Ds. Angus Stewart
Die eenheid van die kerk word bely in die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene kerk” (enkelvoud), en dit word geleer in byvoorbeeld Efesiërs 4:4-6: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God …”
Die een kerk van Christus is ‘n lewende organisme (“een liggaam”) met een hoof, Jesus Christus (“een Here”) en een lewende prinsipe, die Heilige Gees (“een Gees”), wat die een Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees (“een God”) aanbid en vereer.
Die diepste grond vir die kerk se eenheid is dat God self een is (“een God”). Daarom is en kan die kerk net een wees en nie twee of meer nie. Die kerk se eenheid was van ewigheid af bepaal deur God, omdat “Hy ons in Hom (d.i. Christus) uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld” (Ef. 1:4). Deur die gang van die wêreldgeskiedenis, roep God al sy uitverkorenes uit die duisternis van die sonde en die vloek in die “een liggaam” van Jesus Christus in. So word al God se kinders geestelik gedoop met “een doop”: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (I Kor. 12:13).
Die Heilige Gees leef in Christus, die Hoof, en daarom ook in gelowiges as sy lede, want “as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie.” Die “een Gees” wat in alle gelowiges is, getuig van die waarheid van God se Woord, en so aanvaar Christene alles wat in God se Woord geopenbaar word in God se heilige Skrif as die waarheid (“een geloof”). Net so deel God se volk “een hoop” en so verlang en bid ons deur die een Gees vir “die verskyning van die heerlikheid … van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Tit. 2:13).
Jesus Christus is die “een Here” van die kerk wat haar besit en volkome gesag oor haar het, want die kerk behoort nie aan haarself nie, maar aan haar getroue saligmaker wat haar gekoop het met sy kosbare bloed. Christus, die enigste Here van die kerk, het haar vrygekoop, roep haar en formeer haar tot “een liggaam,” maak haar lewendig deur “een Gees” en gee aan haar “een geloof”, “een hoop” en “een doop.”
Dit, en dit alleen, is die eenheid van die kerk. Die eenheid van die kerk word nie gevind in kerke wat nie Christus se heerskappy oor alles erken nie, maar wegdraai van die “een geloof” en “een hoop” van die Skrif en ‘n kompromie aangaan met sonde, die wêreld en valse kerke. Ook rus die eenheid van die kerk nie op gemeenskaplike politieke menings of sosiale status nie. Die eenheid van die kerk oorbrug alle aardse verskille: klas, ras, geslag, ouderdom ens., want “waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal” (Kol. 3:11).
Die eenheid van die kerk is ‘n feit. Daarom sê die Gees: “Daar is een liggaam”, nie “Julle moet een liggaam maak nie.” Die eenheid van die kerk word nie deur ons geskep nie, dit is ‘n gawe van God se soewereine genade. Inteendeel, die kerk word opgeroep “om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” (Ef. 4:3). Dit word gedoen deur gelowiges wat die “een geloof,” “een hoop,” “een Here” en “een Gees” liefhet, dit bely en daaraan vashou en deur gelowiges wat met bereidheid en blydskap hul gawes aanwend vir die voordeel en saligheid van die ander lede van hierdie “een liggaam” in “nederigheid,” “lankmoedigheid” en “liefde” (Ef. 4:2).
(Vertaal deur Adi Schlebusch. [email protected] Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)