Ds. Angus Stewart
“En in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodus viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn” (Lukas 3:1-2). Hierdie name dui nie alleen die datum aan van die begin van die openbare optrede van Johannes die Doper nie, maar ook die boosheid van die dae toe sy stem in die woestyn geroep het.
Keiser Tibérius was ‘n goddelose Romeinse keiser (hoewel hy nie die ergste was nie). Die Romeinse oorheersing van die Jode was ‘n oordeel oor hulle sonde. Pontius Pilatus was die bose Romeinse goewerneur van Judea, wat die heilige stad Jerusalem ingesluit het. Dit was hy wat Jesus veroordeel het om gekruisig te word, soos die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis dit uitdruk: dat Hy “gely het onder Pontius Pilatus.”
Herodus (Antipas) en Filippus was twee seuns van Herodus die Grote wat die kind Jesus wou doodmaak (Matthéüs 2:1-20). Dit was Herodus Antipas wat Johannes die doper gevange geneem en tereggestel het (Lukas 3:19-20; Markus 6:14-29), en na wie Jesus verwys het as “daardie jakkals (Lukas 13:32). Herodus het die Here tydens sy verhoor ondervra en bespot (23:8-11). Deur hulle verwerping van die Christus het “Pilatus en Herodus … op daardie dag goeie vriende geword, want hulle was vantevore in vyandskap teenoor mekaar” (12).
Annas en Kájafas word “hoëpriesters” genoem (3:2). Volgens die wet van God mag daar net een hoëpriester op ‘n gegewe tyd wees, want elke hoëpriester moes by sy dood opgevolg word. Die verwysing na beide dié mense as hoëpriester dui op die Romeinse praktyk om dié amp te verkoop, en na die Joodse intriges en sameswerings in verband met die hoëpriesterskap. Annas was in die amp vir nege jaar toe hy sy skoonseun Kájafas as opvolger benoem het. Dit was die konkelaar Kájafas, wat oor die Here gesê het: “dit [is] vir ons voordelig … dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie” (Johannes 11:50; lees ook 18:14). Annas en Kájafas was by die Joodse verhoor van Jesus Christus die leiers (18:13; 19-24, 28) én by die van Petrus en Johannes (Handelinge 4:6).
Beoordeel aan die kerk- en staatsleiers van dié tyd, was die dae van die prediking van Johannes, die bediening van Christus en van die apostoliese kerk, vol boosheid.
In die besonder bose dae wat in Lukas 3:1-2 aangedui word, het Johannes met sy lewensbelangrike bediening begin. Hy het nie ‘n gewone roeping ontvang nie. Hy is as priester gesalf, hoewel sy vader, Sagaria, ‘n priester was. Hy was ook nie ‘n Christelike predikant wat deur ‘n gemeente beroep is en deur handoplegging in die amp bevestig is nie.
Johannes het ‘n buitengewone roeping ontvang. Die engel Gabriël het die roeping van Johannes aan sy vader in die tempel aangekondig nog voordat hy gebore of selfs verwek is (1:13-17). Die Mormonisme maak die valse bewering dat Johannes in sy amp bevestig is toe hy agt dae oud was (Doctrine and Covenants 24:28), maar dit was die dag van sy besnydenis en openbare naamgewing (Lukas 2:59-63). Johannes is deur vervulling met die Heilige Gees sedert die moederskoot (1:15), die godvrugtige onderrig deur Sagaria en Elisabeth in sy ouerhuis, en deur gebed en meditasie in die woestyn toegerus. Daarna het Johannes ‘n direkte en onweerstaanbare profetiese roeping ontvang om met sy openbare bediening te begin.
Sie u hoedat God roep tot ‘n spesiale amp in sy kerk en koninkryk? Diegene aan wie hy die buitengewone (en tydelike ampte) ampte, soos apostel, profeet of wegbereider van die Messias toegedeel het, ontvang ‘n buitengewone roeping. Dié aan wie God die gewone (en permanente) ampte, soos herder en leraar, ouderling of diaken toedeel, ontvang ‘n gewone roeping deur die kerk en die stemming van die lidmate.
Johannes was omtrent dertig jaar oud toe hy met sy openbare bediening begin het (Lukas 1:24-26; lees ook 3:23). Voor dié tyd het hy in die woestyn saam met die wilde diere in afsondering geleef (lees ook Markus 1:13). Toe is hy aan Israel getoon en bekend gemaak (Lukas 1:80).
Groot getalle mense het gekom om te luister na die stem wat roep. Lukas 3:7 praat van ‘n “skare.” Markus 1:5 sê: “ … die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe.” Matthéüs 3:5 voeg by dat “ die hele omtrek van die Jordaan” gekom het om Johannes te hoor preek. Onder die Galilése dissipels van die Doper was ook Andréas, Simon, Filippus en Natánael (Johannes 1:35-51). Allerhande mense was in die skare: belasting-gaarders en soldate (Lukas 3:12, 14), vissers, soos Petrus en Andréas, en selfs Fariseërs en Sadduseërs (Matthéüs 3:7), priester en Leviete (Johannes 1:19).
Kom ons stel ons die gesig voor toe Johannes “in die hele omtrek van die Jordaan” aankom (Lukas 3:3). Dit was ten Noorde van die Dooie See, naby die Jordaanrivier. Hy het van plek tot plek gegaan; plekke wat hy waarskynlik tydens sy jare van afsondering in die woestyn voor sy bediening, opgemerk en geïdentifiseer het (1:80). Die mense uit Jerusalem en die nabygeleë streke van Judea, Peréa en Galilea en uit alle stande; soldate en Sadduseërs, vissermanne en Fariseërs het gekom om hom te hoor preek. Oor baie dae, weke en maande het groot getalle mense, honderde en duisende, ‘n menigte, ‘n “skare” (3:7), saamgedrom om na hom te luister.
Hoe het die bywoning van die bediening van Johannes die Doper vergelyk met dié van die Ou Testamentiese prekende profete ná Samuel? Uit die Bybelse inligting blyk dit dat Johannes die doper deurgaans groter skares getrek het as Jesaja, of Jeremia, of Elia, of Elisa, of Hosea of Joël.
‘n Volgende keer sal ons kyk waarom sulke ongehoorde groot skares in die voorsienigheid van God gekom het om na Johannes die Doper te luister.
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)