Ds. Angus Stewart
Die twaalf apostels en die apostel Paulus het die leergesag van leraars besit, plus onfeilbare leergesag, wat (vir sommige van hulle) die gesag ingesluit het om geïnspireerde en kanonieke Nuwe Testamentiese Skrifte te skrywe.
Hierdie apostels het ook die gesag gehad van ouderlinge om om te regeer. Soos hulle het die apostels gesag gehad vir tug, om geskille aan te hoor en te besleg en om ampsdraers te bevestig. Anders as die ouderlinge, het die apostels die gesag gehad om die eerste-eeuse evangeliste uit te stuur, en die gesag om die twaalf stamme van Israel op die laaste dag te oordeel (Mattthéüs 19:28).
Hierbenewens het die apostels die gesag gehad om, soos diakens, barmhartighed te toon. In die dae van die Nuwe Testamentiese Kerk tot en met Handelinge 6, het die apostels die werk van diakens gedoen. Die voorganger met die neem van finansiële steun vanuit die Griekse kerke na die arm gelowiges in Jerusalem, was die apostel Paulus (I Korinthiërs 16:1-4; II Korinthiërs 8-9).
Kort gestel is die ampte van leraar, ouderling en diaken in die apostels verenig, en hulle het selfs groter gesag gehad as die kombinasie van hierdie drie permanente ampte. Verder was hierdie gesag universeel uitgeoefen, want al die kerke was onder dié gesag van die apostels. Geen wonder dus dat die apostel Paulus kon skryf, “want al sou ek ook nog meer roem oor ons gesag wat die Here ons gegee het om julle op te bou en nie neer te werp nie, sal ek nie beskaamd uitkom nie” (II Korinthiërs 10:8).
Hierdie gesag was afgelei en dienend. Die apostels was immers onder die koningskap van Jesus Christus, die enigste koning en hoof van die kerk, en hulle soos ook ons, was onderhewig aan die waarheid van Sy Woord.
In Paulus se stryd teen vals apostels in II Korinthiërs 10-13 kan mens sê dat die hoofstukke handel oor apostoliese gesag, hoofstuk 11 oor apostoliese lyding, hoofstuk 12 oor apostoliese openbarings en hoofstuk 13 met apostoliese vermanings. Benewens apostoliese gesigte sluit die bonatuurlikheid in II Korinthiërs 12 ook apostoliese wonderwerke in: “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (12). Let op die verband hier tussen apostels en wonders!
Die ware apostoliese amp word tereg verbind met Gees-gewerkte wonders in die apostoliese tyd, soos in die Nuwe Testament opgeteken. Aan die ander kant verbind vele vals kerke hulle (vervalste) wonderwerke met hulle (vals) apostels.
Dink eerstens aan die Roomse kerk. Die Pous word veronderstel om die opvolger te wees van die apostel Petrus en die paapse kerk maak daarop aanspraak om ‘n wonder- werkende kerk te wees – in die verlede, in die hede en in die toekoms.
Hierdie ooreenstemming is, tweedens, duidelik in Mormonisme. Hier is die sesde en sewende van die “Artikels van Geloof van die Kerk van Jesus Christus van die Mormone” (Latter-Day Saints) van Joseph Smith: “Ons glo aan dieselfde organisasie wat in die Primitiewe Kerk bestaan het, naamlik, apostels, profete, pastore, leraars, evangeliste ensovoorts.” “Ons glo in die gawe van spreek in tale, profesie, openbarings, gesigte, genesing, verklaring van tonge-taal, ensovoorts.” “Apostels” en wonders van “genesing” is nou aan mekaar verbind.
Derdens gaan ons na die Katolieke Apostoliese Kerk wat geassosieer word en geïnspireer is deur Edward Irving (1792 – 1834) in Londen. Die wonderwerke waarop hulle aanspraak gemaak het, het hulle gelei tot die herinstelling van die amp van apostel. Net soos die Mormone het die Katolieke Apostoliese Kerk besluit op twaalf as die getal van hulle apostels, die laaste waarvan in 1909 oorlede is.
Vierdens maak baie charismatiese groeperings daarop aanspraak dat hulle sowel wonderwerke en apostels het, terwyl sommige groepe aanspraak maak dat die gesag om wonders te werk vandag die idee vir apostelskap oopmaak.
II Korinthiërs 12:12 wat vroeër aangehaal is, gebruik drie betekenisvolle woorde vir ware wonderwerke: “tekens”, “wonders” en “kragtige dade.” As wonderwerke is “kragtige dade” objektiewe werke wat voortkom uit buitengewone goddelike krag. “Wonders” is wonderwerke wat ontsag wek, ‘n subjektiewe resultaat in ‘n mens. Wonderwerke as “tekens” wys op die groot geestelike werklikheid: verlossing in die bloed van Christus en saligheid in Hom alleen, soos dit onfeilbaar deur sy spesiaal gestuurde gesante geleer is.
Hierdie wonderwerke of “tekens”, “wonders” en “kragtige dade” varieer. Vier word genoem in Christus se sending van die twaalf dissipels in Matthéüs 10:8: “[1] Maak siekes gesond, [2] reinig melaatses [3] wek dooies op [4] dryf duiwels uit.”
Dit is die belofte van die opgestane Here Jesus in Markus 16:17-18: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: [1] in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, [2] met nuwe tale sal hulle spreek, [3] slange sal hulle opneem; en [4] as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; [5] op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.”
“(D)ie wat geglo het (17) was die elf dissipels wat na die Here se Hemelvaart (19) “uitgegaan en oral gepreek (het), en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het” (20).
Van hierdie vyf “tekens” is “nuwe tale … spreek” — tale wat “nuut” was vir die spreker en nie op gewone wyse aangeleer is nie – was nie nuut by die apostels of selfs by die ander buitengewone en tydelike ampsdraers: die profete en evangeliste, nie
Twee van die ander “tekens” word in beide Matthéüs 10:18 en Markus 16:17-18 genoem. Dit laat ons met ses soorte wonderwerke uit hierdie twee Nuwe Testamentiese tekste: [1] gesondmaking van die siekes [2] reiniging van melaatses [3] opwekking van die dooies [4] uitdryf van duiwels [5] immuniteit teen slanggif [6] immuniteit teen gif.
Maar meer moet nog gesê word oor die aard en werkers van hierdie tekens!
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.