Menu Close

Die Soewereine Saligmaker / The Sovereign Saviour

      

Ds. Steven Houck

Aangesien God die soewereine koning oor die hele wêreld is, moet ons ook erken dat Hy die soewereine Saligmaker is. Hoe teenstrydig sal dit nie wees as ons God erken as die grote God, maar Hom nie erken as die Verlosser wat sy volk deur soewereine genade alleen verlos nie. Dié twee kan nie geskei word nie. As God die soewereine Verlosser is nie, kan Hy nie die Soewereine Koning wees nie. Die Psalms maak dit baie duidelik dat God inderdaad die soewereine Verlosser is. Want die Verlosser IS die soewereine Koning. Die Verlosser is die grote God wat alle dinge geskape het, wat alle dinge in stand hou en regeer. Daarom sê die Psalm skrywer: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” (Ps. 121:1-2). Die volk van God vind hulle hulp by die Verlosser wat die wêreld geskape het. Die krag van die verlossing is die krag van die soewereine Skepper.

Daarom word God in die Psalms geprys as die kragtige, almagtige Redder wat van elke vyand verlos. Beleef elke Christen nie vreugde saam met die Psalm skrywer nie wanneer hy sing, “Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting” (Ps. 18:2-3). Al hierdie woorde teken God as ‘n kragdadige en magtige God en sterk Verlosser. Hy is ‘n vaste rots. Hy is ‘n vesting, en ‘n hoë toring. Die Verlosser is die skild wat Sy volk teen alle vyande beskerm. Niks kan deur die verdediging waarmee God sy volk omring het, breek nie. Die Psalmskrywer ag God so soewerein in redding dat hulle Hom volkome vertrou het. Die Psalmskrywer sê dan ook, “Die HERE is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?“ (Ps. 27:1).

Die vertroue in die soewereine Verlosser word nie alleen in lofsange uitgedruk nie, maar ook deur gebede. Die Psalms is vol van gebede waarin God gevra word om hulp en redding. Ons lees, “Uit die dieptes roep ek U aan, o HERE!  Here, hoor na my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge.  As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word. Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord” (Ps. 130:1-5). Die Psalmskrywers was sondaars soos die hele volk van God. Hulle het ook geweet dat as God hulle sondes in ag neem, hulle nie staande sou bly nie. Maar deur geloof het hulle vertrou dat God hulle kan en wil red. Hulle het nie gewag op hulle eie wil of werke nie. Ook het hulle nie na ander gewend vir hulp nie. Hulle sekere hoop was op God alleen gevestig. Hulle het net van een Redder geweet, en dié Redder is Jehovah God. “Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie” (Ps. 62:2-3).

Redding is die werk van genade van God alleen. Dit is die werk van die SOEWEREINE genade van God. Die Psalmskrywers het geen genade geken wat deur die mens verdien of deur die wil van die mens aanvaar moet word nie. Verlossing is nie afhanklik van wat die mens doen nie, maar is geheel en al gegrond op die getrouheid van die Verbondsgod. Die volk van God word gered alleenlik omdat God Sy verbond met hulle gesluit, en beloof het om hulle te verlos. Die volk van God is verheug en sing, “Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag. Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele—daar bevestig U u trou. Ek het ‘n verbond gesluit met my uitverkorene, met ‘n eed aan Dawid, my kneg, belowe” (Ps. 89:2-4). Die verbondstrou van God sal nimmer faal nie Selfs wanneer die volk van God die verbond verbreek, bly God getrou. Hy red hulle ten spyte van hulle ontrouheid, deur die beloofde Saad. Hy belowe, “Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas. En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel. As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie; as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie” (Ps. 89:29-35).

Dit is dus die soewereine Redder wat Sy volk regenereer, bekeer, regverdig maak, heilig, behou en verheerlik. Dit was die oortuiging van Koning Dawid soos blyk uit Psalm 51. Na wie keer Dawid hom te midde van sy groot sondes? Voel hy getroos omdat hy iets vir sy redding gedoen het? NEE! Hy bid, “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid” (Ps. 51:3). Hy pleit om Gods’ genade. Hy kyk nie na homself nie, want hy erken, “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Ps. 51:7). Hy is ’n sondaar. Hoe kan hy homself red? Daarom soek hy sy redding in soewereine genade. God moet vir hom ‘n “rein hart skep” en “in die binneste van (hom) ‘n vaste gees” gee. Net God kan aan hom weer die vreugde van Sy heil gee en hom deur Sy Gee ondersteun. God alleen kan as hy rein wil wees hom met hisop “ontsondig” en hom “was” dat hy witter kan wees as sneeu. Hy weet dat sy redding God se werk alleen is en daarom sê hy, “o God, God van my heil!” (Ps. 51:16). Ons vind dit oral in die Psalms. Te midde van sonde steun die Psalmskrywers op die soewereine genade van God. Want die hele lewe van die gelowige word deur God en sy genade bestuur en beheer totdat Hy hom eindelik die volle saligheid gee. Daarom kan alle gelowiges sê, “U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem” (Ps. 73:24).

Hierbenewens leer die Psalms ons dat redding nie van die mens se keuse afhang nie maar van die soewereine keuse van God. Die deurslaggewende faktor in redding is die wil van God. Die Psalmskrywer praat op vele plekke van die uitverkiesing van God. “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het” (Ps. 33:12). In die ewige en onveranderlike raad van God, het sekeres uitverkies om sy volk te wees wat Hy red. “Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom” (Ps. 135:4). Hy red nie almal nie. God was nooit van voorneme om almal te red nie.

Hy red net diegene wat hy gekies het. God het net een volk as sy “eiendom”. Die ander weet nie van sy verlossing nie. Hy laat sy genade, goedertierenheid en liefde net vir sy uitverkore volk toekom. Vir die bose het hy net toorn. Daarom praat die Psalskrywer, wanneer hy van God praat, “U haat al die werkers van ongeregtigheid” (Ps. 5:6). “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet” (Ps. 11:5). God se soewereine uitverkiesing het dwarsdeur die ou bedeling geblyk uit die feit dat Hy Sy Woord net aan Sy volk gegee het. “Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!” (Ps. 147:19-20).

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons