Ds. Angus Stewart
Die boodskap van die stem wat roep in die woestyn word opgesom in die profesie van Jesaja 40:3-5 wat in Lukas 3:4-6 aangehaal word: “soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit. Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal ‘n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë. En alle vlees sal die heil van God sien.”
Die beeld is dié van ‘n groot koning wat met sy strydwa na ‘n deel van sy ryk op reis is. Maar die pad is sleg, want dit is krom en stamperig, met baie steiltes en dale. Die pad moet reggemaak word want die koning is op pad. Maak dit gelyk. Mak dit reguit en vul die slaggate!
Wier is die Een wat op pad is? Lukas 3:4 verwys na Hom as die “Here,” dit is Jehovah, wat in Jesaja 40:3 “HERE” genoem word en, “onse God.” Jehovah God is op pad! Dit bewys die godheid van ons Here Jesus Christus, die vleesgeworde Tweede Persoon in die Heilige Drie-eenheid.
In Lukas 3:6 word Hy nie bloot ons Redder genoem nie, maar “die heil van God.” Dit stem perfek ooreen met die aankondiging van die engel Gabriël: “…dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matthéüs 1:21). Jesaja 40:5 juig Hom toe as “die heerlikheid van die HERE.” So word die boodskap van Johannes die doper gefokus op die heerlikheid van God, geopenbaar in Jesus Christus en sy verlossing.
Wat was die opdrag van Johannes die doper? Hy het die volk beveel om die pad vir die komende Koning voor te berei, soos mense wat ‘n pad voor die besoek van ‘n koning regmaak. Hulle moet die weg berei vir Jesus Christus wat Here is, heil van die HERE, Jehova, die heerlikheid van God.
Maar wat beteken dit om die pad vir die Here te berei? Wat is die waarheid wat met hierdie gevallige uitbeelding oorgedra word? Dit word in een woord opgesom: Bekering! Matthéüs 3:2 omvat Johannes se boodskap: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Wat is bekering? In die eerste plek is bekering ‘n grondige verandering in gedagtes en denke oor etiese en heilige dinge. Jy dink nie meer dat jy so ‘n goeie mens is nie, want jy besef sou eie sondigheid. Wat jou werke betref, ontdek jy dat dit nie deugsaam is nie, laat staan nog verdienstelik, wat dit is alles “soos ‘n besoedelde kleed” (Jesaja 64:6). Jy verstaan dat die Almagtige God oneindig heilig is, en nie met Hom laat speel nie. Jy sien dat jou vastigheid nie in die onderhouding van uitwendige godsdienstige voorskrifte of blote kerkbande lê nie. Jy kom uiteindelik tot die aangrypende besef dat jy verdien om in die hel vir jou sonde te vergaan.
Tweedens het ware bekering tot gevolg dat jy, in die woorde van Lukas 3:7, vlug vir die toorn wat aan kom is. Die sondaar word vasgegryp in ‘n vrees vir goddelike oordeel en straf. Hy verlekker hom nie langer in bose houdings, praatjies en optredes nie, maar haat en verafsku sy sondes as boosheid, wat die toorn van God verdien. So draai hy opreg om, weg van sy oortredings, en soek redding en die ewige lewe in die kruis van Christus.
In die derde plek volg daar op ware bekering ook sondebelydenis (Matthéüs 3:6). Jy verskoon nie langer jou sonde nie, maar bely sonde as sonde, wat God se regverdige oordeel verdien. Sondes word met droefheid en leed voor God, en waar nodig, teenoor diegene wat jy met jou sonde veronreg het of voor die kerk bely (Westminster Belydenis 15:6).
Vierdens bring ware bekering goeie vrugte voort. Johannes noem dit “vrugte wat by die bekering pas” (Lukas 3:8). Waar daar bekering is, daar is altyd geloof, want dié twee is onafskeidbaar, jy kan die een nie hê sonder die ander nie. Geloof en bekering is die vrug van wedergeboorte, die nuwe geboorte wat, in die woorde van die Here Jesus, die boom, en dus die vrugte daarvan, goed maak (Matthéüs 7:17-18; 12:33, 35). Hulle wat hulle waarlik bekeer bring goeie vrugte voort: hulle breek met die sonde, hulle leef volgens die beginsel al die gebooie van God, hulle is nederig voor God en mense, hulle doen goeie werke, hulle volhard in die waarheid en hulle ly ter wille van geregtigheid – deur die onweerstaanbare genade van die Heilige Gees. Waar daar nie goeie vrugte is nie, is daar nie ware bekering nie, bloot net huigelary.
Vyfdens is daar ‘n belangrike verband tussen bekering en doop; beide die ware, innerlike doop en die rituele uitwendige doop met water. Dit is die getuienis in Lukas 3:3 oor die doopbediening van Johannes die Doper: “En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig.” Johannes het die innerlike, geestelike doop verkondig, wat die uitverkore volk van God vernuwe sodat hulle onfeilbaar tot bekering gebring word en die vergiffenis van al hulle sondes ontvang. Van hierdie geestelike herskepping en vryspraak is die waterdoop die teken en die seël.
In die dae van Johannes was die koninkryk van God op hande. Daarom het hy mense tot bekering geroep om só voor te berei op die (eerste) koms van Christus. In ons tyd het die koninkryk reeds gekom, met die vleeswording, kruis en oorwinnende êopstanding van Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterdag. Die wat buite die koninkryk is, moet berou hê en hulle bekeer en hulleself nederig maak soos klein kindertjies, om die koninkryk van die hemel in te gaan; terwyl hulle wat reeds burgers van Gods koninkryk is, moet voortgaan op die pad van bekering en geloof (Matthéüs 18:3-4; Kolossense 2:6)!
Die eerste van Martin Luther se Vyf-en-Negentig Stellings is: “Wanneer ons Heer en Meester Jesus Christus sê: ‘Bekeer julle’ (Matthéüs 4:17), is dit sy wil dat die hele lewe van gelowiges ‘n lewe van bekering moet wees.” Dit is, soos ons gesien het, ook die boodskap van Johannes die Doper, en dit is en moet die prediking van die ware kerk vandag wees!
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)