Ds. Angus Stewart
Ons het in die vorige uitgawe van die News gesien dat die kerk van Thiatíre (Openbaring 2:18-29) deur drie gawes gekenmerk word: liefde, diens en geloof. Die Here Jesus Christus noem ook ʼn vierde eienskap van hierdie gemeente, haar lydsaamheid: “Ek ken jou … liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid…” (19).
Volharding is ʼn wonderlike gawe in gelowiges en lidmate van die kerk. Die oorspronklike Griekse woord in ons teks beteken ook om te volhard, “te bly dra”, om onder ʼn las wat die Here daargestel het, te bly, sonder om daaronder te swig. ʼn Gemeente wat volhard is ʼn gemeente wat by sy roeping hou en voortstu in sy gehoorsaamheid aan die lewende God, sonder om mismoedig te word, tou op te gooi of te kompromitteer.
Hierdie geestelike genade is in die besonder vir ampsdraers in die kerk nodig, maar dit moet ook ʼn eienskap wees wat in al die lede van die liggaam van Christus gesien kan word. Diegene wat nie met vroomheid in hulle kerklike lewe volhard nie, bereik min in die koninkryk van God en hulle lewe is gevul met knaende spyt en onvergenoegdheid.
Dit is betreklik maklik om jou deel te doen as die son skyn en jy van alle kante met applous begroet word. Die genade van volharding is egter onmisbaar om jou mede kerkgangers jaar en jaar uit lief te hê, selfs al ervaar jy al hoe meer van hulle hinderlike gewoontes en swakhede.
Ons moet ook in ons diens aan die kerk volhard, self al ontvang ons min dank, al word ons sleg behandel of ons sien ons min vrug op ons arbeid, al groei die kerk nie, of word selfs kleiner.
Elke kerklidmaat moet in getrouheid volhard. Ons moet nie toegee aan wanhopige gedagtes soos: “Ek voel regtig nie daarna om dit meer te doen nie. Niemand sal tog sien as ek ophou of minder kerk werk doen nie. Ander mense bring nie hulle kant nie, hoekom moet ek omgee?”
Dit moet vir ons almal duidelik wees waarom ons in die liggaam van ons Here Jesus Christus arbei! Ons eerste motivering moet ons liefde wees vir die drie-enige God, uit dankbaarheid vir sy groot verlossing van ons sondes deur die kruis van ons Redder, die vleesgeworde Seun van God. Wat ons in ons diens dring, moet nie die begeerte om deur mense gesien of geprys te word, soos die Fariseërs (Matthéüs 6:1-18), wees nie. Ons maatstaf is nie die optrede van ander kerklidmate nie, laat staan nog die swakkes in die gemeente. Ons maatstaf is die geïnspireerde en heilige Woord van God!
Volhard daarom in liefde vir die heiliges; volhard in diens in die kerk; volhard in getrouheid aan jou roeping as ʼn lidmaat van ʼn ware openbaring van die liggaam van Christus! Ons sien hier hoedat die vierde eienskap van die kerk van Thiatíre die ander drie kwalifiseer.
ʼn Vyfde eervolle vermelding in verband met die gemeente van Thiatíre is sy “werke:” “Ek ek ken jou werke … en jou werke” (Openbaring 2:19). Die vers noem “werke” twee maal. Die eerste keer verwys dit in die algemeen na alles wat die gemeente doen; die tweede keer na goeie werke.
Watter vereistes stel die oneindig heilige en regverdige God vir goeie werke? Eerstens is die oorsprong daarvan in liefde vir die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Tweedens is die maatstaf daarvoor die wet van Jehova. Derdens is die doel daarvan die verheerliking van die God van die verbond. Die aard van die goeie werke wat in ons teks bedoel word, is in die besonder diens in die gemeenskap van die gelowiges, en die eienskappe van daardie diens sluit getrouheid en volharding in.
Die Here Jesus Christus self sê van Thiatíre: “Ek ken jou goeie werke!” Wat ʼn eervolle ding om te sê! Hoe aanmoedigend!
Hierby voeg ons Here ten einde ʼn belangrike stelling: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste” (vs. 19). Die beklemtoonde woorde verwys na die werke, die goeie werke, van Thiatíre — nie na die inhoud (as sulks) nie, maar na die hoeveelheid daarvan.
Christus sê hier vir die gemeente dat hulle goeie werke van liefdevolle, getroue, volhardende diens verrig, en dat die goeie werke meer is as aan die begin! Doen jy meer goeie werke as verlede jaar? As vyf jaar gelede? As tien jaar gelede? Al sê jy “ek weet nie,” Christus weet!
Deur die genade van Jehova het Thiatíre meer goeie werke gedoen. Hulle was “standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here” (1 Korinthiërs 15:58). En hulle het in hulle goeie werke meer en meer gegroei! Sekerlik sal groot beloning van die vrygewige God aan sulke mense gegee word — die beloning van genade, soos dit tereg genoem word!
Christus sê dat aan hulle “wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar” ʼn buitengewoon groot en waardevolle beloning gegee sal word. Die Here Jesus praat van al sewe die kerke in Openbaring 2-3 as “hom/hy wat oorwin,” maar net van Thiatíre sê Hy “en my werke tot die einde toe bewaar.”
Ons sien hier dat die goeie werke van die kerk in Thiatíre — die heiliges se liefdevolle, getroue, volhardende diens in die kerk — die werk van Christus genoem word! Hy het hierdie werke in elke lid van die gemeente, oor baie jare, gedoen. Dit is sy werke, want hulle is deur die kerklidmate gedoen deur Christus se eie Gees, wat Hy aan die kruis vir sy volk verwerf het.
Ook ons moet verstaan, geliefdes, dat ons goeie werke die werk van Christus is. Christus werk geestelik in die harte en lewens van gelowiges in ware kerke, so dat hulle hul mede-heiliges getrou in liefde kan dien. Hoe wonderlik is dit nie!
Christus self belowe en gee beloning aan almal wat oorwin en sy werk tot die einde toe bly doen. Ons sal, DV in die volgende uitgawe van die News, na ons genadige en ryk beloning kyk.
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.