Ds. Angus Stewart
Die twee vorige artikels oor die apostoliese gesag het uitgegaan van II Korinthiërs 10:8: “… want al sou ek ook nog meer roem oor ons gesag wat die Here ons gegee het om julle op te bou en nie neer te werp nie, sal ek nie beskaamd uitkom nie”. Hierdie verwysings het die reg van die apostels verduidelik om God in drie sfere te dien: lering, regering en barmharigheidsdiens. Ten laaste sal ons nou handel met die bron en die doel van die gesag wat die twaalf apostels en Paulus gevoer het, om lewensbelangrike lesse vir die kerk van vandag te leer.
Jesus Christus is die oorsprong of die bron van apostoliese gesag: “ons gesag wat die Here ons gegee het” (8). Die Drie-Enige God het aan sy vleesgeworde, gehoorsame en verheerlikte Seun die reg gegee om oor die hele heelal te regeer, en Hy oefen sy gesag uit in die kerk, ten dele deur die apostels. So het ons opgestane Heiland vir die Elf gesê, “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Mat 28:19) Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Matt 28:18-20). Christus Jesus is “die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis” (Heb. 3:1); die Opperste wat God op Sy tyd gestuur het en Sy apostels aangewys het.
Ter wille van volledigheid moet ons uit Efesiërs 4:11 byvoeg dat ons opgevare Heiland ook aan ander opdrag gegee het, ek steeds gee, om Sy kerk te leer: “profete” en “evangeliste” (buitengewone en tydelike ampsdraers), en “herders” wat “leraars” (gewone en permanente ampsdraers). Christus stel ouderlinge en diakens aan en rus hulle toe om Sy gemeentes te dien (I Tim. 3).
Aangesien die Here Jesus die oorsprong van apostoliese gesag is, het Paulus en die Twaalf afgeleide gesag, dienende gesag en ‘n omskrewe gesag gehad. Net so is die gesag van al die laer ampsdraers in die Nuwe Testamentiese kerk (profete, evangeliste, lerende herders, regerende ouderlinge en diakens) afleleide gesag en dienend, omskrewe en beperk tot hulle onderskeie sfere.
Christus het vir die twaalf dissipels gesê, “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Matt. 20:25-28). As dit waar is van die grootse gesag van die apostels, hoeveel te meer dan wat betref predikante, ouderlinge en diakens, die kerk se gewone en permanente ampsdraers? Daarom beskryf Hoofstuk 18 van die Tweede Switserse Belytdenis die gesag van predikante as “meer diens as heerskappy.”
Noudat ons gesien het dat die Here Jesus die bron van apostoliese gesag is; dat die gesag van die apostels (en alle kerklike ampte) omskrewe en dienend is, kyk ons nou na die doel van apostoliese gesag. Paulus sê dat dit is om “op te bou en nie neer te werp nie” (II Kor. 10:8).
Die doel en oogmerk van die apostoliese gesag, ampte en arbeid is om die kerk op te bou en definitief nie om die mense van God te vernietig nie. Jehovah se straf van die goddelose op geregtige basis van hulle sonde is ondergeskik aan die heerlike primêre begeerte en doel: die redding van die uitverkorenes deur die kruis en Gees van Jesus Christus.
Dit is in hierdie konteks dat Paulus praat van die krag en werksaamheid van prediking en kerklike tug om die ware volk van God tot bekering en geloof te bring: “die wapens van ons stryd is … kragtig deur God om vestings neer te werp, (en) elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange (te) neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (4-5).
Die apostel verduidelik dat sy wapentuig nie vleeslik of wêrelds is, wat op wêreldse of snode motiewe gegrond is nie. Sy arsenaal van prediking van die Woord en kerklike tug – biddend en tot verheerliking van God – is geestelik, gerig op die mens se verstand, siel of gewete. “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar (neem) elke gedagte gevange … tot die gehoorsaamheid aan Christus” (3,4,5,).
‘n Hartelike begrip van die bron van apostoliese gesag lei die kerk en sy ampsdraers na uitvoering van kerklike gesag wat dienend en nie heersend is nie (1 Pet. 5:3) en deur die Woord van God beskryf word. Net so verbind ‘n gelowige kerk in die besef van die doel van apostoliese gesag (die saligheid van die uitverkorenes en nie hulle vernietiging nie) hom tot die biddende gebruik van die geestelike gawes deur God gegee (prediking, sakramente en tug) in die vaste vertroue dat Sy genade alleen hulle dienstig sal stel vir die roeping en heiliging van hulle wat van ewigheid af uitverkies is (Ef. 1:4).
Die uiterste belangrikheid van werklike geloof in, en regte uitvoering van kerklike gesag word in die Nederlandse Geloofsbelydenis onderstreep in die beskrywing in artikel 29 van die sondige misbruik daarvan: “Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.”
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)