Menu Close

Die Roeping tot Geestelike Reiniging

Herman Hanko

Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Korinthiërs 7:1).

Inleiding

Die eerste vers van die sewende hoofstuk van 2 Korinthiërs hoort saam met hoofstuk ses. Die teks verwys na “hierdie beloftes”. Die bedoelde beloftes is dié wat in verse 16-18 van hoofstuk ses genoem word. Na die apostel se oproep tot geestelike afskeiding word die beloftes van God beskryf:

Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees … en Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

Die betekenis van 2 Korinthiërs 7:1 is duidelik: “Omdat julle hierdie beloftes het, wandel in heiligheid voor God”. Dit is duidelik dat die apostel hierdie vermaning rig aan die volk van God wat hierdie beloftes besit. Hierdie klem op die verbondsvolk van God word verder versterk deur die naam wat Paulus gee aan hulle vir wie hy skryf: “geliefdes”. Hulle is geliefdes van Paulus omdat die heiliges tesame seuns en dogters van God is.

Die verbondsvolk van God word hier geroep om in die wêreld as verbondsvolk te lewe.

Die algemene aard van die roeping

Oorweeg ons die teks as geheel word dit duidelik dat die roeping ‘n roeping is om onsself te heilig. Om te heilig beteken om geestelik te reinig, heilig te wees. Albei dele van die vermaning beklemtoon dié gedagte: Om onsself te reinig van alle besoedeling, beteken dat ons onsself geestelik skoon maak, en om dit te volbring is niks anders nie as heiligmaking.

Heiligmaking is ‘n wonderlike werk van God. Ons is in ons sonde en misdade dood gebore. Wanneer die Skrif ons vanuit ons natuurlike geboorte en lewe beskryf, word geen woorde gespaar om die ontsettende verdorwenheid van ons natuur en die skandelike dade waartoe ons in staat is, te beskryf nie. “Daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie” verklaar Psalm 14:3. “Al ons geregtighede [d.w.s ons beste werke] is soos ʼn besoedelde [deur menstruasie bevuilde] kleed” sê Jesaja 64:6. Elke handeling wat ons verrig is ‘n daad van haat teen God en ontkenning van sy oneindige heerlikheid. Uit ‘n geestelike oogpunt is ons dood, en toon nooit enige teken van lewe nie (Efesiërs 2:1).

Maar, ons is die verbondsvolk van God. Om die verbondsvolk van God te wees, beteken om in noue gemeenskap met Hom te lewe. In hierdie gemeenskap eis God ons as sy eie op en ons eis God as ons besit. Dit word beskryf as ‘n verhouding tussen vader en kind: intiem, liefdevol, geseënd. Dit vereis heiligheid soos dié van God. Petrus roep die volk van God op om heilig te wees, soos God self heilig is (1 Petrus 1:15-16).

Die groot werk wat ons heilig genoeg maak om in gemeenskap met die lewende God te lewe, word heiligmaking genoem. Dit is deel van die verlossingswerk wat God doen in sy genade aan sy uitverkore volk. Hy gee aan hulle nuwe lewe deur hulle weer gebore te laat word. Hy reken hulle die geregtigheid van Christus toe, wanneer hy hulle regverdig maak. Hy gee aan hulle die geloof waarmee hulle met Christus één word. Hy bewaar hulle as sy volk in die wêreld. Hy verheerlik hulle by die dood en die opstanding van die liggaam. Hy maak hulle heilig soos Hy heilig is: dit is die heiligmaking.

Hierdie heiligmaking (soos al die ander seëninge van die verlossing) is die werk van God. Ons kan onsself nie heiligmaak nie. Elke seëning wat ons ontvang, word uit genade geskenk, en genade is onverdiende guns. God neem ons soewerein in sy verbond op en maak ons sy verbondsvolk.

Tog word ons geroep op onsself te heilig. Dié vermaning is duidelik.

Hoe kan albei dinge waar wees?

Die Armeniaanse antwoord is dat heiligmaking ‘n samewerking is waarin God én mens elkeen sy eie rol speel. In werklikheid gaan die Armeniane so ver as om te sê dat die inisiatief by die mens berus, sodat God van die mens se begeerte om gered te word, afhanklik is voordat Hy kan handel. Hierdie is algemene teologie, maar heeltemal in stryd met die Skrif en die belydenisskrifte. In Filippense 2:12-13 bevestig die Skrif die teenoorgestelde: “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae”.

Daar bestaan geen twyfel nie dat dit ‘n werk van God is wat Hy uitvoer, maar dat Hy ons in dié werk opneem. Die wyse waarop Hy dit doen, is ‘n geheimenis. In sy bespreking van wedergeboorte en bekering praat die Dordtse Leerreëls van hierdie werk as ‘n “verborge en onbeskryflike daad van God” (DL III/IV:12). Tog werk God op dié wyse, sodat ons, wanneer Hy ons in sy werk opneem, die geluksaligheid van sy werk des te meer sal ervaar.

Die roeping om onsself te reinig

Die teks dui op twee kante aan ons roeping tot ‘n heilige lewe: die een is om ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig; die ander kant is om die heiligmaking in die vrees van God volbring. Die eerste is die negatiewe kant; die tweede is die positiewe.

Die teks veronderstel die feit dat, hoewel ons deur die werk van God se heiligmaking heilig gemaak word, wat in beginsel by ons wedergeboorte geskied, die werk onvoltooid is en onvoltooid bly so lank ons nog in die wêreld is. Ons harte is wedergebore; ons natuur is volkome verdorwe. Of, soos die Skrif dit soms stel, wedergeboorte skep ‘n nuwe mens in Christus, hoewel die ou mens onteenseglik deel van ons bly. Die geveg om lewe en dood tussen die ou en die nuwe mens word dramaties deur Paulus in Romeine 7:14-25 beskryf. Ons is geestelike skisofrene.

Wanneer die teks praat van die noodsaak dat ons vlees en gees gereinig moet word, word geensins bedoel dat enige deel van ons natuur daarby uitgesluit is nie. Ons word gewis nie geroep om net deel van ons sondige natuur te reinig en die res vir moontlike toekomstige aandag te laat nie. Die uitdrukkings verwys onteenseglik na ons hele natuur.

Die Skrif gebruik die woord “vlees” op verskillende maniere. In hierdie gedeelte en elders word verwys na ons hele natuur van siel en liggaam, maar uit die hoek van ons sonde en verdorwenheid. Die woord “gees” verwys na ons verhouding met God. God het die mens, liggaam en siel, geskape. Die siel van die mens bestaan uit die twee komponente van verstand en wil. In die gevalle mens is alles verdorwe. Toe God die mens, soos die diere, uit die stof van die aarde geskape het (Genesis 1:24-25), het Hy hom na liggaam en siel só gemaak. Toe God die asem van die lewe in sy neusgate geblaas het, het Hy aan hom ‘n gees gegee (Genesis 2:7).

Siel en gees is een deel van die mens as rasionele en morele wese, maar “siel” verwys na die verstand en wil van die mens, terwyl “gees” verwys na die feit dat sy siel só geskape is dat hy in ‘n verhouding met God staan. As geheiligde ken hy God, het hy Hom lief en geniet hy gemeenskap met Hom. As sondaar haat hy God en is alles wat hy doen teen die wil van God, en hy kan nie die verantwoordelikheid vir wat hy doen, ontwyk nie.

Die twee, vlees en gees, is verwant. Wanneer die vlees besoedel en bedorwe is, is die verhouding waarin ons tot God staan een van vyandskap en haat. Die reiniging van die vlees beteken ook die suiwering van ons verhouding met God tot ‘n verhouding in die seën van die verbond.

Die vermaning is streng en kragtig. Ons vlees en gees is steeds sondig en moreel besoedel. Ons moet albei reinig; die een reinig om die ander te reinig. Die opdrag is ernstig en intens. Dit is die enigste wyse waarop ons in verbondsgemeenskap met God kan tree, want daar is in die woonplek van God geen plek vir besoedelde mense nie.

Dié vermaning het twee implikasies. Die eerste is implisiet in die woord “reinig”. Die Skrif se gebruik van die woord is dikwels ‘n verwysing na die reinigende krag van die bloed van Christus. Die bloed van Christus is aan die kruis gestort as volledige betaling van ons skuld by God, ‘n skuld wat net betaal kan word deur ‘n ewigheid in die hel. Daar op die Kruisberg het Christus, die Seun van God in ons vlees, in ons plek gely en ons skuld betaal. Daarom reinig ons die besoedeling van ons vlees en ons gees deur na die kruis te gaan en die volmaakte offer van Christus, deur ons geloof in Hom as ons eie te neem.

Tweedens reinig ons onsself deur in die krag van die kruis in ons daaglikse roeping te lewe. Christus het nie net gesterf om vir ons sonde te betaal nie, maar ook om vir ons die geestelike krag te verwerf om die wil van God te doen. Wanneer ons deur die geloof op die kruis alleen vertrou en aanneem wat Christus deur sy lyde en dood vir ons verdien het, veg ons teen die besoedeling wat in ons oorbly en verootmoedig ons onsself daagliks voor God in opregte berou.

Die roeping om die heiligmaking te volbring

Volbragte heiligheid in die vrees van God is die positiewe kant van ons roeping.

Die woord “volbring” kom van ‘n Griekse woord wat “die einde” in die sin van ‘n doel wat bereik is, beteken. Die einde van ‘n oorlog is die bereiking van die doel om die vyand te verslaan. Die einde van ‘n maraton is die bereiking van die doel om die wedloop te voltooi. Om heiligheid te volbring, beteken om volledig en volkome heiligheid te verkry.

Ons sal dié doel nie op aarde bereik nie, maar wanneer ons sterwe en ons siele na die hemel gaan, en wanneer Christus weer kom om ons liggame op te wek en hulle in heerlikheid aan sy eie liggaam gelykvormig te maak, sal ons heiligmaking volbring wees.

Ons moet nietemin na dié doel streef. Ons kan nooit tevrede wees met gedeeltelike reiniging van geestelike en liggaamlike besoedeling nie. Daar is immers nie so iets soos gedeeltelike heiligheid nie. ‘n Liggaam wat net deels in ‘n stortbad gewas is, is nie skoon nie. ‘n Deel van die vuilheid is afgewas, maar die liggaam is nog vuil. So is dit ook met heiligheid. Gedeeltelike heiligheid is ‘n teenstrydigheid, ‘n weerspreking. God voltooi die werk wat Hy met die mens begin. Daarom word ons geroep om na volkome en volmaakte heiligheid te strewe.

In die praktyk van ons lewe en roeping beteken dit dat ons sonder ophou sal voortgaan in die stryd teen die sonde wat in ons oorgebly het; dat ons, wanneer ons struikel, sal opstaan om te streef na die doel wat aan die einde van ons lewe bereik sal word. Hierbenewens beteken dit dat ons moet leer om met oorgawe te bid, “Kom Here Jesus, kom gou” want wanneer Christus kom, verkry ons volkome heiligheid.

Dit is opvallend dat die teks die woorde “in die vrees van God” by die roeping tot ons heiligmaking voeg.

Die vrees van God is ‘n deug met ‘n belangrike plek in die reeks Christelike deugde wat in die Skrif genoem word. Hierdie deug bestaan uit twee dele. Een is dat ons so bewus is van die ewige heerlikheid, volmaaktheid en heiligheid van God dat ons met groot ontsag voor Hom staan. Ons is soos Jesaja wat, nadat hy die heiligheid van God aanskou het, uitgeroep het: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ʼn man onrein van lippe” (Jesaja 6:5).

Tweedens is die vrees van God die oorweldigende gewaarwording van die groot liefde van God vir ons, arme sondaars, waardeur ons aangespoor word om niks te doen wat ons genadige Vader sal mishaag, Hom sal beledig en sy heilige Naam sal belaster nie.

Dit is nie moeilik om te besef waarom dié vrees van deurslaggewende belang in die volvoering van ons roeping is nie. Die wonder van ons verlossing is so oorweldigend groot dat ons dit nouliks kan begryp. Tog is dit waar; ons weet dit is waar; ons glo dit is waar.

Die vermoë om hierdie roeping te gehoorsaam

As ons hierdie vermaning wat van ons Christus kom, hoor, en ons ken ons self maar te goed, mag ons geneig wees om te dink dat dit ‘n vermaning is wat van ons die onmoontlike eis. In wanhoop oor ‘n roeping wat die onmoontlike van ons vra, mag ons dalk die hele aangeleentheid eenvoudig een kant toe skuif en daarvan vergeet.

Ons mag dit nie doen nie. Ons mag nie sê, ons kan dit nie doen nie, waarom nog probeer?

Hoewel daar in hierdie vermaning, soos in al die vermanings van die Skrif, ‘n duidelike en dringende “moet” – jy móét gehoorsaam – vir die kind van God opgesluit lê, word hierdie vermaninge, deur die genade, vir ons ‘n “kan”, ‘n “wil” en ‘n “sal”. Ek moet nie alleen die gebod van God gehoorsaam nie, ek kan Hom gehoorsaam, ek sal Hom gehoorsaam en ek gehoorsaam Hom!

Die teks sê baie uitdruklik dat ons hierdie beloftes ontvang het. Dit sê nie dat ons dit nog sal ontvang as ons die vermaning gehoorsaam nie. Die beloftes van God is nie voorwaardelik óf afhanklik van ons gehoorsaamheid nie. Dit is ons s’n reeds in hierdie lewe. God is ons God. Ons is sy volk. Hy is ons Vader. Ons is sy seuns en dogters. Ons word deur God in sy ewige verbond, wat Hy vir ons ingestel het en wat Hy bewaar en in stand hou, opgeneem.

Die vermaning in die teks is dus nie net gerig aan hulle wat reeds sy verbondsvolk is nie, maar aan hulle wat die vermoë het om die vermanings wat Hy aan ons voorhou, na te kom. Die nakoming van die vermanings is deel van die lewe van dankbaarheid, in ootmoedige erkentenis van die rykdomme van die soewereine genade van God wat ons ontvang het.

Eweneens is die krag waarmee ons sy gebod en vermaning gehoorsaam, geleë in die werklikheid van die beloftes van God. “Ek moet … want ek is ‘n kind van my hemelse Vader”. “Ek kan .. want as my Vader, gee Hy aan my die geestelike krag om te gehoorsaam”. “Ek sal … want Hy maak my gewillig en in staat om Hom lief te hê”.

Die geestelike vermoë kom na ons van God deur die kruis van Jesus Christus, in wie se bloed ons gewas is. “Ek moet … want ek is gewas in die bloed van my Verlosser”. “Ek kan … want Hy het vir my gesterf”. “Ek sal … want Hy het my so lief gehad dat Hy Homself vir my gegee het, vir my, arme en verlore sondaar”.

Ek moet en kan en sal my eie heil uitwerk, want dit is God wat in my werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Filippense 2:12-13). Daarom is gehoorsaamheid aan die gebod van God nie ‘n swaar taak, ‘n hemelse verpligting, ‘n wrede vereiste nie. Om as sy verbondsvolk in die wêreld te lewe, is ‘n voorreg wat uit genade aan ons gegee is.

Ons moet die volmaaktheid hiervan in die hemel verwag, maar ons het reeds nou wanneer ons sondig, vergewing en vryspraak. Wanneer ons swak is, is die Here Jesus magtig om te red. Wanneer ons las te swaar word, kry ons die krag wat van die Kruisberg vloei. Wanneer ons moedeloos is, het ons die hoop op die heerlikheid. Ons het die oorwinning deur ons Here Jesus Christus. Amen.

(Vertaling uit David J. Engelsma en Herman Hanko, The Reformed Worldview, Deel 2, Hoofstuk 8, British Reformed Fellowship 2012.Vertaal deur Nic Grobler, Die teks van die AOV van 1933/53 is by die vertaling gebruik).

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons