Menu Close

Die Onveranderlike God / The Unchangeable God

    

Ds. Angus Stewart

(1)

Verandering is ‘n wesenlike deel van ons geskape en gevalle wêreld. Daar is veranderinge in die weer, die ekonomie en tegnologie. Sommige veranderings by volke is in besonder angswekkend en selfs dodelik: oorloë, sieketes en hongersnode. Ons sou kon sê dat byna alle nuus oor verandering gaan.

Dink aan die baie veranderings in jou eie lewe. Jy was eens ‘n klein ongebore babatjie in jou moeder se uterus. Nege maande na bevrugting is jy gebore. Van baba na kleuter en deur jou tienderjare het jy gegroei totdat jy ‘n volwassene geword het. In die ouderdom begin ons hare dun word of val uit en ons krag kwyn.

Daar is veranderinge in mens se familielewe, soos om uit jou ouerhuis te gaan om universiteit toe te gaan of om met jou eerste werk te begin. Menslike lewe hou gewoonlik in dat mens trou en kinders kry en hulle uit die huis weggaan. Later jare bring vir baie van ons kleinkinders, rou en selfs weduweeskap. Daar is ook ander veranderings, soos werkloosheid of gesondheidsprobleme, vir jou of jou geliefdes of albei!

Ons ervaar ook groot veranderings, op óf af, in hoe ons voel: kwaad, hartseer, gespanne op een stadium, maar dan weer kalm, bemoedig, opgewonde of vreugde, volg op ‘n ander. Ook in ons verhouding met die God van ons heil is ons soms na aan Hom en dan weer lyk dit of ons vêr weg is.

Die skrywer van Psalm 102 skryf baie oor verandering, spanningsvolle verandering. Die opskrif lui, “n Gebed van ‘n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE.” Hy is deur sy “vyande” gesmaad (9) en was “benoudheid” te wagte: “Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos ‘n vuurherd.  Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet. Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees” (4-6). Die swaar hand van God was op hom. Al sy smart was “vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp” (11). Op verskeie maniere wys Psalm 102 ook daarop dat die kerk ook donker dae beleef. Die troos van die psalm skrywer is in besonder een heilige eienskap van God: God se onveranderlikheid en volmaaktheid. Hieruit kan ons ook leer!

Die onveranderlikheid van God word hier baie sterk gestel, nie net teenoor die ontwrigtende veranderings vir die psalmis en die kerk nie, maar selfs teenoor die twee dinge wat in ons wêreld so stabiel voorkom. Wat is hulle? Die aarde onder ons en die hemel bo ons. Onder ons is die aarde solied en ferm. Die dinge op die aarde verander: bome verloor hulle blare, diere gaan dood en huise word op oop stukke grond gebou. Maar die aarde self bly onveranderd. Die hemele is ook ‘n model van konstantiwiteit. Ja, wolke beweeg in die lug en die son, die maan en die planete beweeg in die buitenste ruimte, maar die hemele self bly grootliks onveranderd.

Maar selfs die hemele en die aarde verander, naamlik aan die begin van ons tyd en aan die einde daarvan. Die hemel en die aarde is geskape, uit niks tot stand gebring. “In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande” (26). Beide hemel en aarde gaan radikaal verander word met die tweede koms van Jesus Christus: “Húlle sal vergaan … ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn” (27). Hulle gaan nie uitgewis word nie, maar vernuwe word tot die nuwe hemel en die nuwe aarde (Jesaja 65:17; 66:22; II Petrus 3:13; Openbaring 21:1).

Die hemel en die aarde is deur die Almagtige uit niks geskape (Psalm 102:26) en sal in heerlikheid vernuwe word aan die einde van hierdie tyd, “maar U sal bly” (27), want Jehovah is die onveranderlike God! Die Allerhoogste “sal bly” soos Hy in sy ewige tydloosheid as die ongeskape Skepper was en is. Daar was absoluut geen verandering in Hom in die verlede nie en daar sal ook nooit in die toekoms wees nie. Hy is onveranderlik voor die skepping, na die skepping, in die dae van die psalm skrywer, in ons tyd, én wanneer Hy die hemel en die aarde op die laaste dag verander. “U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk … . Maar U bly dieselfde …”(27-28).

Jakobus sê, “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” (1:17). “Verandering” het hier ‘n sterrekundige betekenis, met verwysing na die hemelliggame. Selfs die sterre verander, word meer of minder, maar by God is daar “geen verandering” nie. “Skadu van omkering” kom ook uit die wêreld van astronomie. Hemelliggame het skaduwees, soos is daar skaduwees op die maan. By God is daar geen veranderlikheid nie, nie eens ‘n “skadu van omkering” nie. Hy is tewens “die Vader van die ligte.” Dit is nog ‘n toespeling op die astronomie, dié keer op die son. As die ewig geseënde en volmaakte God, is Hy “lig, en geen duisternis is in Hom nie” (1 Johannes 1:5). By die God wat lig is en “die Vader van die ligte”, kan daar geen “verandering” of selfs ‘n “skaduwee van omkering” wees nie, want Hy is volkome en oneindig onveranderlik.

Maleági 3:5 praat van die towerye, egbreuk, meineed, verdrukking en gebrek aan vrees van die Here in Israel. Hierby kan ons die sondes van die kerk van alle eeue en ons eie ongeregtighede voeg. As daar ooit ‘n rede was vir God om te verander deur op te hou om die kerk lief te hê en dit te begin haat, is dit hier. Maar wat lees ons? “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie” (6). Dit is sekere bewys dat die ware en lewende God absoluut onveranderlik is! Ons redding in Christus is vir ewig seker, want die God van die ewige uitverkiesing, ontwyfelbare verlossing en onweerstaanbare wedergeboorte sal nie en kan nie verander nie.


(2)

Benewens spesifieke tekste – Psalm 102:27, Jakobus 1:17 en Maleági wat in die vorige artikel aangehaal is – is daar een besondere heilige naam wat God se onveranderlikheid leer. Weet jy watter een dit is? Jehovah!

Die naamwoord Jehovah kom van die Hebreeuse werkwoord wat beteken “ek is.” Dit is die heilige naam wat die engel van die Here aan Moses verduidelik het by die brandende braambos op die berg Sinaï: “EK IS WAT EK IS” (Eksodus 3:14). Ek en jy kan dit nooit van onsself sê sonder die ergste vorm van afgodery nie, die engel Gabriël kon dit nie sê nie; geen skepsel kan dit ooit sê nie. Net die Almagtige God kan, en Hy doen dit! Hy is altyd Homself. Ewiglik. Hy is altyd wat Hy was en is en sal wees: self bestaande, absolute en onveranderlike “Ek is wat Ek is.”

Kom ons bring nou hierdie heilige naam in verband met die drie tekste vroeër genoem. “Want Ek, die HERE [dit is Jehovah, die onveranderlike Ek is wat Ek is], het nie verander nie” (Maleági 3:6). Van Homself, as Jehovah, së Hy “Ek is wat Ek is” en die kerk reageer met aanbidding, “U bly dieselfde” (Psalm 102:28). As Jehovah, die Een wat altyd en vir ewig presies is wat Hy is, noem Jakobus 1:17 Hom tereg “die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

Benewens besondere verse van die Skrif (in besonder die drie waarna tweemaal hierbo verwys is) en die naam Jehovah, is daar een beeld of figuur wat van God gebruik word, wat in besonder op Sy onveranderlikheid betrekking het. Hy is die rots. Soos Dawid sê, “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.” (Psalm 18:3) – om maar net een voorbeeld uit die Woord van God aan te haal. Ons Verbondsgod is ferm, konstant, sterk, betroubaar, getrou, onbeweeglik en onveranderlik, soos ‘n rots!

Ons God is nie ‘n verkleurmannetjie wat met sy omgewing verander nie. Hy is nie ‘n weerhaan wat in die wind beweeg nie. Hy is “Die [onveranderbare] Rots” en al sy “werk” en “weë” is “volkome” “regverdig en reg” (Deuteronómium 32:4).

Kom ek gee een eenvoudige argument wat illustreer dat die Allerhoogste onveranderlik moet wees en is. As iets verander, moet dit of ten goede of na die verkeerde verander. Maar God kan nie ten goede verander nie wat Hy absoluut perfek. Hy kan ook nie na die slagte verander nie want dan sou Hy minder as volmaak wees.

Kort gestel, die waarheid van God se onveranderlikheid is absoluut, benewens die ontwyfelbare feit dat Jehovah oneindig heerlik is. Daarom is dit wat nie onveranderlik is nie, nie God nie. Wanneer God Hom aan Moses openbaar, het Hy gesê “my Naam [is] HERE”, want “EK IS WAT EK IS” (Eksódus 6:3; 3:14).

Waarin is onveranderlik? Hy is in Homself onveranderlik. Dit sluit in, ten eerste, sy onveranderlikheid in Sy Persone. Jehovah is Drie-enig, bestaande in drie heilige Persone, die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat gelyk is in krag en heerlikheid en ewig in die saligheid van verbondsgemeenskap lewe.

