Menu Close

Ses Komste van Christus voor Sy Tweede Koms / Christ’s Six Comings Before His Second Coming

        

Ds. Angus Stewart

Die Heilige Skrif profeteer die toekomstige heerlike liggaamlike koms van ons Here Jesus in die wolke van die hemel (bv. Matthéüs 24:30-31; Openbaring 1:7). Uit die Nuwe Testament kan ons ook praat van ses ander komste van Christus, wat almal sy koms aan die einde van die laaste tyd voorafgaan. In die eerste drie gevalle voorspel ons Saligmaker spesifieke gebeure in die eerste eeu AD, terwyl Hy in die laaste drie praat van sy voortgaande komste deur die laaste dae, die tyd vanaf sy eerste koms tot sy tweede koms.

1) Die verheerliking. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matthéüs 16:28; vgl. Markus 9:1; Lukas 9:27). Direk na hierdie drie tekste het die gesig van ons Here op ‘n berg in Galiléa geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos lig, tekenend van sy heerlikheid by sy tweede koms (II Petrus 1:16-18).

2) Pinkster. Tydens sy laaste week op aarde, het Christus sy dissipels in die bo-vertrek belowe: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Johannes 14:18) – deur sy verteenwoordiger, die Heilige Gees (16-17), wat in Handelinge 2 uitgestort is.

3) Die val van Jerusalem (AD 70). Ons Saligmaker het die verwoesting van die Heilige Stad as ‘n wyse waarop Hy sou kom, geprofeteer: “julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie” (Matthéüs 10:23; vgl. 23:32-38). In antwoord op sy dissipels se vrae oor sy (tweede) “koms” (24:3), het Jesus verwys na kosmiese en wêreldgebeure en sê in verband daarmee: Voorwaar Ek sê vir julle hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (34).

4) Prediking. Die “stem” van die Goeie Herder roep sy “skape” “by hulle naam” sodat hulle Hom “volg” (Johannes 10:3-4, 16, 27). In die lig van Efesiërs 2:17 wat leer dat: “Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was (i.e. heidene) en aan die wat naby was (Jode).” Christus kom (geestelik en nie liggaamlik nie) deur getroue prediking waar en wanneer Sy waarheid verkondig word (Romeine 10:14; Efesiërs 4:21).

5) Die dood van gelowiges. Die aand voor die kruisiging het Jesus vir sy dissipels belowe, “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3). Die Seun van die mens kom dus by die dood van iedere en elkeen van sy geliefde heiliges om hulle na Homself in die hemel te neem!

6) Tekens van die wederkoms van Christus. Jesus het gesê: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel” (Matthêüs 26:46). Sy belofte, “Kyk, Ek kom gou” (Openbaring 22:7), staan in die teenwoordige tyd, nie die toekomstige tyd nie. Daarom merk teoloë op dat daar belangrike sin in is dat Christus met die tekens van die tye kom: oorloë, aardbewings, vervolging, (Matthëüs 24: Openbaring 6-20).

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons