Ds. Gise Van Baren
Die kerk se leer van uitverkiesing word dikwels gebrekkig verstaan, of nadruklik bestry. Diesulkes is òf onkundig, òf hulle verstaan hierdie waarheid doelbewus verkeerd.
Wat is die skriftuurlike waarheid van uitverkiesing? Ons kan God se uitverkiesing beskryf as sy ewige soewereine, genadige bepaling, waardeur Hy ‘n kerk as Christus se liggaam kies tot die ewige saligheid en heerlikheid, met al sy individuele lede, elkeen op sy eie plek.
Laat ons die onderskeie dele van hierdie definisie van nader ondersoek.
In die eerste plek is uitverkiesing daardie bepaling van God waardeur Hy ‘n definitiewe getal individue uitkies vir saligheid en eer. God is nie onseker oor wie gered gaan word en die ewigheid saam met Hom in die hemel gaan deel nie. Hy ken elkeen van sy kinders by die naam, aangesien Hy elkeen van hulle gekies het; en daardie name het Hy opgeskryf in die Boek van die Lewe. Die Skrif praat van uitverkiesing op hierdie wyse in Hd. 13:48: “en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” En ook, aangaande Jeremia lees ons (1:5): “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou ‘n profeet vir die nasies gemaak.” Nou weet ek dat hierdie in besonder op Jeremia betrekking het, maar dit is baie duidelik uit hierdie stuk dat God hom geheilig het en hom voorberei het voor hy ooit gebore is. God het Jeremia gekies. Ook lees ons in Rm. 9:13: “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” Hierdie is nie ‘n onseker getal nie, maar God het bepaalde individue uitgewys. Voor hulle nog gebore is, het God gesê “Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.”
In die tweede plek leer die uitverkiesing dat die lidmate van die kerk gekies is as a liggaam van Jesus Christus, met elke lidmaat op sy unieke plek. Daar is voorbeelde waar die Skrif die kerk as ‘n liggaam voorstel. Die apostel Paulus praat van daardie kerk in I Kor. 12:12: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.” Nou is ‘n liggaam ‘n lewende organisme. ‘n Mens kan nie lede by die liggaam voeg of wegneem nie. Sodra ‘n mens dit probeer, het hy ‘n onvolmaakte liggaam of ‘n gedrog. ‘n Liggaam het normaalweg tien vingers, twee hande, twee arms, twee oë, een neus—dit is al. Neem enige van hierdie lede weg, of voeg by en jy het nie meer ‘n volmaakte liggaam nie. God kies ook vir Homself ‘n kerk as die liggaam van Christus, dit is, individuele lidmate elkeen op sy eie besondere plek in daardie liggaam. God het ‘n plek vir elke lidmaat, elke uitverkorene van God, in daardie liggaam. ‘n Mens se plek mag dalk nie altyd baie belangrik uit ‘n menslike oogpunt wees nie, maar dit is sy unieke plek. Net soos die pinkie ‘n onbeduidende lidmaat is, is dit steeds noodsaaklik om die liggaam volmaak te maak; daardie vinger het sy plek en funksie. So ook, beklemtoon die waarheid van uitverkiesing die feit dat God elke individuele lidmaat kies vir ‘n spesifieke plek in Christus se liggaam—en daardie plek moet en sal hy vul.
In die derde plek is die uitverkiesing gesentreer in Jesus Christus. ‘n Mens kan nooit praat van uitverkiesing buite Hom nie. Ons lees in Ef. 1:4: “soos Hy ons in Hom (Christus) uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld …” Dit is die waarheid wat ‘n mens dwarsdeur die Skrif kry. God kies sy kinders as lidmate van Christus.
In die vierde plek, leer uitverkiesing dat God ‘n volk uitkies tot die ewige saligheid en heerlikheid. God kies nie bloot nie, maar Hy het ‘n doel daarmee. Daardie ewige doel is dat Hy sy mense na die hemel bring. Ek haal byvoorbeeld uit Rm. 8:29-30 aan: “Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees met die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik.” Die uiteindelike doel van die ewige uitverkiesing waardeur God sy kinders kies, is dus dat Hy hulle kan verheerlik deur Christus vir die eer van sy eie Naam.
Ten slotte vind uitverkiesing plaas in die ewigheid. Dit is nie ‘n daad wat net in tyd plaasvind nie. Dit is ‘n daad van God wat plaasgevind het in Sy raad of plan nog voor tyd begin het. Kyk weer na die gedeelte in Ef. 1:4: “soos Hy ons in [Christus] uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld …” Wat beteken dit? Hierdie frase sê dat God gekies het voor daar enige skepping, voor daar tyd of ruimte was. Voor die grondlegging van die wêreld, was daar net God. Hy het dan vir Hom, van ewigheid af, ‘n volk in Christus uitverkies in sy Raad. Dit is die getuienis van die Skrif.
In verband met die waarheid van uitverkiesing word die vraag dikwels gevra: “Is uitverkiesing voorwaardelik of onvoorwaardelik?” Met ander woorde, het God sy kinders gekies op grond van een of ander daad wat hulle eers moes verrig—of is sy keuse vry en onafhanklik? Was die uitverkiesing afhanklik daarvan dat die mens eers iets moet doen—of het God sekere mense gekies bloot omdat dit Hom behaag het? Die Skrif leer dat uitverkiesing slegs berus op die raadsbesluit van die soewereine God, en het niks te doen met ‘n aksie wat die mens eers moet uitvoer nie.
Tog is dit hartseer dat dit deesdae nie die oortuiging van baie is nie. Die gewilde siening in die kerke van ons dag is blykbaar dat uitverkiesing afhang van die wil van die mens en nie van God nie. Uitverkiesing hang af van die mens se daad om Christus aan te neem. God kies diegene wat Hom eers kies. Hierdie siening het sy oorsprong in Nederland, en was aanvanklik voorgehou in die jaar 1610. Sy invloedrykste voorstaander op daardie stadium was ‘n man genaamd Jacobus Arminius. Sedert sy tyd, het hierdie dwaling aangaande die uitverkiesing sinoniem met sy naam geword. Dit word Arminianisme genoem.
Arminius self het aangaande sy siening oor uitverkiesing geskryf: “Maar dit [uitverkiesing] verwys na die besluit waardeur God bepaal om die saligheid aan iemand te skenk, as geloof vooruitgesien word voor die verkiesing. Want, aangesien net gelowiges gered word, word net gelowiges uitverkies tot die ewige lewe. Maar die Skrif verwys nie na ‘n uitverkiesing, waardeur God presies en absoluut bepaal het om iemand te red sonder om hom eers as ‘n gelowige in ag te neem nie. Want so ‘n verkiesing sou verskil van die besluit waardeur Hy bepaal het om net gelowiges te red” (Writings of Arminius, vol. 1, p. 380).
Uit die aard van die saak praat Arminianisme van ‘n voorwaardelike uitverkiesing. Arminianisme wil nie sê dat God kies, en daarom glo ons nie; maar dit sê dat God diegene kies wie se geloof Hy vooruit gesien het. Arminianisme hou vol dat uitverkiesing afhang van ‘n positiewe reaksie van die mens. Wanneer die mens God aanneem en daarin volhard, dan sê God: “Ek sal jou kies.” Miskien kan die idee van Arminianisme soos volg uitgebeeld word: Veronderstel iemand plaas ‘n gewig van 500 kilogram voor jou en beveel jou om die 500 kilogram tot bo jou kop op te tel. Jy sou tereg sê: “Ek kan nie.” Maar as hy jou ‘n goeie stel katrolle gee en die tou styf aan die gewig vasmaak, en jou dan weer beveel om die gewig op te tel, sou jy nou nie meer kon sê: “Ek kan nie.” Jy moet eerder sê: “Ek wil” of “Ek wil nie”. Uit die aard van die saak is dit nou binne jou vermoë om die gewig op te tel. Dit is op hierdie manier wat Arminianisme na die sondaar kyk. Toe die mens val, kon hy niks doen nie. Hy kon Christus nie aanneem nie. Hy kon nie glo nie. Maar toe het God aan almal ‘n gawe geskenk (vergelykbaar met die stel katrolle in die voorbeeld), sodat dit binne alle mense se vermoë is om te glo as hulle wil. Maar as hulle weier, is hulle vir ewig verlore.
Wat moet ‘n mens sê van die lering van Arminianisme? Dit behoort duidelik te wees dat Arminianisme in wese die soewereiniteit van God ontken. Dat God soewerein is, beteken bloot dat Hy God is: Hy regeer oor hemel en aarde. Hy sal nooit sy mag afstaan aan enige skepsel nie. Hy bestier alle dinge volgens sy raad. God regeer. Die siening van Arminianisme ontken dit. ‘n Arminianis sal aandring daarop dat hy saamstem die sondaar word gered deur genade. Maar moenie miskyk dat, volgens Arminianisme, elke sondaar die genade van God het nie. Wat maak een mens dan verskillend van die ander? Nie God se genade nie, maar die wil van die mens wat òf God se genade aanneem òf verwerp. Een gebruik sy wil vir Christus, ‘n ander teen Christus. Die bepalende faktor oor wie uitverkies is, berus dan op die mens se daad. So ‘n lering ontken die soewereiniteit van God, want dan moet die soewereine, oneindige, ewige God in die hemel sit en wag vir die besluit van die mens om uit te vind wie sy Koninkryk sal beërwe en wie nie. Dit is ‘n verskriklike fout.
Calvinisme volstaan by die skriftuurlike waarheid dat God onvoorwaardelik ‘n volk vir Homself uitkies van alle ewigheid af. Nie net Johannes Calvyn nie, maar ook die vroeëre kerkvaders, het dit beklemtoon. Augustinus (354-430), het verklaar: “Geloof is daarom, van begin tot by volmaaktheid, ‘n gawe van God. En hierdie gawe word aan sommige gegee en aan ander nie. Wie dit ontken veg teen van die duidelikste getuienisse van die Skrif. Maar waarom geloof nie aan almal gegee word nie behoort die gelowige nie te pla nie, want hy weet dat alle mense deur die sonde van een verdoem is. Maar waarom God een persoon van die verderf red en nie ‘n ander nie, is deel van sy onnaspeurlike oordele. En ‘sy weë is onnaspeurlik.’ En as ondersoek word en navraag gedoen word hoe dit gebeur dat elkeen wat die geloof ontvang, deur God waardig geag word om so ‘n gawe te ontvang, is daar diegene wat sal sê: ‘Dit is deur hulle menslike wil.’ Maar ons sê “dit is deur die genade, of Goddelike uitverkiesing.”
Augustinus se siening was stewig gegrond op die Skrif. Deurgaans leer die Skrif dat uitverkiesing nie gegrond is op enige werk of daad van die mens nie. Hd. 13:48 sê: “En daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Wat is dan nou eerste: Geloof of verordinering? Duidelik die tweede. Ook lees ons in Jn. 15:16: “Julle het my nie uitverkies nie, maar ek het julle uitverkies en aangestel om vrug te dra …” En in I Jn. 4:10: “Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.” Uitverkiesing is sekerlik onvoorwaardelik volgens die lering van die Skrif.
Vind u troos in so ‘n waarheid? Sommige beweer dat hierdie lering geen troos bied nie. Want, sê sommige, as jy die uitverkiesing glo, is die gevolg dat jy baie roekeloos en heidens sal lewe op hierdie aarde. As God van ewigheid af bepaal het dat ‘n persoon hemel toe gaan, watter verskil maak dit dan wat hy doen? As hy wil sondig, sal hy steeds gered word. Al doen hy geen goeie werke nie, word hy in elk geval gered. So het baie hierdie waarheid van die uitverkiesing valslik voorgestel!
Maar dit is ‘n verdraaiing van hierdie leer. Dit is waar: God het vrylik, ewig, soewerein bepaal dat sy volk die heerlikheid sal ingaan. Onder daardie getal mense is die dief aan die kruis—‘n verskriklike sondaar. Onder hulle is Petrus wat Christus drie maal verloën het. Onder hulle is ook ons—ook vreeslike sondaars. Maar laat die leer van die uitverkiesing ‘n mens toe om te sondig as hy sou wou? Die Skrif leer dat God ons gekies het sodat ons heilig en sonder skuld kan wees (Ef. 1:4). Lees ook Ef. 2:10. Uitverkiesing bring vrugte voort: Waar daar geen vrugte van geregtigheid is nie, is daar geen bewys van uitverkiesing nie. Weë die een wat waag om te sê: “Ek sondig omdat dit nie ‘n verskil maak nie—ek is reeds uitgekies of verlore.” Om die woorde van Christus te parafraseer: Op die oordeelsdag sal dit meer draaglik wees vir iemand wat nooit die waarheid van die uitverkiesing gehoor het nie, as vir iemand wat dit geken het en dit gebruik het as ‘n verskoning om te sondig!
Die hartseer situasie vandag is dat baie Gereformeerde mense hierdie lering verbloem. Hulle glo dit is te moeilik vir die gewone mense—en mens moet tog nooit daarvan praat op die sendingveld nie. Maar die Skrif steek nooit die waarheid van die uitverkiesing weg nie—dit word duidelik geleer. Trouens, Paulus skryf daaroor in besonderhede aan die kerke van Rome en Efese. Hierdie kerke het grootliks bestaan uit heidene wat nog nooit met die Woord van God in kontak gekom het nie. Hulle word geleer van die uitverkiesing. As dit toe nie te moeilik was nie, kan dit vandag te moeilik te wees vir mense in ‘n opgevoede gemeenskap?
Wat van uself? Is u een van God se uitverkorenes? Dit is ‘n vraag wat vir baie mense al probleme veroorsaak het. Is u bekommerd oor u uitverkiesing—waarlik bekommerd? Die verlore bose mense gee nooit om of hulle uitverkies is of nie. Hulle ontken God se Woord. Maar as u bekommerd is oor u uitverkiesing, dan gee u alreeds genoeg bewys in u lewe en hart van die vrug van uitverkiesing.
Nog net ‘n paar vrae. Glo u in die Here Jesus Christus? Het u sy Kerk en sy Waarheid lief? Haat u al u eie sonde? Dan is daar eintlik geen kwessie nie, is daar? U sien binne uself die vrug en bewys van die uitverkiesing. U is steeds ‘n sondaar net soos al God se kinders. Soms wonder ons “Hoe kan God iemand soos ek kies?” Tog is die vrugte van die uitverkiesing duidelik. As u glo, het u die bewys dat God u van ewigheid af uitverkies het in Christus. Hy het dit nie gedoen omdat u glo nie, maar u geloof is die bewys dat Hy u gekies het. Glo u? Dan is u geseënd, want u het ook deel aan die koninkryk van die hemel.
(Vertaal deur Adi Schlebusch. [email protected]. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)