God het nie Drie-enig geword by die skepping of met die vleeswording van die Seun of met Pinkster, toe die Heilige Gees op die Nuwe Testamentiese kerk uitgestort is nie. God bestaan ewig en onveranderlik in drie Persone – Vader, Seun en Heilige Gees – soos Hy gesê het, “Want Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleági 3:6).

Tweedens is God onveranderlik in sy eienskappe of dan sy deugde. Hy verander nie in tyd nie, want Hy is ewig, of ruimte nie, want Hy is alomteenwoordig. Hy neem nie toe of neem nie af in kennis nie, want Hy is alwetend. Hy groei of neem nie in enigiets nie, want Hy is oneindig. Die Westminster Kort Kategismus som die waarheid op: “God is ‘n Gees, oneindig, ewig, en onveranderlik, in sy wese, wysheid, krag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid” (A..4). Ons herhaal met ontsag die geïnspireerde woorde, “U bly dieselfde” (Psalm 102:27)

In ons dae, teenoor al die vorme van Armenianisme, moet dit in besonder beklemtoon word dat God onveranderlik is in Sy liefde en genade. Dit sekerlik nie so dat God iemand in die tyd liefhet maar wanneer hy sterf, Hy hom haat en vir ewig in die hel werp nie!

Hulle vir wie God liefhet het hy onveranderlik en ewig lief. Soos Psalm dit uitdruklik 26 maal stel, “want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.”! Ons word herhaaldelik opgeroep om Jehovah te dank, want “Hy het die Egiptenaars getref … in hulle eersgeborenes (en) Farao saam met sy leër in die Skelfsee gestort … (en) geweldige konings gedood … Sihon, die koning van die Amoriete … (en) Og, die koning van Basan” (10, 15, 17, 18, 19, 20). Waarom? “want sy goedertierenheid is tot in ewigheid”! Daar is geen genade vir Farao, Sihon, Og en hulle afgodsdienstige volke wat Hy vernietig het nie. Jehovah het ewigdurende genade vir Sy uitverkore volk in Jesus Christus, en toon dit deur hulle onboetvaardige vyande te straf.

Romeine 8:38-39 leer baie kragtig dat niks “ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” Nadat nege van die leidende kandidate wat so ’n verskriklike skeiding, wat die “dood” insluit, sou kon bewerk nie, word ‘n soort universele ‘catchall’, “of enige ander skepsel”, bygevoeg. God se liefde is oneindig, onoorwinlik teenwoordig, want ons is vir ewig met Hom verenig! Weereens sien ons dat ons troos is in die waarheid dat ons Verbondsgod “die Vader van die ligte (is), by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” (Jakobus 1:17).

Vir wie het die Allerhoogste lief? Hy het Homself (as die hoogste goed), Sy vleesgeworde geliefde Seun en al sy uitverkorenes in Jesus Christus lief. Hy het ons onveranderlik lief en Hy het ons lief “tot die einde toe”!


(3)

Die God wat self onveranderlik is (Psalm 102:28; Maleági 3:6; Jakobus 1:17) is ook onveranderlik in sy ewige besluit. God se besluit is sy ewige plan of doel met betrekking tot hemel en aarde, engele en mense, en alle skepsele. Dit bevat elke klein besonderheid met betrekking tot die dinge op hierdie planeet, onder hierdie planeet en bo hierdie planeet, want Jehovah “werk [alles] volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11). Soos die Westminster Belydenis dit stel: “God het van alle ewigheid, deur die alwyse en heilige raad van sy wil, vry en onveranderlik beskik wat daar moet geskied” (3:1).

In verband met die ewige besluit van God, Sy allesomvattende plan en doel, verklaar die Heilige Skrif dat dit, soos die Een wat dit ewiglik beslis het, onveranderlik is. Jehovah verklaar, “My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:10). So verwys Hebreërs 6:17 na “die onveranderlikheid van sy raad.” In die woorde van Jakobus 1:17 is daar in sy ewige raad “geen verandering of skaduwee van omkering … nie”.

Die onveranderlike besluit van God sluit Sy soewereine onvoorwaardelike uitverkiesing van sommiges tot saligheid in Jesus Christus en verwerping van ander tot vernietiging in die weë van hulle sondes, in. Wanneer Efesiërs 1:4 oor ons uitverkiesing praat, stel dit dat God “… ons in Hom (Christus) uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld.” As bevestiging van verwerping verwys ons na die “goddelose mense” in Judas 4 “wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel.” Die klassieke Bybelse voorbeeld van uitverkiesing en verwerping is dié van Isak en Rebekka se tweeling, Jakob en Esau. Voordat die twee seuns “gebore was”, dit wil sê voordat hulle “goed of kwaad gedoen het”, ten einde “die voorneme van God” te vervul, was dit sy ewige wil: “Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat” (Romeine 11, 13).

Ingevolge God se soewereine besluit, is die getal uitverkorenes en verworpenes onveranderbaar. Daar is ‘n bepaalde getal “voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is” en ‘n bepaalde getal “voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid” (22-23). Die Westminster Belydenis 3:4 is korrek: “Hierdie engele en mense, so uitverkies en voorbeskik, is besonderlik en onveranderlik daartoe bestem; en hulle getal is so vas en seker dat dit nie vermeerder of verminder kan word nie.”

Die name van die uitverkorenes en die verworpenes is ook onveranderbaar vasgelê. Die name van hulle wat tot verlossing uitverkies is “van die grondlegging van die wêreld” geskryf in die boek van die lewe van die Lam (Openbaring 13:8; 17:8). Aan die ander kant, byvoorbeeld, was Judas altyd in die oë van God “die seun van die verderf”, ‘n kind van die hel (Johannes 17:12).

Die onveranderlikheid van God beteken nie alleen die onveranderbaarheid van Sy ewige raad nie, maar voorsien ons ook van onbetwisbare bewys van die Godheid van Christus. Psalm 102:26-28 word in Hebreërs 1:10-12 met verwysing na ons Here Jesus aangehaal: “U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt, en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.”

Die ewige Seun het nie by Sy vleeswording verander toe Hy ware en volkome mensheid op Homself geneem het nie. Ook is Hy nie deur Sy kruis, toe Hy die verskriklike straf vir die sondes van Sy uitverkorenes gedra het, verander nie. Die kruis is inderwaarheid die mees heerlike manifestasie van die onveranderlikheid van God. Die ewige geregtigheid van Jehovah eis voldoening al is dit met die soendood van Sy eie vleesgeworde Seun. Die oneindige genade van God is onveranderlik, ook sy erbarming vir sy geliefde volk in Jesus Christus, so onveranderlik dat Jehovah nie Sy eie Seun gespaar het nie ((Romeine 8:32).

Hierdie wonderlike Bybelse leer van die onveranderlikheid van God is vir ons tot troos. Eerstens is die verbond van Jehovah onveranderlik, “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer” (Jesaja 54:10).

Tweedens leer Psalm 102:28-29 dat die onveranderlikheid van Jehovah (“Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie”) die voortgang van die kerk waarborg. (“Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan”).

Derdens bewaar die onveranderlike God in sy onveranderlike verbond, nie net sy kerk nie, maar ook elke individuele gelowige. II Timótheüs 2:19 verseker ons dat Jehovah in sy genade elkeen van Sy eie bewaar (“die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is”) en daarom moet ons in dankbaarheid heilig lewe (“Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid”).

Gegewe die onveranderlikheid van onse God, wat is ons roeping? Eerstens, moet nie op enigiets in hierdie wêreld, wat insluit “die onsekerheid van die rykdom” (I Timótheüs 6:17) en wispelturige mense, vertrou nie. Moet nie op prinse vertrou nie (Psalm 146:3) want dit is goed as om op “ ‘n geknakte rietstok” te leun (Jesaja 36:6). “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.” Hoekom? Want “die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (I Johannes 2:15, 17).

Vertrou, in die tweede plek, op die Drie-enige God wat in Jesus Christus ons van die sonde verlos het met Sy bloed van die ewige verbond. Vertrou op Hom vir alle dinge, tydelik en geestelik. Hy is tewens Jehovah, die groot “Ek is wat Ek is”, wat onveranderlik is en daarom altyd getrou aan Sy Woord en beloftes (Jesaja 26:4; Hebreërs 6:11-20).

Derdens, wanneer ons nadink oor, en liefde van, die onveranderlike God, laat ons daarna strewe om self, deur Sy genade, meer standvastig en getrou te wees: nie een oomblik op en die volgende oomblik af nie, nie vandag aangenaam en more ongeskik nie, nie in die oggend vriendelik en geïrriteerd in die aand nie. Laat ons liewer deurgaans dieselfde wees: om altyd God lief te hê met ons hele hart en ons naaste soos onsself. “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here” (I Korinthiërs 15:58). Die onveranderlike God belowe, “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openbaring 2:10).

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons