Menu Close

Die onveranderlike God / The Unchangeable God

   

Ds. Angus Stewart

In ‘n wêreld waarin verandering, dikwels ontstellend en selfs vernietigend, plaasvind, is dit die groot troos van die gelowige om te weet dat hy die onveranderlike God ken en dien. Met afdankings en onsekerheid in ons werk vooruitsigte, fluktuasies in die aandele markte, besorgdheid oor ons gesondheid en die van ons geliefdes, revolusies in die Arabiese lande en vrees vir die toekoms, word ons ondersteun deur dié waarheid: “Want Ek, die HERE, het nie verander nie” (Mal. 3:6).

Jehovah is die groot, almagtige, alwetende, alwyse God in wie daar absoluut geen veranderlikheid, of selfs ‘n “skaduwee van omkering is nie” (Jakobus 1:17). Hy alleen kan Homself verklaar, ““EK IS WAT EK IS” (Eks.3:14). Hy is altyd Drie-enig (as die Vader en die Seun en die Heilige Gees); altyd volkome geseën, ryk en volmaak, altyd soewerein, wat gesag voer oor, en alle dinge in die hemel, op die aarde en in die seë regeer (Ps. 135:6). Hy is altyd onveranderlik in sy menigvuldige voortreflikhede, regverdige wil, heerlike doelstellings en getroue beloftes in die Here Jesus.

Die Allerhoogste se goedertierenheid vir sy eie volk in Christus “is tot in ewigheid” soos Psalm 136 dit in elke vers bevestig! Die werk van genade sal voleindig word in elkeen van die skape van Christus tot op die dag van Jesus Christus (Filippense 1:6), want “die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik” (Rom 8:30). Die oneindige mag en genade van God is die belofte vir die verdediging en bewaring van sy uitverkore kerk (Ps. 125:1-2), die doel van die onophoudelike sorg van Hom wat nie “sluimer of slaap nie” (Ps. 121:4).

Selfs die ontsettende sondes van sy volk laat Jehovah se goedertierenheid teenoor ons nie verander of afkoel nie, om nie te praat van oorgaan in haat nie. Inteendeel, uit Sy groot liefde vir ons, tugtig Hy ons, soos ‘n vader sy kind, om ons van ons sondes te bekeer en weer sy genade in die vergewing van ons sondes te ervaar (Heb. 12:5-11). Soos Maleági dit stel: “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob (ten spyte van julle baie gruwelike oortredings) , is nie verteer nie” (3:6).

Dit is ons troos dat niks die uitverkore, gelowige volk van Jehovah kan skei van die onveranderlike liefde van God in Christus Jesus ons Here nie (Rom. 8:35-39). Almal wat Christus liefgehad het, het “Hy liefgehad tot die einde toe” (Joh. 13:1) selfs tot aan die bitter en skandelike dood aan die kruis waar die seun van God sy lewe gegee het vir die skape wat die Vader Hom gegee het. As die tweede Persoon van die Heilige Drie-eenheid, is Christus Jesus “gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb 13:8), en aangesien Hy nie verander nie word ons nie – en kan nooit – vernietig nie!

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons