Ds. Angus Stewart
Die Gees wat ons verseël, word in Efesiërs 1:13 “die Heilige Gees van die belofte” genoem. “Belofte” in die enkelvoud verwys na die een, sentrale, Ou Testamentiese belofte van Messiaanse verlossing vir al die uitverkorenes van God. Die Heilige Gees van die belofte is die beloofde Heilige Gees. Die Ou Testament profeteer dus nie net redding, al die seëninge van Efesiërs 1:3-14 nie, maar, deur die Heilige Gees belowe dit ook dat dieselfde Gees wat die redding in Christus ons deel maak, dit ook aan ons beseël en ons persoonlik van ons genadige verlossing verseker.
Sommige mag vrae hê oor hierdie laaste stelling: “Ek weet dat die Ou Testament die koms van Christus en sy verlossing voorspel en dat voorspel word dat die Heilige Gees die seëninge in Christus in die Nuwe Testamentiese tyd ons deel sal maak (bv. Joël 2:28-29; Jes. 32:15; 44:359:21), maar waar belowe die Ou Testament dat die Gees ons van Messiaanse verlossing verseker?” Dink maar aan Esegiël 36:26-28. God belowe dat Hy ons sal vernuwe (vs. 26) en sy Gees in ons binnenste sal gee sodat ons sy verordeninge sal onderhou en doen (vs. 27). In hierdie (nuwe) verbond het ons gemeenskap met Jehova: “julle sal vir My ʼn volk en Ek sal vir julle ʼn God wees” (vs. 28). Om, deur die Gees, God as ons God en ons as sy volk te ken (vs. 27),is sekerheid van ons verbondsverlossing.
Daar bestaan ‘n verkeerde beskouing oor die tydstip van die verkryging van sekerheid (dit wil sê die verseëling deur die Gees) deur die Nuwe Testamentiese gelowige, naamlik dat die sekerheid gewoonlik verkry word nádat eers ‘n tyd lank in die evangelie geglo is. Hiervolgens kan sommige heiliges by hulle bekering, of kort daarna, verseël word, maar baie, indien nie die meeste nie, eers jare – soms baie jare – later. Ingevolge hierdie beskouing is nie alle Christene (tans) deur die Gees verseël en verseker van hulle verlossing nie en predikers moet hierdie arme mense dan oproep tot ‘n soektog na sekerheid. As jy nie die sekerheid het nie moet jy daarna soek – ernstig, vurig en hartstogtelik – dikwels jare lank. Dan, eindelik, sal jy met die Gees verseël word.
Hoewel die Puriteine getrou was in baie dinge (byvoorbeeld dubbele predestinasie, erfsonde, die regulatiewe beginsel vir die erediens, kinderdoop, waak oor die tafel van die Here, Psalmsang, teenkanting teen leke-prediking, katkisasie en dies meer) het hulle hierdie verkeerde beskouing gehuldig. Martyn Lloyd Jones — so ‘n uitnemende prediker, uitlegger en amillennialis as wat hy was — het die Puriteine helaas daarin gevolg.
Hierdie gedagte dat sekerheid (gewoonlik) eers na ‘n tyd van geloof en na veel soeke (dikwels jarelank) verkry word, is ‘n vorm van die leer van “second blessing.” Later het die “second blessing” die inhoud gekry van “krag vir diens” soos by opwekkingspredikers soos R. A. Torey en D. L. Moody, of van volkome heiligmaking, soos by John Wesley en die Perfeksioniste, of van die doop met die Heilige Gees (wat dikwels met die gebrabbel van tonge-taal as die uitwendige teken gepaard gaan) soos by die Pinkstergroepe. Lloyd Jones, wat versekering as ‘n post bekeringservaring beskou het, het die doop met die Heilige Gees ook vir ‘n “second blessing” gehou. Hy het, jammer genoeg, die charismatiese verskynsel wat in Suid-Wallis toegeneem het, gekwalifiseerd ondersteun en R. T. Kendall as sy opvolger in die Westminster Chapel in Londen verkies. Daardie kerk se ondergang – deur charismatisme en Armenianisme – is welbekend.
Genadiglik is die sekerheid nie ‘n “second blessing” ervaring, wat (gewoonlik) jare na die eerste geloof en na baie soeke ontvang word nie. Ons word met die Gees verseël wanneer ons in die evangelie van Christus glo. Ons wil hier opmerk dat die vertaling in die Engelse Authorised Version (AV) van die Bybel (en ook die Afrikaanse vertaling van die Bybel van 1933/53) in Efesiërs 1:13 ( “… nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte”) misverstaan kan word as steun vir die verkeerde beskouing. “Toe julle tot geloof gekom het” (soos in Die Bybel Nuwe Vertaling, 1983) is ‘n beter vertaling, wat, hoewel dit moeilik verduidelik word omdat Griekse grammatika (met aoriste en deelwoorde) ter sprake is, teologies en uit die konteks vasgestel kan word.
Efesiërs 1:3-14 is een lang sin waarin sprake is van “alle geestelike seëninge” (vs. 3) wat “aan die heiliges” (vs. 1) geskenk word. Die verseëling deur die Gees (vs. 13) is een van die geestelike seëninge wat aan alle Christene (en nie net aan sommiges, jare na hulle bekering nie) geskenk word. Tweedens is “alle geestelike seëninge”, óók die verseëling deur die Gees, “in Christus” (vs. 3) wat die deel is van alle gelowiges. Derdens is ons “verseël met die Heilige Gees van die belofte” (vs. 13); en God se onvoorwaardelike belofte van verlossing (wat die sekerheid insluit) is vir alle gelowiges. Vierdens verwys “verseël” (vs. 13) soos ons reeds gesien het, wesenlik na eienaarskap. Omdat alle Christene die eiendom van die Drie-enige God is, is hulle met die Gees verseël. Vyfdens het alle gelowiges die Gees as “onderpand” (vs. 14) én as seël (vs. 13).
Al die kinders van God word met die Gees verseël wanneer hulle glo, want sekerheid is deel van die geloof. Daarom beskryf die Heidelbergse Kategismus ware geloof tereg as “ ‘n vasstaande kennis” en “ ‘n vaste vertroue” (Antwoord 21).
Efesiërs 1:13 leer dat die Gees ons verseël deur geloof in die evangelie, “die woord van die waarheid,” en nie deur mistieke ervarings of die Heilige Gees wat in ons oor fluister nie. Om die Woord wat gelees en gepreek word te glo, is die weg van sekerheid. Daarom is dit belangrik dat jy na die ware, nie valse, evangelie luister, want dit is die “woord van waarheid” wat “die evangelie van julle redding” is.
Ons teks toon ‘n logiese (nié kronologiese) orde: prediking, geloof en die verseëling deur die Gees. Kind van God, die Gees verseël jou van die oomblik dat jy begin glo het (vs. 13) “tot die dag van verlossing.” Bedroef Hom dus nie (Ef. 4:30) deur jou sondes nie (vs. 25-29; 31-32).
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)