ʼn tempel wat baie kleiner was as dié van Salomo, maar dit was nie soos Eden nie (Jesaja 51:3)!

Die tweede deel van die vervulling van ons teks is die eerste koms van Jesus Christus, sy plaasvervangende lyding vir sy uitverkorenes aan die kruis en die uitstorting van die Heilige Gees. Wat die eerste en die tweede deel van die vervulling betref, is ons Redder nou besig om sy algemene, universele kerk te vergader, wat uit der miljoene Jode én Heidene bestaan. Die volk van God in die Nuwe Testamentiese tyd is baie meer talryk as in die Ou Testament, en nog baie meer word elke dag van oor die hele wêreld bygevoeg. Maar wat van die land (3)? Het die wêreld soos Eden geword? Nee!

Die derde en laaste deel van die vervulling van Jesaja 51:3-1 wag op die heerlike, liggaamlike tweede koms van Christus. Dan sal die hele algemene of universele kerk van alle eeue, wat bestaan uit miljoene en miljoene en miljoene mense, by Hom vergader word (1-2). Wat betref die belofte van die land (3), sal al die mense die ryke seën geniet van die ewige lewe in die nuwe hemel en die nuwe aarde, wat vêr beter as Eden sal wees — meer wonderlik en heeltemal onverloorbaar!

In Jesaja 53:1 word twee maal van “vertroos” gepraat. “Troos” is ʼn seënryke woord wat dikwels in die tweede “helfte” van Jesaja (hoofstukke 40-66) voorkom. Om die waarheid te sê, begin die tweede deel van die evangeliese profesie met twee uitings van dié woord: “Troos, troos my volk, sê julle God” (40:1). Die troos van die kerk bestaan dáárin ” dat haar skuld betaal is” (2). Dan wys Jesaja op Johannes die Doper, die voorloper van die Here: “ʼn Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ʼn grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ʼn gelykte en die rotsagtige plekke ʼn laagte word. En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek” (3-5; lees ook Mattheus3:3; Markus 1:3; Lukas 3:4-6; Johannes 1:23).

Jesus Christus is “die HERE” en “onse God” wie se “weg”, wie se “grootpad” deur Johannes voorberei is (Jesaja 40:3). Ons Saligmaker is “die heerlikheid van die HERE” wat “geopenbaar word”, sodat “alle vlees tesame” — volke oor die hele wêreld — dit deur die geloof sien (5).

Die boodskap van Johannes tref ook ʼn vergelyking tussen die kortstondigheid van die mens en sy goedheid, en die blywende standvastigheid van die Woord van God: “ʼn Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ʼn blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid” (6-8).

Nie net Johannes die Doper nie, maar selfs ook Sion roep uit: “Hier is julle God!” (9). Die God van die kerk word aangekondig as ʼn sterk en deernisvolle herder: “Kyk, die Here HERE sal kom as ʼn Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos ʼn herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (10-11).

Binne dié raamwerk van troos, en voortbouend daarop, bied Jesaja 51:1-3 die vertroosting van die vermeerdering van die kerk, met steeds meer wat bygevoeg word tydens die terugkeer uit ballingskap in Babel en deur die Nuwe Testamentiese tyd tot ons Here weer kom (1-2); want God wil nie dat enige een van sy geliefde, uitverkore volk moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (2 Petrus 3:9). Ons vertroostende hoop is nie alleen die vreugde van die hemel saam met Christus na die dood nie, maar spesiaal ook die nuwe skepping, die volmaakte paradys van ʼn groter Eden by verre.

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons