Ds. Angus Stewart
Baie mense vind dit moeilik om die lyn te trek tussen die sewe gemeentes van Openbaring 2-3. Ek begin daarom met vier eenvoudige feite in verband met die gemeente in Thiatíre (2:18-29). Eerstens was Thiatíre die kleinste dorp of stad van dié wat in Openbaring2-3 genoem word. Tweedens is die brief van Christus aan dié gemeente die langste van dié in Openbaring 2-3, hoewel hierdie gemeente die kleinste was van die sewe stede. Éfese kry 7 verse (2:1-7), Smirna kry 4 (8-11), Pergamus 6 (12-17), Sardis 6 (3:1-6), Filadelfía 7 (7-13), en Laodicéa kry 9 (14-22). Thiatíre kry ʼn bielie van 12 verse. Derdens was Thiatíre die stad van Lídia, “ ʼn purper verkoopster,” wie se hart die Here geopen het, wie se huisgesin gedoop is en wat Paulus en sy metgeselle gehuisves het (Handelinge 1614-15, 40). Vierdens was Thiatíre die kerk van “die vrou Isébel” (Openbaring 2:20).
Daar het ons dit dan: die kerk in Thiatíre was in (a) die kleinste stad, tog (b) ontvang dit die langste brief; dit was ʼn gemeente bekend vir twee vroue, (c) Lídia, haar werklike naam word in Handelinge 16 genoem, en (d) Isébel, háár “geestelike” naam word in Openbaring 2 genoem.
Die eerste sterk punt van die kerk in Thiatíre wat die Here Jesus Christus uitlig, is liefde: “Ek ken jou … liefde” (19). Waar die uitstaande, positiewe kenmerk van Éfese, arbeid, geduldige arbeid, selfs deur vals apostels te bearbei (1-3, 6) was, was die grootste deug van die gemeente van Thiatíre, hulle liefde.
Hulle liefde was vir die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees. Hulle het Jesus Christus liefgehad wat hulle liefgehad het en met sy kosbare bloed vrygekoop het. Hulle het mekaar, as broeders en susters in die Here, liefgehad; hulle het hulle naaste liefgehad; hulle het selfs hulle vyande liefgehad, vir hulle redding gebied en aan hulle goed gedoen.
Wat ʼn mooi, eervolle vermelding wat deur die Seun van God self uitgespreek word: “Ek ken jou liefde!” sou Hy dit van ons kerke sê? Getuig ons gemeentes van die eerste van die negevoudige vrug van die Gees (Galasiërs 5:22-23)? Is ons kerke voorbeelde van die liefde van 1 Korinthiërs 13?
Die tweede deug van die Thiatíriese gemeente was haar diensbaarheid: “Ek ken jou werke … en diens” (Openbaring 2:19). Die heiliges het mekaar bedien, soos gewillige slawe van Christus wat die Here dien.
In vandag se terme kan dit die lidmate insluit wat graag aan ander ʼn saamry geleentheid kerk toe gee, tee bedien by vergaderings of kospakkies vir die siekes bring, diegene in nood besoek, ywerig help met die verskeidenheid bedieninge van die gemeente, hulp verskaf aan jong moeders of die bejaardes ens. Hulle houding was nie: “Moet ek regtig! Daar is tog seker iemand anders wat dit kan doen!” In die kerk van Thiatíre het die lidmate daaraan geglo om mekaar te help en dit was dan ook hulle gebruik; heilige diens as ʼn koninkryk van priesters, wat in die naam van Christus in harmonie saamwerk as een liggaam.
Die bron van hulle diensbaarheid was hulle liefde: “Ek ken jou … liefde en diens” (19). Vanweë hulle Christelike liefde is hulle gewillige vrywilligers in diens van die Drie-enige God en van mekaar. Vanweë hulle liefde wil hulle hê ander moet by hulle aansluit in aanbidding van die Here, en só het hulle geëvangeliseer en gewerk om ander onder die geklank van die Woord van God te bring, sodat dié ook kan glo aan Jesus Christus, die gekruisigde.
Wat van ons? “Ek ken hulle liefde en hulle diens, want hulle het My lief, hulle is ʼn diensbare gemeente.” Is dit wat Jesus Christus in die hemel van ons gemeentes sê? En wat van elkeen persoonlik? Watter diens betoon jy aan jou mede-heiliges? Hoe help en versorg jy hulle uit Christelike liefde?
Die derde aangename kenmerk van die gemeente in Thiatíre is hulle getrouheid: “Ek ken jou … liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid” (19). In die verloop van die vers staan “geloof” saam met “lydsaamheid,” wat dui op die volhardende getrouheid in hulle liefdesdiens, uit liefde vir die lewende God en vir hulle naaste.
Die ampsdraers en lidmate van die kerk in Thiatíre was getrou in hulle liefdesdiens, in die klein dingetjies én in groot dinge. Hulle bewys trou teenoor al die heiliges, nie net teenoor die meer aantreklike dele van die liggaam nie, maar ook aan die minder aantreklike. Die prysenswaardige motto van die gemeente in Thiatíre was: “Getroue liefdesdiens!”
Wat dink u van dié kerk? Sou u ʼn lidmaat van ʼn kerk soos dié in Thiatíre wou wees? Miskien dink u dat u sou kon doen met sulke diens en hulp, en miskien het u dit ook regtig nodig. Die vermaning wat hier geïmpliseer word, is dat ons ander moet dien, in die besonder ons medegelowiges in Jesus Christus, wat ons geleer het: “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie” (Matthéüs 20:27-28).
Dit is ʼn hoë roeping, dié van diens in navolging van ons Verlosser, maar dit is die roeping van elke Christen en elke lidmaat van die ware kerk. ʼn Vroom Christelike lewe en ʼn lewe van getroue kerklidmaatskap is nie maklik nie, maar dit lei na volkome blydskap met die Here in die hemel, en groot vrede en seën hier benede!
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (OAV) van 1933/53.